Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

FGGW LUI NUWE ERA IN MET FAKULTEITSHANDVES

Florence de Vries

Belofte verwoord opregte verbintenis tot verwelkomende institusionele kultuur

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het sy Fakulteitshandves op 9 Oktober 2019 onthul – ’n eerste vir ’n fakulteit van hierdie instelling.

Dié plegtige belofte deur alle FGGW-personeellede en -studente is amptelik in die Onderwysgebou onthul en lui ’n nuwe era in. Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het gesê: “Deur hierdie Handves erken ons waar ons vandaan kom, maar nog belangriker, verbind ons onsself tot voortgesette transformasie soos gerig deur die waardes van ons Fakulteit en instelling, asook deur dié wat in die Grondwet verskans is.”

In 2019 het die wêreld teen ’n paar ernstige uitdagings geprotesteer, veral geslagsgebaseerde geweld en die klimaatskrisis. Toekomstige gesondheidsberoepslui wat by die FGGW studeer het ook van hulle laat hoor deur by protesbewegings aan te sluit en hul beswaar by die US en die Fakulteit se leierskorps te opper.

Die FGGW-handves, wat langer as 18 maande geneem het om te finaliseer, is ’n belofte van sy personeel en studente om inklusiewe, regverdige en vriendelike omgewings in elke aspek van daaglikse interaksies te skep. Dit dien as ’n gids vir gedrag en ’n instrument om te help om almal vir hul optrede verantwoordbaar te hou.

“Deur hierdie Handves verwoord ons ons opregte verbintenis tot verandering. Ons wil ʼn institusionele kultuur bou wat die ontwikkeling van ’n diverse studente- en personeelkorps verwelkom, vier en steun. Ek is oortuig die fasilitering van ons voortgesette reis na positiewe persoonlike en institusionele transformasie sal voordele vir alle betrokkenes bly oplewer,” het Volmink gesê.

Die Handves is ontwikkel onder die vaandel van die Dekaansadvieskomitee oor Transformasie (DAKT) van die FGGW, wat in 2016 gevestig is.

’n Fakulteitshandves-taakspan onder leiding van die FGGW se Studentesakebestuurder, me Khairoonisa Foflonker, is met die ontwikkeling van ’n handves vir die Fakulteit toevertrou. Die taakspan het bestaan uit ’n diverse groep voor- en nagraadse studente, asook akademiese en ondersteuningspersoneel.

’n Konsep is in Augustus 2018 voltooi, gevolg deur ’n reeks ontmoetings met personeellede en studente, wat vir terugvoer gevra is. ’n Finale weergawe waarin hierdie terugvoer bygewerk is, is in Augustus 2019 deur die DAKT ingedien.

Die Handves fokus op ses spesifieke impakareas of -groepe wat ’n invloed op die leef-, studie- en werksomstandighede op die Tygerberg-kampus het. Belangegroepe sluit studente, gemeenskappe, kollegas, navorsing, pasiënte en die omgewing in.

Die Handves is ’n verbintenis tot die viering van alle vorms van diversiteit en inklusiwiteit op die Tygerberg-kampus en die ontwikkeling van bemagtigende omgewings in beide die akademiese en kliniese omgewings. Dit erken die belangrikheid van al sy belangegroepe en ondernemings, onder meer om wedersydse respek en menswaardigheid te bevorder, erkenning te verleen aan die geleefde ervarings van die gemeenskappe wat hy dien, etiese navorsing te doen en die omgewing te beskerm.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het die bekendstelling van die FGGW-handves verwelkom: “Dit help ons met ons strewe om ’n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, gesprek bevorder en tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid verbind is.”

