Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Die Senaat het op 26 November 2021 die finale konsep van die Taalbeleid (2021) met ’n oorweldigende meerderheid goedgekeur en by die Raad aanbeveel. Ingevolge die Wet op Hoër Onderwys sowel as die US Statuut is die Taalbeleid die enigste beleid wat die Raad met die instemming van die Senaat moet goedkeur. Ook die Institusionele Forum (IF) het twee weke vantevore die finale konsep aanvaar en by die Raad aanbeveel.

"Die hersiene Taalbeleid herbevestig dat die Universiteit Stellenbosch ’n nasionale bate in ’n diverse samelewing is,” het mnr George Steyn, voorsitter van die Raad, gesê. “Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind ons onsself opnuut tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik. Sodoende ontgin ons die intellektuele rykdom wat in ons taaldiversiteit opgesluit lê."

Toegang en sukses

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, onder wie se portefeulje die Taalbeleid ressorteer, het die Raad se besluit verwelkom.

"Die US stel billike toegang en studentesukses hoog op prys, en daarvoor is taal van die allergrootste belang,” het hy gesê. “Ons hersiene Taalbeleid sal studentesukses ondersteun, want dit skep ’n bevorderlike onderrig- en leeromgewing – sowel binne as buite die klaskamer, in studentegemeenskappe en in sosiale ruimtes."

Sosiale kohesie op kampus

Prof Ramjugernath het bygevoeg: “Ek is vas oortuig daarvan dat meertaligheid ons ook sterker sosiale kohesie op kampus kan help bou. In plaas daarvan om ons te verdeel, kan taal gebruik word om verhoudings te bou en onderlinge begrip te skep.

"Ons respekteer taalregte en glo dat ons studente meer keuses, beter toegang en ’n blinker toekoms het as gevolg van die benadering wat in ons Taalbeleid gevolg word."

Meertaligheid

"Wanneer ons van meertaligheid praat, gaan dit oor institusionele en individuele meertaligheid, maar ook oor meertaligheid as ’n manier om inklusiwiteit en ’n waardering vir die waarde van diversiteit te bevorder,” het prof Ramjugernath verduidelik. “Meertaligheid strek verder as die skep van ruimtes en strukture om verskillende tale in akademiese, administratiewe en sosiale omgewings te gebruik, of individue se bereidheid om verskillende tale aan te leer. Dit gaan ook oor ’n gesindheid, ’n ingesteldheid, wat ons graag by ons instelling wil kweek."

Die Taalbeleid van 2021 beskryf die voordele van hierdie benadering soos volg: "Meertaligheid rus studente toe om ’n groter en meer diverse kundigheidsbasis te ontgin; om met die samelewing om te gaan op ’n manier wat tot die hart spreek, en nie net tot die verstand nie; om dinamiese beroepslui te wees wat beter daartoe in staat is om probleemoplossings-, luister- en interpersoonlike vaardighede aan die dag te lê, en afgeronde individue wat ingeligte besluite kan neem op grond van meer as net hulle eie denke."

Behoorlike proses

Aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 die US Taalbeleid van 2016 as grondwetlik verklaar het, het die taakgroep vir die hersiening van die Taalbeleid daardie beleid as uitgangspunt gebruik. Die taakgroep het uit verteenwoordigers van ál tien die US se fakulteite en sy professionele en administratiewe steundienste sowel as studenteverteenwoordigers bestaan, en tegniese kenners is na gelang van behoefte gekoöpteer.

Uitgebreide oorlegpleging

Die taakgroep het vroeg vanjaar die eerste konsep- hersiene beleid opgestel en dit in Maart/April 2021 vir openbare oorlegpleging uitgereik. Die eerste konsep en die reaksieverslag van alle kommentaar wat ontvang is, is daarna aan die Rektoraat, fakulteitsrade, die Senaat, die IF en die Raad vir terugvoer voorgelê.

Ná oorweging van alle kommentaar het die taakgroep ’n tweede konsep opgestel, wat in Julie/Augustus vir openbare oorlegpleging beskikbaar gestel is. Die tweede konsep en nóg ’n reaksieverslag met kommentaar wat in die tweede oorlegplegingsfase ontvang is, is in September aan die Rektoraat, fakulteitsrade, die Senaat, die IF en die Raad voorgelê.

Vervolgens het die taakgroep die derde en finale konsepweergawe van die Taalbeleid van 2021 voltooi om dit in November aan die IF en Senaat, en vandag vir finale oorweging en goedkeuring aan die Raad voor te lê. Die finale konsep het ook in Oktober en November voor die onderskeie fakulteitsrade gedien.

Die US het wyd oor alle konsepweergawes van die voorgestelde Taalbeleid oorleg gepleeg – die jaar lange hersieningsproses het altesaam 24 vergaderings ingesluit – en die taakgroep het alle kommentaar oorweeg.

Beleidsbepalings

Die beleid maak voorsiening vir die gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa in leer en onderrig aan die US én in kommunikasie (sien hooftrekke hieronder). Dit beskryf ook die mate waarin elke taal in verskillende omstandighede gebruik behoort te word.

Leer en onderrig

Afrikaans en Engels word as die US se primêre leer- en onderrigtale aangewys, maar transtaligheid in veelvuldige tale word aangemoedig om leer te ondersteun en te verryk. IsiXhosa as akademiese taal sal besondere aandag geniet met die doel om dit na gelang van studentebehoeftes geleidelik in verskeie dissiplines bekend te stel, waar dit redelikerwys doenlik is.

Kommunikasie

Alle amptelike interne kommunikasie – d.w.s. kommunikasie van die Kanselier, Raad, Senaat, Rektor of ’n ander topbestuurslid aan die hele Universiteit – sal in Afrikaans, Engels en isiXhosa wees. Ook vir eksterne kommunikasie word Afrikaans, Engels en, waar dit redelikerwys doenlik is, isiXhosa gebruik. Daarbenewens moet die taal wat in studentegemeenskappe (koshuise en privaatstudenteorganisasiewyke) gebruik word almal insluit en in staat stel om deel te neem.

Implementering

Die hersiene beleid gee uitvoering aan die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat betref taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste.

Die Taalbeleid maak voorsiening vir meganismes om akademiese toesig, doeltreffende bestuur en behoorlike oorsigbestuur ten opsigte van taalimplementering te verseker. Dít vind plaas binne ’n raamwerk wat fakulteite in staat stel om taalimplementeringsplanne op te stel en prosedures te ontwikkel vir verantwoordbaarheid en verslagdoening aan tersaaklike strukture.

Die US Taalsentrum sal steun verleen, en die beleid beskryf ook terugvoer-, monitering- en konflikbeslegtingsmeganismes, wat klagteprosedures insluit.

Noudat die Raad die hersiene US Taalbeleid goedgekeur het, sal dit met ingang van Januarie 2022 in werking tree.

 

Belangrike dokumente

Die volgende kerndokumente is onder meer op die US se toegewyde taalwebblad by www.sun.ac.za/taal te kry:

  • Taalbeleid (2021) (in Afrikaans, Engels en isiXhosa)
  • Inligtingsgrafika wat die Taalbeleid (2021) visueel saamvat
  • Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016)
  • Hoofopinie oor die regsgeldigheid van die voorgestelde Taalbeleid 2021
  • Aanvullende opinie oor regsgeldigheid van finale konsepweergawe van Taalbeleid (2021)

Lees meer oor die hersiening van die Taalbeleid.