Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

'N OPLEIDINGSPLATFORM WAT GRENSE OORBRUG

Wilma Stassen

FGGW is gerat om SA se komplekse gesondheidsbehoeftes aan te pak

Die kampus self is dalk agter die Tygerberg-hospitaal weggesteek, maar die kliniese reikwydte van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) strek verder as munisipale, distriks- en selfs provinsiale grense om ons land se reeks komplekse gesondheidsbehoeftes te omvat.

Voorgraadse geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente ontvang kliniese opleiding by bykans 120 verskillende fasiliteite in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap. Hierdie groot netwerk van kliniese opleidingsfasiliteite, bekend as die FGGW se Verspreide Opleidingsplatform (VOP), stel dokters, verpleegkundiges, dieetkundiges, fisioterapeute, arbeidsterapeute en spraak-, taal- en gehoorterapeute bloot aan die verskeidenheid van kliniese omgewings wat hulle tydens hul loopbane as gesondheidsorgwerkers kan teëkom.

“Ons kurrikulums is in ooreenstemming met die land se behoeftes en ons graduandi is toegerus met die stel vaardighede wat hulle nodig het om te voldoen aan die regering se strategiese voorneme om gesondheidsorgdienste aan die mense van Suid-Afrika te verskaf,” verduidelik dr Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak van die FGGW.

Kliniese opleiding van FGGW-studente word oor die hele reeks gesondheidsorgfasiliteite versprei en bied elke vlak van sorg ­ van moderne private hospitale en groot provinsiale hospitale in stedelike gebiede tot basiese primêresorgklinieke en rehabilitasiefasiliteite in landelike gebiede.

Volgens prof Julia Blitz, die FGGW se Vise-dekaan: Leer en Onderrig, moet die leergeleenthede wat aan studente gebied word, hulle voorberei vir die regte wêreld waarin hulle ná hul gradeplegtigheid gaan praktiseer – wat die hele omvang van gesondheid in die land behels.

Gesondheidsorg is nie tot ʼn enkele fasiliteit beperk nie en daarom kan gesondheidsorgopleiding ook nie wees nie. ʼn Pasiënt se siektereis volg ʼn versorgingspad wat by ʼn primêregesondheidsorgfasiliteit begin en vandaar word die leer geklim namate die siekte vorder en behandeling meer gespesialiseerd raak.

“Ons wil hê ons graduandi moet die ‘sorgpaaie’ vir die bestuur van verskeie siektes verstaan,” sê Fish. “Ons kurrikulums is gegrond op die maatskaplike determinante van gesondheid en ons wil hê ons studente moet beide die maatskaplike en gesondheidsverwante faktore van siektes verstaan.”

“Die VOP bied aan studente die geleentheid om nader aan die gemeenskappe waar hulle pasiënte vandaan kom opgelei te word en om ʼn beter begrip te verkry van die pasiënte se konteks en omstandighede, wat die oorsaak van hul siekte kan wees,” verduidelik prof Ben van Heerden, voormalige koördineerder van die MBChB-program.

Volgens Blitz is die stukrag van die VOP om aan die gesondheidsektor se menslikehulpbronbehoeftes te voldoen. “Die gesondheidstelsel het klinici nodig wat oor ʼn breë spektrum opgelei is om die omvang van die land se gesondheidsbehoeftes te verstaan,” sê sy.

Van Heerden stem saam dat die breër blootstelling studente beter vir die werkomgewing voorberei. “Hulle kry ʼn beter begrip van hoe die gesondheidstelsel en sorgvlakke in die stelsel werk en watter uitdagings daar in die stelsel is,” sê hy.

ʼn Groot provinsiale hospitaal soos Tygerberg hanteer baie komplekse mediese gevalle wat verwys is deur distriksfasiliteite wat nie toegerus is om gevorderde gevalle te hanteer nie. As dit al is waaraan studente blootgestel word, kan dit ʼn skewe beeld van siektes by hulle skep. “Mediese studente op ʼn ortopediese rotasie moet byvoorbeeld weet hoe om ʼn ontsteekte gewrig of klein fraktuur te behandel, en nie net gebreekte bene wat deur ʼn geweerskoot veroorsaak is nie,” sê Fish.

As studente se kliniese blootstelling tot ʼn enkele, sentrale gesondheidsorgfasiliteit beperk word, beteken dit voorts dat groot groepe studente by saalrondes ingepas moet word, wat die individuele aandag kan beperk wat hulle van opleiers ontvang. Die verspreiding van studente oor ʼn paar sentrums haal die druk van sentrale fasiliteitshulpbronne af en bied studente meer individuele aandag. “Studente sê hulle voel soos ʼn vlieg teen die muur gedurende groot saalrondes, maar by een van die afgeleë fasiliteite is hulle dalk een van slegs twee studente saam met ʼn konsultant, ʼn verpleegster en ʼn mediese beampte, en voel hulle is deel van die span,” verduidelik Fish.

