Gereelde vrae

Wat doen Fasiliteitsbestuur?

Die Divisie Fasiliteitsbestuur bied fasiliteite en dienste aan die Universiteit Stellenbosch. Dit behels Eiendomsdienste, Fasiliteitsdienste, Risikobestuur en Kampussekuriteit, Projekbestuur, Beplanning en Ontwerp, en Ontwikkelingsbeplanning en Ruimtebestuur.

Wat gebeur as ek die hulptoonbank skakel om hulp te vra?

Jou aangemelde versoek(e) word op ons fasiliteitsbestuurstelsel geregistreer om die monitering van die versoek en die gehalte van die reaksie te verseker. Die dienstoonbankpersoneel verwys dit na die betrokke departement, waarna die toepaslike fasiliteitsbestuurder die nodige reaksie op jou versoek koördineer.

Wat moet ek doen as ek ontevrede is met die diens wat ek van die hulptoonbank ontvang het?

Skakel asseblief ons Bestuurder: Hulptoonbank, Louis Fincham, by 021 808 9407 of stuur 'n e-pos na laf@sun.ac.za

Wat is die veiligste roete op kampus?

Bosman- en Victoriastraat is die veiligste opsies vir stap of fietsry op kampus. Dié strate word 24 uur 'n dag deur die kampus se sekuriteitsbeamptes gepatrolleer en is snags goed verlig.

Wat is gedoen om die Stellenbosch-kampus veiliger te maak?

Geen eksamens en toetse word meer saans afgelê nie. Daarbenewens is 'n begeleidingsdiens vir voetgangers ingestel en 'n mobiele sekuriteitskantoor is saans in uitgesoekte gebiede werksaam. 'n Omvattende netwerk van straatkameras en die gebruik van tegnologie sorg vir beter monitering van sekuriteit.

Bykomende voertuie word vir patrollies gebruik en die getal wagte op die voorkeurroetes van Bosman- en Victoriastraat is verdubbel. Motorfietse patrolleer die hoofroetes op en rondom die kampus, en verhoog sodoende die sigbaarheid van wagte.

Sekuriteitsones (soos die een op die Rooiplein) is geskep, en bewusmakingsveldtogte en aktiewe vennootskappe met die SAPD, Stellenbosch Munisipaliteit en die sekuriteitsgemeenskap in Stellenbosch help om veiligheid na die breër Stellenbosch-dorpsgebied uit te brei.

Wat gebeur in die geval van 'n brand op kampus?

Fasiliteitsbestuur monitor en reageer op alle brandalarmstelsels op kampus, en ondersteun ook die Universiteit met die opstel en implementering van noodontruimingsplanne. Fasiliteitsbestuur stuur die eerste reaksie in die geval van enige brand uit. As deel van beroepsgesondheid- en veiligheidsdienste, kontrakteer die divisie ook kundiges om gereelde oudits oor brande te doen.

Wat doen Fasiliteitsbestuur om beroepsgesondheid en -veiligheid op kampus te verseker?

Ons divisie sorg dat gereelde oudits oor beroepsgesondheid in US-geboue en die omgewing uitgevoer word. Fasiliteitsbestuur dien ook as 'n adviseur en ondersteun alle US-omgewings om ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid aan wetlike vereistes te voldoen. Dit behels onder meer veiligheidsaanstellings, noodplanne en die toepassing van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid tydens groot geleenthede.

Ons afdeling koördineer ook kursusse in noodhulp, brandbestryding, die pligte van 'n veiligheidsverteenwoordiger, en voorvalle vir personeel en studenteleiers wat aan die verskillende veiligheidskomitees op kampus behoort.

Wat doen die fasiliteitsbestuurders?

Die fasiliteitsbestuurders is die toegangspunte vir gesprekke oor versoeke en uitdagings, nadat dit by die hulptoonbank geregistreer is. Elkeen bestuur 'n bepaalde portefeulje waarin hulle die dienste van Fasiliteitsbestuur moet koördineer, met kliënte oorleg pleeg en kommunikeer, en gehalte moet monitor.

