Alumni Digitale Nuusbrief | Uitgawe 1 | Winter 2017

Lun het onlangs die gesogte Global Impact Challenge (GIC) gewen met sy plan om asteroïede vir yster en platinum te ontgin. Die GIC is ’n internasionale wedstryd wat in die vorm van streekswedstryde oor die hele wêreld aangebied word in die soeke na idees wat oor die volgende dekade ’n impak op ’n miljard mense se lewens sal hê. Vanjaar se tema was klimaatsverandering.
 
Wenners van die GIC kry die geleentheid om die nege weke lange program oor wêreldoplossings (GSP) aan die Singularity-universiteit by die Amerikaanse ruimteagentskap NASA se Ames-navorsingsentrum in Silicon Valley te volg. Die program stel deelnemers bloot aan die jongste eksponensiële en vernuwende tegnologieë wat die wêreld ten goede kan verander. Singularity se doel is om die volgende generasie op te voed en toe te rus om die uitdagings van die 21ste eeu die hoof te bied. Dit is betreklik moeilik om tot die GSP toegelaat te word aangesien die program maar sowat 90 mense per jaar inneem.

“Ek was geskok toe ek ontdek dat die wêreld nog net ’n paar dekades se reserwes oor het van heelparty metale waarop ons vir allerhande goed soos masjiene, elektronika en gereedskap staatmaak. Daarsonder sal ons beskawing nie kan funksioneer nie. Asteroïedontginning is die enigste volhoubare manier om die nodige nuwe metaalhulpbronne te bekom. Tog sal ons nie met huidige vuurpylaandrywingstegnologie ál daardie materiaal binne ’n redelike tyd en teen ’n redelike koste kan terugbring aarde toe nie. My idee los dít op deur die asteroïed self as brandstof of, in hierdie geval, metaal te gebruik.”

Lun, wat in Johannesburg gebore is en grootgeword het, sê hy het kleintyd gedroom van ’n toekoms vol ongelooflike uitvindings en ruimteverkenning. Nadat hy ’n graad in meganiese ingenieurswese aan Wits verwerf het, het hy in 2007 ingeskryf vir die satellietontwerpprogram aan die Universiteit Stellenbosch (US), en met die aanvanklike werk begin om een van die eerste plasmastuwers in Suid-Afrika te bou (stuwers word gebruik om satelliete in die ruimte te laat rondbeweeg). Hy het sy MSc in Ingenieurswese in 2009 cum laude aan die US verwerf.
Ná twee jaar in die olie- en gasbedryf het hy hom by die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (SANSA) aangesluit om sy droom na te jaag om ruimtetegnologie te bou. In 2011 het hy voortgegaan met die navorsing waarmee hy aanvanklik by Stellenbosch begin het en na maniere begin soek om die stuwer te verbeter as deel van ’n PhD aan Wits. “Die Internasionale Ruimtevlugfederasie (IAF) het my in 2013 as ’n ontluikende ruimteleier erken. Ek is ná my PhD saam met my gesin terug Stellenbosch toe om as ’n senior meganiese ingenieur te werk by Denel Spaceteq (voorheen SunSpace, die Universiteit se afwentelmaatskappy wat SUNSAT gebou het), waar ek op die oomblik satelliete vir aardwetenskap en -waarneming help ontwerp.”

Hy sê die idee om asteroïedmetaal as brandstof vir ’n “vervoerstelsel vir asteroïedontginning” te gebruik, het by hom opgekom kort nadat hy in 2008 sy aanvanklike MSc-navorsing oor vakuumboogvonkstuwers voltooi het. “Ek het dit vir ’n paar jaar stilweg oordink voordat ek besluit het om alles moontlik oor hierdie bepaalde vuurpylaandrywingstegnologie te wete te kom. Daarom het ek by Wits vir ’n PhD ingeskryf en fasiliteite en verskillende prototipes gebou om die huidige stand van die tegnologie te probeer verbeter. Uiteindelik kon ek ’n klein aandrywingstelsel so groot soos jou hand demonstreer waarmee jy ’n eenvoudige ysterstaaf kan gebruik as brandstof om ’n doeltreffende stuwingstraal teweeg te bring. Die werkverrigting kan by dié van meer gevestigde satellietaandrywingstelsels kers vashou. Daar is nog baie tegniese hindernisse om te bowe te kom, maar die basiese tegnologie is bewys, en toon groot potensiaal,” voeg hy by.

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om die wêreld te verander en dít waarin ek goed is te gebruik tot voordeel van die mensdom. Hierdie wedstryd het perfek ingepas by daardie droom,” sê Lun.

“Ek is passievol oor ruimtetegnologie en die inspirasie wat ruimteverkenning bied om deel te wees van iets groter as onsself. Boonop is ek ongelooflik opgewonde en geëerd om hierdie unieke geleentheid te kon ontvang. Skielik voel die wêreld vol moontlikhede. My vriende, familie en kollegas se ondersteuning is verstommend, en ek hoop ek maak hulle én Suid-Afrika trots.”