Gesondheidsorgfasiliteite baat by studente-opleiding

Die plasing van studente by gesondheidsorgfasiliteite kan ook ʼn positiewe impak op die vlak van sorg by die fasiliteit hê. In die opleidingsproses kan gesondheidsorgwerkers se eie vaardighede opgeskerp word en onderwysers knap dikwels hul eie kennis op om nuuskierige studente se vrae te kan beantwoord. Opleidingsentrums word voorts deur dokters en ander kundiges van die sentrale fasiliteite ondersteun.

“Die idee om studente oor die spektrum van fasiliteite heen te plaas is ook ʼn manier om gesondheidsorg oor die hele stelsel te verbeter, en nie net by een of twee sentrale fasiliteite nie,” sê Blitz.

Deurlopende programhernuwing

Alle voorgraadse kurrikulums word deurlopend bygewerk om op die hoogte te bly van vordering in gesondheidsorg, asook ontwikkelings in onderwys en leer. “Jy moet die program deurlopend meet aan wat jou graduandi oor ʼn paar jaar sal moet kan doen en sorg dat jy voor bly,” sê Blitz.

Die MBChB-program ondergaan tans vernuwing om die kurrikulum verder met die land se gesondheidsbehoeftes in lyn te bring. 

Dié bygewerkte kurrikulum sal na verwagting in 2021 uitgerol word en sal nuwe tendense in gesondheidsberoepe-onderwys (GBO) vervat, waarvan een sal behels om studente in ʼn vroeë stadium aan pasiënte bloot te stel. Hoe gouer studente hul studies in die konteks van ware pasiëntsorg kan toepas, hoe makliker is dit vir hulle om te leer,” sê Blitz, wat die MBChB-hernuwingsproses gelei het.

Interprofessionele leer

Nog ʼn tendens in GBO wat FGGW-programbestuurders in die kurrikulums probeer inkorporeer, is interprofessionele leer – waar studente uit verskillende programme/dissiplines saamwerk. Groter interprofessionele onderwys en samewerkende praktyk is ook aanbeveel in ʼn onlangse ASSAf-verslag oor GBO – sien afdeling oor Strategiese Oogmerk van die VOP, bl.??).

“Kom ons neem ʼn beroertepasiënt as voorbeeld,” verduidelik Fish. “Dit bied leergeleenthede vir studente van spraak-, taal- en gehoorterapie, menslike voeding, geneeskunde en verpleegkunde. Interdissiplinêre opleiding help hulle om die rol van verskillende beroepe te verstaan, asook hoe hulle kan saamwerk om die pasiënt te help.”

Een van die hoofuitdagings van interprofessionele opleiding was vir die verskillende programme om kliniese rotasies by spesifieke fasiliteite te koördineer om vir gekombineerde aktiwiteite voorsiening te maak. Die onderskeie voorgraadse programme het tot dusver die plasing van hul studente behartig deur van afsonderlike bestuurstelsels gebruik te maak. Die Fakulteit het onlangs ʼn doelgemaakte aanlyn platform, bekend as Placement+, in werking gestel. Dit bestuur die kliniese plasing van studente oor alle programme heen en kan sinergie tussen programme identifiseer waar interdissiplinêre opleiding kan plaasvind (meer oor Placement+ op bl. ??).

Steun vir studente wat ver van die kampus is

Geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente begin tans in hul tweede jaar met kliniese rotasies en dit neem gedurende die daaropvolgende studiejare toe. Dit wissel van kort besoeke aan ʼn hospitaal tot rotasies van vier tot ses weke en, in sommige gevalle, selfs ʼn jaar lange verblyf by ʼn spesifieke terrein. Studente op kliniese rotasie in en om Kaapstad word met pendeldienste tussen die kampus en die gesondheidsorgfasiliteit vervoer, terwyl studente op rotasie buite Kaapstad vir die duur van hul kliniese opleidingsblok in akkommodasie bly wat deur die US gereël word.

“Ongeag waar hulle is, bly hulle ons studente en is hulle steeds deel van ons kurrikulums,” sê Blitz. Die US verskaf etlike logistieke en ander steundienste aan studente op rotasie weg van die kampus. Die FGGW het ʼn spesifieke eenheid, bekend as SUNLOC (Universiteit Stellenbosch-logistiek vir die Kliniese Opleidingsplatform), tot stand gebring om vervoer, akkommodasie en IKT-steun aan studente te bied wat opleiding weg van die kampus ondergaan (meer oor SUNLOC op bl. ??).

