Bewaring

Oortollige voertuie en verkeersopeenhoping op kampus lei tot baie hoë vlakke van skadelike koolstofdioksiedgasse. In reaksie hierop het die Universiteit 'n oorkoepelende Mobiliteitsplan ontwikkel wat studente en personeel aanmoedig om saamryklubs of openbare vervoer te gebruik om na parkeergebiede net buite die kampus te reis; van daar af kan hulle te voet of per fiets of pendelbus na die kampus reis. Studente en personeel kan spesiale Matie-fietse by die Universiteit huur om op kampus te gebruik.

Uilneskaste word in samewerking met plaaslike belanghebbendes op kampus geïnstalleer om uile na die gebied te lok en sodoende die knaagdierbevolking te help beheer.

Roofvoëls, voëlnette en ultrasoniese toestelle word vir die doeltreffende beheer van ander skadelike voëlspesies op die kampus gebruik.

Die rehabilitasie van paaie en verweerde areas op die berggebiede rondom Stellenbosch maak dit moontlik dat reënwater na damme gekanaliseer word. Ou bome en takke in bloekomplantasies word uitgedun en vir die herstel van staproetes en bergfietsroetes gebruik. Die bewaring van die berggebied word in samewerking met die Departement Bos- en Houtkunde bestuur.

Spesiale boomplant-inisiatiewe word van tyd tot tyd geïmplementeer.