Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

GESONDHEIDSGELYKHEID DEUR CHIRURGIE

Carine Visagie

Nuwe sentrum fokus op toegang tot veilige, bekostigbare sorg

Prof Kathryn Chu, wat onlangs as professor in globale chirurgie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se nuwe Departement Globale Gesondheid aangestel is, het ’n passie om chirurgiese sorg te verbeter.

Chu het in Amerika grootgeword, waar sy aan van die land se voorste universiteite en akademiese hospitale gestudeer en gewerk het. Tóg het sy gekies om na die suidpunt van Afrika te verhuis en innoverende gesondheidsorgoplossings te skep vir ’n land en ’n kontinent wat nie altyd aantreklike werksomstandighede bied nie.

 Nog meer fassinerend is dat hierdie hoogs vaardige chirurg in ’n veld werk waarvan baie gesondheidsorgpraktisyns nog nooit gehoor het nie. Die konsep “globale chirurgie” het eers in 2015 openbare erkenning begin geniet toe The Lancet ’n artikel oor die ongelykheid in toegang tot veilige chirurgie wêreldwyd, “Commission on Global Surgery”, gepubliseer het. Daarin word voorspraak gemaak vir gelyke toegang tot gehaltechirurgie as ’n globale gesondheidsprioriteit.

Globale chirurgie is steeds ’n ontluikende veld wat eers onlangs in die Universiteit Stellenbosch se kurrikulum opgeneem is.

Van openbare sektorchirurg tot kundige in globale chirurgie

Chu het in 2015 in die veld begin belang stel toe sy by die Somerset-hospitaal in Kaapstad gewerk het.

“Ek kon die ongelykheid sien,” onthou sy. “Pasiënte sou baie siek word weens vertragings in behandeling van chirurgiese toestande soos ’n gebarste blindederm. Hierdie toestande kon doeltreffend met chirurgie behandel word. Hoekom het hulle nie vroeër by sorg uitgekom nie?

“Ek het die artikel in The Lancet gelees, waarin genoem word dat vyf miljard mense oor die wêreld heen nie toegang tot chirurgiese sorg het wanneer hulle dit nodig het nie,” vervolg sy. “Ek wou ’n verskil aan die hele chirurgiese stelsel maak, pleks van om net die pasiënte voor my te behandel.”

Toe die FGGW se dekaan, prof Jimmy Volmink, Chu so ’n jaar gelede gebel het om te sê hy wil ’n Sentrum vir Globale Chirurgie tot stand bring, het sy die kans aangegryp om by die span aan te sluit. Hulle het dieselfde visie gehad en dit was ’n geleentheid om ’n verskil te maak op ’n kontinent wat die hulp desperaat nodig gehad het.

Daar word wêreldwyd allerweë erken dat ’n derde van die globale siektelas deur chirurgiese sorg genees of verlig kan word. Desondanks bestaan growwe ongelykhede in toegang tot veilige chirurgiese sorg.

“Altesame 95% van die inwoners van Afrika suid van die Sahara het nie toegang tot veilige, bekostigbare chirurgie nie,” sê Chu. “En in Suid-Afrika is daar groot ongelykhede tussen diegene met ’n mediese fonds en diegene daarsonder. Diegene daarsonder kry eenvoudig nie altyd die chirurgiese sorg wat hulle nodig het betyds nie.”

Vier hindernisse tot chirurgiese sorg

’n Sterk fokus van Chu en haar kollegas se werk is om die vier hindernisse tot chirurgiese sorg te verstaan:

1.) Hoekom vra mense nie vir chirurgiese sorg nie?

2.) Hoekom kom soveel mense nie by chirurgiese sorg uit nie?

3.) Wat vertraag chirurgiese sorg in hospitale?

4.) Wat is die hindernisse om mense in sorg te hou?

“’n Groot deel van ons navorsing oor die volgende paar jaar sal daarop gefokus wees om hierdie hindernisse te verstaan,” sê Chu. “Talle chirurgiese toestande, soos traumatiese beserings, verg tydige toegang om lewensverlies en gestremdheid te verhinder. Die versterking van die hele chirurgiese ekostelsel – met inbegrip van alle vlakke van sorg van die gemeenskapsgesondheidsentrum tot die distrikshospitaal en die tersiêre hospitale is noodsaaklik.”

Oor watter aspek van haar werk haar veral opgewonde maak, aarsel Chu nie: “Die feit dat chirurge aan die gesprek oor die versterking van ons openbare gesondheidstelsels kan deelneem. Ons kry nou uiteindelik ’n kans om met die ekonomiese en sosiale wetenskaplikes, spesialiste in nood-gesondheidsorg en gesondheidsorgberoepslui in etlike ander velde te praat.”

Gevra oor hoekom sy in Suid-Afrika pleks van die VSA of selfs China (waar haar familie vandaan kom) werk, praat sy oor haar liefde vir die kontinent. “Ek het altyd die feit dat ek in Amerika grootgeword het as buite my beheer beskou en ek het nooit regtig oorweeg om terug China toe te gaan nie. Ek was verlief op Afrika sedert die eerste keer wat ek hier gewerk het.”


VIR MEER INLIGTING, BESOEK DIE DEPARTEMENT VAN GLOBALE GESONDHEID SE AFDELING OP DIE FGGW SE WEBWERF: www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/global-health

 

‘Ek kon die ongelykheid sien. Pasiënte sou baie siek word weens vertragings in behandeling van chirurgiese toestande soos ’n gebarste blindederm. Hierdie toestande kon doeltreffend met chirurgie behandel word. Hoekom het hulle nie vroeër by sorg uitgekom nie?’  – Prof Kathryn Chu

 

Foto-erkenning: Stefan Els