Akademiese steun by afgeleë terreine word onder andere verskaf deur gesondheidsorgberoepslui wat deur die US as lektore geakkrediteer is. Studente het e-postoegang tot lektore, asook aanlyn toegang tot potgooie van lesings en ander studiemateriaal.

Studente-leersentrums is gevestig by sommige terreine waar studente lang tydperke deurbring. Hierdie sentrums, waar studente toegang het tot rekenaars, die internet en ander hulpbronne wat met hul studies kan help, is in Ceres, Upington, Helderberg en Hermanus.

Ondanks heelwat vooruitgang bly betroubare internettoegang ʼn uitdaging, veral by baie verafgeleë terreine. Maar die US werk aan oplossings om aan sulke studente presies dieselfde geleenthede via virtuele platforms te bied as wat studente op die Tygerberg-kampus geniet.

Longitudinale plasing

Die US was die eerste Suid-Afrikaanse universiteit wat mediese studente vir hul volle finalejaar-rotasie by ʼn landelike terrein geplaas het (die Worcester Landelike Kliniese Skool), en het tans jaar lange longitudinale plasings vir finalejaarstudente by hospitale in Worcester, Ceres, Robertson, Hermanus, Upington en Swellendam.

Die FGGW se menslike voeding- en arbeidsterapieprogramme was ook die eerste om jaar lange plasings in Worcester aan te bied en bykans alle programme het plasings van ses en vier weke in Worcester of Upington.

“Die idee agter longitudinale plasing is om studente vir ʼn tydperk in ʼn plek te laat wortel skiet, sodat hulle soos ʼn deel van die span voel. Die waarde daarvan vir studente is dat dit hulle help om hul identiteit as ʼn professionele gesondheidswerker te ontwikkel, asook om die oorgang na meer onafhanklike kliniese sorg te maak,” verduidelik Blitz.


Strategiese oogmerk van die VOP

Die FGGW se VOP is op die strategiese visie van die Universiteit en die Fakulteit gegrond en is gerig op die uitkomste wat deur die nasionale Departement van Gesondheid vereis word en wat ten doel het om die gesondheidsbehoeftes van die land aan te pak.

Die beweegrede vir die VOP word deur drie sleutel- strategiese temas van die US ondersteun: (1) om ʼn transformerende studente-ervaring aan studente te bied; (2) om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke te skep en (3) om ʼn netwerk van samewerkende onderwys en leer te bied.

ʼn 2018-verslag van die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) het ʼn spesifiek beroep gedoen vir die versterking van gesondheidsberoepe-onderwys (GBO) vir toepassing in landelike en swak bediende areas. Die verslag, “Reconceptualising Health Professions Education in South Africa”, is saamgestel deur ʼn paneel van GBO-kundiges onder leiding van prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, om die land se GBO-uitdagings te ondersoek en aanbevelings te doen om die kwessies aan te pak.

In 2017 het die FGGW se Komitee vir Voorgraadse Onderwys ʼn taakspan aangewys om alle VOP-aktiwiteite te bekyk en aanbevelings vir verbetering en uitbreiding te doen. In 2018 het die taakspan ʼn omvattende verslag oor VOP-aktiwiteite geproduseer en aanbevelings gedoen wat deur die Fakulteitsraad aanvaar is. Daarna het die FGGW ʼn VOP-komitee aangewys om oor opleidingsterreine toesig te hou en opleidingsaktiwiteite op hierdie platform te fasiliteer. ʼn Sentrale aanlyn stelsel is ook ontwikkel om alle VOP-aktiwiteite op ʼn enkele platform te konsolideer (sien meer oor Placement+ onder).


UKWANDA

Die FGGW het die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid in 2001 tot stand gebring om opleidings- en navorsinginisiatiewe te koördineer in landelike gebiede wat swak bedien word. Die doel van die sentrum is om gesondheidsorgberoepslui toe te rus met vaardighede en ervaring om hulle te help om die uitdagings aan te pak wat landelike gemeenskappe in Suid-Afrika in die gesig staar. “Landelike gemeenskappe, wat 35% van Suid-Afrika se bevolking uitmaak, word oor die algemeen swak bedien,” verduidelik prof Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid. “Die sentrum is ʼn voertuig waardeur die FGGW sy verbintenis tot die aanpak van die landelike gesondheidsorgbehoeftes van Suid-Afrikaners demonstreer en dryf.”

Die Ukwanda Landelike Kliniese Skool is ʼn onderafdeling van die Sentrum en is verantwoordelik vir die plasing en opleiding van voorgraadse studente in landelike gebiede in Worcester, die Overberg en die Kaapse Wynlande.

Ukwanda het onlangs sy portefeulje na die Dr Harry Surtie-hospitaal in Upington in die Noord-Kaap uitgebrei. In 2019 het vier mediese studente in hul finale jaar ʼn aangepaste longitudinale geïntegreerde model-program (LIM) daar voltooi. “Hierdie student word deur plaaslike gesondheidsorgpersoneel opgelei en deur konsultante van die Tygerberg-kampus en die span van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid ondersteun,” sê Couper. Die afdelings Arbeidsterapie en Fisioterapie het ook begin om studente vir vier- en sesweekrotasies soontoe te stuur. “Die plan is om in 2020 na langer longitudinale programme oor te skakel, en spraak-, taal- en gehoorterapiestudente sal ook moontlik by die program aansluit,” sê Couper.


Vennootskappe met die private sektor

Sedert 2014 het ʼn klomp vierde- en vyfdejaar mediese studente van die FGGW ook hul kliniese plasings van vier weke in interne geneeskunde by privaatsektorhospitale gedoen.

“Hierdie ervaring gee studente ʼn goeie idee van geneeskunde in die openbare én private sektore en wat die voor- en nadele in albei omgewings is. Dit verseker dat studente goed afgerond is teen die tyd dat hulle gradueer,” sê prof Rafique Moosa, uitvoerende hoof van die Departement Geneeskunde van die FGGW, wat die projek geïnisieer het.

Die projek is intussen by talle hospitale van die Mediclinic-groep uitgerol en in 2019 het die Melomed-groep ook daarby ingeval. Die fasiliteite en opleidingsdokters word deur die US geakkrediteer voor studente daar geplaas word.

Volgens Moosa was die terugvoering van studente, dokters en pasiënte oorweldigend positief. Studente het die private fasiliteite en die een-tot-een-interaksie met dokters geniet, terwyl pasiënte die bykomende aandag van studente waardeer het. Die dokters wat betrokke was, sê hulle het dit geniet om die studente te mentor en dat dit hulle genoop het om hulle eie kennis op te knap sodat hulle studente se vrae kon beantwoord.

Menslike voedingstudente doen ook al reeds etlike jare hul voedseldiensterotasies van agt weke by private hospitale.


Placement+

Die FGGW het ʼn sagtewareprogram bekend as Placement+ ontwikkel om die plasing van alle voorgraadse studente in die Fakulteit te bestuur. “Ons het ʼn doelgemaakte platform ontwikkel wat spesifiek op die behoeftes van ons Fakulteit en die Suid-Afrikaanse konteks gerig is,” sê mnr Stefan Engelbrecht, Adjunkdirekteur: Sakebestuur van die FGGW.

Studenteplasings is voorheen deur elke akademiese program op individuele bestuurstelsels behartig. Dit is nou op ʼn sentrale platform gekonsolideer, wat die plasingsproses outomatiseer en sinergieë tussen programme kan vind.

Benewens die aanlyn platform waar studenteplasingsdata deur Fakulteitspersoneel vasgelê en bestuur word, kan studente ook deur ʼn selfoontoepassing toegang tot die stelsel verkry. Dit wys vir hulle waar die gesondheidsorgfasiliteit geleë is waar hulle hulle rotasie gaan doen en kan selfs in reële tyd aanwysings na die fasiliteit verskaf.

“Hierdie sagteware sal ons Fakulteit in staat stel om na die volgende vlak met die plasing van studente te beweeg wat betref data-ontleding en kommunikasie aan studente – dit verander die wyse waarop die Fakulteit funksioneer,” sê Engelbrecht.


SUNLOC

Die Universiteit Stellenbosch-logistiek vir die Kliniese Opleidingsplatform (SUNLOC) verskaf logistieke steun aan FGGW-studente op die VOP. Die dienste sluit in vervoerfasilitering met pendeldienste en die voorsiening van voertuie, die reël van huisvesting by afgeleë terreine en steun met inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT).

“Die SUNLOC-span keur alle studente-huisvesting om seker te maak dit is veilig en gerieflik om studente se verblyf weg van die kampus so gerieflik moontlik te maak,” sê me Georgenia Stam, Bestuurder: Kliniese Opleidingsplatform.

SUNLOC is ook in gereelde kontak met studente wat in transito of op rotasies by verafgeleë terreine is, en is beskikbaar in geval van enige voorvalle.

 

'Ons kurrikulums is in ooreenstemming met die land se behoeftes en ons graduandi is toegerus met die stel vaardighede wat hulle nodig het om te voldoen aan die regering se strategiese voorneme om gesondheidsorgdienste aan die mense van Suid-Afrika te verskaf.’ – Dr Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak

 

Foto-erkenning: Nardus Engelbrecht en Stefan Els