Die fasiliteitsbestuurders vir die onderskeie areas is soos volg:

Malan Oosthuizen
Fasiliteitsbestuurder: Stellenbosch-hoofkampus
021 808 4658
malan@sun.ac.za

Charmaine Klein
Fasiliteitsbestuurder: Stellenbosch-sportfasiliteite
021 808 4717
cpk@sun.ac.za

Trevor Hoeben
Fasiliteitsbestuurder: Woonplekke
021 808 3775
th2@sun.ac.za

Sanel Barnardo
Fasiliteitsbestuurder: Stellenbosch-kampus
021 808 9357
sds@sun.ac.za

Adri Rossouw
Fasiliteitsbestuurder: Bellville Park-kampus
021 918 4213
ar1@sun.ac.za

Hoe "groen" is die geboue op kampus?

Omgewings- en ekologiese volhoubaarheid word tydens die beplanning en spesifikasie van fasiliteite altyd binne die konteks van die Kampusmeesterplan in ag geneem. Waar moontlik word boumateriaal en -metodes met inagneming van omgewingsoorwegings gekies. Geboue word ontwerp om, indien moontlik, voordeel te trek uit natuurlike temperatuurbeheermeganismes. Die Polimeer-, Fasiliteitsbestuur- en IT-gebou op die Stellenbosch-kampus maak byvoorbeeld van plantegroei en spesiale skerms gebruik om die hittelas in geboue te verminder. Natuurlike bronne, soos bome, word op strategiese plekke aangeplant om die geboue se hitte-eilande te beperk.

Watter inisiatiewe het Fasiliteitsbestuur van stapel gestuur om water te bespaar?

Waterbesparende stortkoppe en toiletspoelstelsels is op alle kampusse geïnstalleer. Gryswater word herbruik, waar moontlik.

Tuine en sportvelde word volgens 'n beperkte kwota met niedrinkbare water uit damme en riviere besproei. Besproeiing vind grotendeels saans plaas om waterverlies deur verdamping te verminder. (Dit vind nie tans plaas nie weens waterbesparingsregulasies.) Waterdeurdringbare plaveisel word gebruik sodat reënwater die grond kan penetreer en die ondergrondse waterdraers kan hervul.

Wat doen Fasiliteitsbestuur omtrent die verkeersopeenhoping op kampus?

Die Universiteit het 'n oorkoepelende Mobiliteitsplan ontwikkel wat studente en personeel aanmoedig om saamryklubs of openbare vervoer te gebruik om na parkeergebiede net buite die kampus te reis; van daar af kan hulle te voet of per fiets of pendelbus wat deur die Universiteit voorsien word, na die kampus reis. Studente en personeel kan spesiale Matie-fietse by die Universiteit huur om op kampus te gebruik.

Hoe word plaagbeheer op kampus hanteer?

Eiendomsdienste tref reëlings om deur middel van veilige en verantwoordelike metodes sover moontlik 'n plaagvrye kampus te verseker. Daarbenewens word uilneskaste in samewerking met plaaslike belanghebbendes op kampus geïnstalleer om uile na die gebied te lok en sodoende die knaagdierbevolking te help beheer. Roofvoëls, voëlnette en ultrasoniese toestelle word vir die doeltreffende beheer van ander skadelike voëlspesies op die kampus gebruik.

Hoe word energie op kampus bespaar?

Hittepompe vir waterverwarming is reeds by die meeste koshuise geïnstalleer. Gloeilampe in geboue word tans met energiebesparende gloeilampe vervang. Daarbenewens is sensors wat ligte slegs aanskakel wanneer daar beweging is, in ses geboue op die Stellenbosch-kampus, in die hysbakke van die hoofgebou op die Tygerberg-kampus en in een gebou by Bellville Park-kampus geïnstalleer.