Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

KAALVOETLOOP HET VOORDELE

Alec Basson
Dr Elbé de Villiers (links) en Prof Ranel Venter (regs). Foto-erkenning: Stefan Els

Studie bekyk motoriese vaardighede van Duitse, SA kinders

ʼn Studie deur Suid-Afrikaanse en Duitse navorsers het bevind dat kinders wat kaalvoet loop, beter balans het en ook verder kan spring as kinders wat skoene dra.

“Ons navorsing het getoon dat gereelde fisiese aktiwiteite sonder skoene voordelig kan wees vir die ontwikkeling van spring- en balansvaardighede, veral in die ouderdomskategorie 6-10 jaar,” sê prof Ranel Venter van die Departement Sportwetenskappe.

Venter en kollega dr Elbé de Villiers het saam met navorsers van die Universiteit van Jena en die Universiteit van Hamburg gewerk. Hul studie, wat tussen Maart 2015 en Junie 2016 in Suid-Afrika en Duitsland gedoen is, is in die vakjoernaal Frontiers in Paediatrics gepubliseer.

Verskil tussen Suid-Afrikaanse, Duitse kinders

Venter sê die doel van die navorsing was om vir die eerste keer die verband tussen kinders wat kaalvoet grootword of skoene dra en die ontwikkeling van motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie te evalueer.

Altesame 385 kinders wat gereeld kaalvoet loop en 425 kinders wat skoene dra, is in skole in landelike en stedelike gebiede in die Wes-Kaap, elders in Suid-Afrika en in Noord-Duitsland gewerf. Die kinders was tussen 6 en 18 jaar oud.

Venter sê die twee groepe is gekies vanweë hul verskillende skoeiselgewoontes. “Waar Suid-Afrikaanse kinders gewoonlik gedurende die dag kaalvoet loop, dra byna alle Duitse kinders skoene gedurende skooltyd en tydens die meeste ontspanningsaktiwiteite.”

Albei groepe moes vir ten minste 120 akkumulatiewe minute per week aan 􀀁 sieke aktiwiteite deelneem en hulle moes nie enige ortopediese, neurologiese of neuromuskulêre toestande hê wat motoriese prestasie kon beïnvloed nie.

Belang van skoeiselgewoontes

Venter sê al die kinders het balans-, verspring- en 20 m-naellooptoetse gedoen.

“Die uitslae toon dat kaalvoetkinders in Suid-Afrika se laerskole beter presteer in balanstoetse as hul Duitse eweknieë. Dit kan verband hou met die feit dat hul voete wyer en meer vervormbaar is.

“Kaalvoetkinders kon ook verder spring vanuit ’n staande posisie as Duitse kinders. Dit kan verband hou met die feit dat hul voetbrûe hoër en goed ontwikkel is. Hul voete is ook meer buigsaam.”

“Ons resultate toon die vroeë kinderjare is kernbelangrik vir die ontwikkeling van balans en vinnige verbeterings kan waargeneem word tot ouderdom 9-10 jaar. ’n Waarskynlike verklaring is dat skoeiselgewoontes die voet se spierskeletstruktuur beïnvloed, wat weer met motoriese prestasie geassosieer kan word.”

Venter sê die resultate van hul studie beklemtoon die invloed en belangrikheid van skoeisel gewoontes vir die ontwikkeling van voete en motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie.