Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

VOORPUNT-HEUPCHIRURGIE BRING VREUGDEVOLLE TRANSFORMASIE

Olivia Rose-Innes

Spelbreker-tegniek lui nuwe era in

Ortopediese chirurge by die Tygerberg-hospitaal pas ’n wenkombinasie van positiwiteit en die jongste chirurgiese tegnieke toe om lewens te transformeer wat deur gebreekte en misvormde heupe versuur word.

Bene: ’n gelukkige spesialiteit

Die ortopediese profiel is een van “gelukkige chirurge”, reken dr Koos Jordaan, hoof van die Heup- en Knie-artroplastie-eenheid by die Tygerberg-hospitaal se Afdeling Ortopediese Chirurgie.

Hy glo die positiwiteit spruit uit die eenvoudige bevrediging om “iets met jou hande reg te maak”, die genesing en regeneratiewe krag van beenweefsel en die voorreg om getuie te wees van post-operatiewe resultate wat mense weer laat opstaan en loop.

ʼn Chirurgiese spelbreker vir heupvervangings

Een van die groot bydraers tot hierdie optimistiese omgewing is hipermoderne chirurgiese ontwikkelings, soos artroplastie direk van voor – ʼn heupvervangingstegniek waarin Jordaan se eenheid talle Suid-Afrikaanse ortopediese chirurge opgelei het.

Die gebreekte heup, of femurnekfraktuur, word die “onopgeloste” fraktuur genoem: Ofskoon tradisionele heupvervangingschirurgie ’n uitstekende sukseskoers van 95% het, daal die herstelkoers van pasiënte oor tyd heen drasties.

Hierdie swak koerse is veral relevant vir Tygerberg se Artroplastie-eenheid. Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het in 2017 ’n jaar lank pasiënte met heupfrakture in Kaapstad, Durban en Johannesburg gevolg en gevind dat Tygerberg verreweg die meeste gevalle het.

Die navorsing het getoon die nasionale tendens vir bejaarde pasiënte is dat 10% in die hospitaal sterf, 30% in die eerste maand ná die operasie en 50% in die eerste jaar. Diegene wat goed vaar, herwin hul voormalige funksionaliteit eers ná twee jaar.

Daar is talle redes hiervoor, verduidelik Jordaan: “Vir ’n bejaarde wat dalk reeds gesondheidsprobleme ondervind, is die spanning van val en die breuk reeds aansienlik, en dan is hulle boonop in ’n vreemde hospitaalomgewing en moet chirurgie ondergaan. Om te leer om op krukke te loop en aangesê te word wat hulle kan en nie kan doen nie – hulle kan byvoorbeeld nie op lae stoele sit of hul bene kruis nie – is ook stresvol. Hierdie voorsorgmaatreëls verhoog dikwels die vrees vir val, wat beweeglikheid verminder.”

Maar met die direkte anterieure benadering het Jordaan en sy kollegas drastiese verbetering gesien: Pasiënte gaan gemiddeld op dag vier huis toe en stap teen ses weke sonder hulp.

“Ons voel ons dra tot ’n nuwe era in ortopediese chirurgie by. Geen voorsorgmaatreëls is nodig nie: Pasiënte kan in enige posisie wat hulle wil sit of lê en ons laat hulle al die volgende dag loop. Dit verwyder ’n groot deel van die vrees en hul mobiliteit verbeter vinniger.”

Nie net ‘ou mense se probleem’ nie

Heupvervangings word gewoonlik met ouer pasiënte geassosieer, maar in Suid-Afrika het heelwat pasiënte jonger as 55 – wat in dié veld as “baie jonk” bestempel word – ook artroplastie nodig. Dit is die gevolg van wydverspreide swak sosio-ekonomiese toestande, asook hoë koerse van trauma, MIV en alkoholmisbruik, wat alles die risiko vir gewrigsprobleme verhoog.

Artroplastie word as pediatries beskou as dit op mense jonger as 20 uitgevoer word. “Hierdie pasiënte, tipies tussen 14 en 20, het dikwels heuptoestande wat nie in hul kinderdae behandel is nie, of behandeling het misluk omdat die siekte so ernstig was of nie gediagnoseer is nie,” sê Jordaan.

“Hulle het dalk voorheen vier of vyf mislukte operasies ondergaan en is so gestrem dat hulle skool laat vaar het of sukkel. Dit raak hulle psigososiale ontwikkeling: Hulle is baie skaam en kyk jou nie in die oë nie. Hulle raak depressief of oorweeg selfs selfdood weens die chroniese pyn.

“Wanneer ons opereer neem ons die pyn weg, wat hulle die kans bied om van voor af as jong mense te begin; om normale dinge te doen soos om skool toe te loop, sport te beoefen en na klubs toe te gaan.”


DIREKTE ANTERIEURE BENADERING (DAB) VIR ALGEHELE HEUP-ARTROPLASTIE

Tradisionele heupvervanging behels ’n insnyding aan die kant of agterkant van die heup en die losmaak van spiere en senings om die gewrig te vervang. Anterieure heupvervanging verg minimale indringing en behels ’n insnyding aan die voorkant en die wegskuif van spiere om die heup te vervang, sonder dat senings losgemaak word. Dit verminder pyn, hersteltyd en die risiko van ontwrigting.


VAN GESTREMDHEID TOT VREUGDE:

  • X-strale van ’n tiener wat in bende-kruisvuur gewond is, het getoon haar pelvis was vol koeël- en beenfragmente. Haar heupgewrig is vernietig en haar been was drasties korter omdat die oorblywende stukke been aan mekaar vasgegroei het. Ná ’n vervanging wat geverg het dat die been weer gebreek moes word, was geen aanduidings van enige voormalige trauma in haar gladde bewegings en breë glimlag sigbaar nie.
  • ’n Sekuriteitsbeampte van die Tafelbergparkraad is deur misdadigers van sy fiets gestamp terwyl hy Leeukop gepatrolleer het. Hy het 10 meter ver geval en albei heupe gebreek. ’n Maand ná ’n bilaterale heupvervanging was hy terug by die werk en het hy met sy danspassies gespog.
  • ʼn Kind wie se heup uit sy potjie geglip het, ’n toestand bekend as geglipte boonste femur, het ná veelvuldige operasies uiteindelik ’n sukses volle gesamentlike gewrigvervanging ondergaan wat hom van ’n lustelose seun op krukke tot ’n pynvrye, mobiele 15-jarige getransformeer het. Maar sy maats het hom nog geterg oor sy kort been en omdat hy snaaks geloop het. In ’n tweede operasie het chirurge die been gebreek en ’n spyker aangebring wat ’n elektriese motor bevat. ’n Magneet wat op die been geplaas is, het die motor se ratte geaktiveer om met die spyker te interreageer. Die been het geleidelik met drie sentimeter gegroei, totdat sy bene presies ewe lank was.

 

 

‘Wanneer ons opereer neem ons die pyn weg, wat hulle die kans bied om van voor af as jong mense te begin; om normale dinge te doen soos om skool toe te loop, sport te beoefen en na klubs toe te gaan.’ – Dr Koos Jordaan

 

Foto-erkenning: Stefan Els