Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

INNOVERENDE OPLOSSING VIR RUGMURGBESERINGS

Michelle Rotchford-Galloway

Doelgemaakte reduksiebed in die kollig by Indaba

ʼn Prototipe van ’n doelgemaakte servikale ruggraatreduksiebed wat deur ’n voormalige kliniese assistent in die spinale eenheid van die Tygerberg-hospitaal gebou is, was in die kollig by die onlangse Innovasie-indaba.

“Servikale dislokasie is ’n rampspoedige besering as dit met rugmurgskade en verlamming gepaard gaan. Maar as dit vinnig en op die regte manier aangepak word, is die resultate beter,” het dr John Davis, voormalige hoof van die spinale eenheid by die Tygerberg-hospitaal, die behoefte aan ’n beter intervensie vir hierdie soort besering verduidelik.

“Waar hulpbronne en vaardighede dit toelaat, is ’n vinnige chirurgiese ingryping die antwoord. Maar met die beperkte beskikbaarheid van chirurgiese vermoëns of teatertyd in die meeste sentrums, kan ’n geslote reduksie tyd wen deur die druk van die rugmurg te verwyder totdat dit meer permanent herstel kan word.”

Hierdie tipe besering word gewoonlik deur motor- en sportongelukke of interpersoonlike geweld veroorsaak.

Uurglas loop leeg

“Die meeste van hierdie beserings kom by jong mans voor – tipies tussen die ouderdom van 25 en 35,” het dr Sanesh Miseer, huidige hoof van die eenheid, bygevoeg.

“Met ’n dislokasie word die rugmurg geknik, wat druk veroorsaak,” het hy vervolg. “Jy moet die dimensies van die rugmurgkanaal vergroot om dit te verlig. Die vinnigste, doeltreffendste manier is deur ’n geslote reduksie.”

Hoe gouer die druk verlig word, hoe beter die uitkoms. Tradisioneel het dit beteken om onder meer katrolle en gewigte te gebruik, maar dis moeilik in besige ongevalle-eenhede met beperkte opgeleide personeel.

“Dié prosedure kan omslagtig en onbeheersd wees,” het dr Delmar Badenhorst gesê. “’n Bed is nie altyd beskikbaar nie en dis ’n storie om die toerusting in die hande te kry. My keerpunt was toe 30 kg-gewigte op my voet geval het terwyl ek ’n reduksie uitgevoer het.”

Badenhorst, destyds ’n kliniese assistent by die eenheid, het ’n agtergrond in ingenieurswese en het onder Davis se leiding begin om ’n doelgemaakte spinale reduksiebed in sy motorhuis te ontwikkel. Dit is ’n uniek ontwerpte servikale reduksiebed wat spesifiek vir servikale ruggraatbeserings gebou is.

Charles Oppelt-geval

Die geval van Charles Oppelt, ’n jong sportman wat deur ’n rugbybesering verlam is, was die dryfveer agter die projek. Die konstitusionele hof het in 2015 in die Oppelt-saak bevind hierdie soort besering moet binne vier ure ’n reduksie-tipe intervensie ontvang. Die saak het opslae gemaak en dit het bewustheid en dringendheid verhoog.

“Daar rus ’n verpligting op klinici om dit so gou moontlik te doen,” het Davis gesê. Die spinale reduksiebed is een manier om hierdie uitdaging aan te pak.

Die bed is sedertdien verfyn en die huidige prototipe het ’n prys by die onlangse Innovasie-indaba gewen.

“Ook belangrik is dat die Premier van die Wes-Kaap dit gesien en sy steun belowe het,” het Miseer gesê. “Onderhandelinge is aan die gang om beddens vir meer staatshospitale aan te koop.”

“Dit is vanselfsprekend ’n voortgesette uitdaging om die pasiënt vinnig by die bed te kry,” het hy vervolg. “Ons is besig om provinsiale sentra van uitnemendheid te identi􀀁 seer waar mense in die protokolle en tegnieke van reduksie opgelei is en weet wanneer en waarheen om pasiënte te verwys Hoe minder die rolspelers op die verwysingsroete, hoe beter is jou kanse om die tyd te verminder.”

ʼn Spelbreker

“Die langtermyndoelwit is om die bed by ongevalle-sentrums landwyd beskikbaar te hê,” het Davis bygevoeg.

Al drie het daarop gewys dat die meganika van die tradisionele metode doeltreffend bly.

“As dit betyds deur vaardige mense gedoen word, is die sukses soortgelyk, maar die bed maak dit vinniger, veral in omgewings met beperkte hulpbronne,” het Miseer gesê. “Dit vereenvoudig die proses, waardeur entoesiasme vir hierdie werk verhoog word.”

Die meeste van hierdie beserings word in staatshospitale behandel en daarom beklemtoon die Tygerberg-program opleiding en innovasie.

“Die impak van hierdie innovasie is lewensveranderend. Die finansiële en emosionele las van verlamming is enorm. Ons het pasiënte met potensiële verlamming uit die hospitaal sien stap,” het Badenhorst bygevoeg.

“Die bed is ’n spelbreker en as ons dit by meer traumasentrums kan kry, kan dit ’n reuse-impak hê.”

 

‘Met ’n dislokasie word die rugmurg geknik, wat druk veroorsaak. Jy moet die dimensies van die rugmurgkanaal vergroot om dit te verlig. Die vinnigste, doeltreffendste manier is deur ’n geslote reduksie.’ – Dr Sanesh Miseer

 

Foto-erkenning: Stefan Els