Waterbesparing

Fasiliteitsbestuur is betrokke by die oprigting van spesiale waterstasies op kampus waar studente vars water kan drink. Die gebruik van gebottelde water word ontmoedig aangesien dit drie tot vyf liter water gebruik om een liter gebottelde water te produseer. Die bottels genereer ook plastiese afval.

Waterbesparende stortkoppe en toiletspoelstelsels is op alle kampusse geïnstalleer. Gryswater word herbruik, waar moontlik.

Tuine en sportvelde word volgens 'n beperkte kwota met niedrinkbare water uit damme en riviere besproei. Besproeiing vind grotendeels saans plaas om waterverlies deur verdamping te verminder. (Dit vind nie tans plaas nie weens waterbesparingsregulasies.) Waterdeurdringbare plaveisel word gebruik sodat reënwater die grond kan penetreer en die ondergrondse waterdraers kan hervul.