Die FGGW-handveskunswerk, wat die ‘talle hande binne ’n hand’-simbool uitbeeld wat orals op die Tygerberg-kampus te sien is, is voltooi met die hulp van die US se visuele herstelspan en veral van prof Elmarie Constandius van die US se Departement Visuele Kunste, ook ’n lid van die visuele herstelspan. “Die oorkoepelende boodskap van die talle hande binne ’n hand-simbool is dié van konnektiwiteit en samewerking en ek dink dit hou veel goeds vir die toekoms van hierdie instelling in,” het Constandius gesê.


ONTWIKKELING VAN DIE FAKULTEITSHANDVES

Khairoonisa Foflonker, Studentesakebestuurder van die FGGW

Die ontwikkeling van die Fakulteitshandves was ’n lang proses van besprekings, debatte en beraadslagings waarby ’n diverse poel personeellede en studente betrokke was en wat oor bykans twee jaar gestrek het. Die onthulling van die Handves is die kulminasie van die visie van die Fakulteitshandvestaakspan en die Dekaansbestuurspan vir ’n inklusiewe en transformatiewe Fakulteit vir almal wat hier leef, leer en werk.

Transformasie is ’n beroep op ons gemeenskaplike menslikheid, nie bloot ’n proses van demografiese veranderinge nie. Om met hierdie Handves te werk was vir my ’n verootmoedigende en transformatiewe ervaring.

As Voorsitter van die Fakulteitshandvestaakspan was ek bevoorreg om die geleefde ervarings en bydraes van ons studente en personeel te fasiliteer. Die meeste van ons lede was vroue, wat in die lig van die demografiese samestelling van ons Fakulteit geen verrassing was nie. Lede het aan robuuste en respekvolle debatte deelgeneem wat die Fakulteit se waardes van inklusiwiteit, integriteit en omgee weerspieël het.

’n Paar persoonlike hoogtepunte sluit in dat ondanks gesonde en respekvolle verskille, ons konsensus op elke taakspanvergadering bereik het. Besprekings het ingesluit die dekolonisering van die kurrikulum en ruimtes op kampus en wat dit vir ons as individue beteken. Dit was verrassend, want sommige lede het die prosesse van dekolonisering en transformasie in ’n nuwe en ander lig begin sien. Ons het ook begin begrip kry vir die individuele stryde van lede, wat in hul geleefde ervaring verskil het.

Vir my is die kringloop van die proses by die Dekaan se middagete in Julie 2019 voltooi. Daardie middag het ek saam met kollegas, ook lede van die taakspan, by ’n tafel gesit en ons het besef die ongelooflikste ding het met ons gebeur as ’n neweproduk van ons deelname aan die taakspan: kollegas en studente van afdelings en programme wat normaalweg nie sou ontmoet nie, het ʼn geleentheid gekry om saam te werk aan ’n projek wat ons saamgebind het. Ons groep het dit as ’n blye oomblik beleef. Ons het nie net die ontwikkeling van die Handves gevier nie, maar ook die ruimte wat die taakspan vir ons geskep het om mekaar te leer ken en deel te neem aan besprekings waarin talle standpunte geopper en gerespekteer is.

Ek hoop die ontwikkeling van die Fakulteitshandves sal ander Fakulteite aanspoor om dieselfde te doen. Maar belangriker nog: dat dit die katalisator vir talle toekomstige gesprekke oor transformasie en dekolonisering binne die Fakulteit sal wees.


DIE SKEP VAN ’N VERWELKOMENDE INSTELLING

Ascentia Seboko, PhD-kandidaat, FGGW

In 2016 is ek as voorsitter van die eerste Tygerberg- Nagraadse Studenteraad verkies. Die Dekaan het my uitgenooi om by die Dekaansadvieskomitee oor Transformasie aan te sluit. In hierdie komitee is gepraat oor die Fakulteitstransformasie-handves en ek het aangebied om in die Transformasie-handvestaakspan te dien.

Die idee van ’n transformasie handves het sterk weerklank by my gevind weens dieselfde redes dat ek ’n studenteleier geword het: om ’n verwelkomende omgewing en ’n sin van gemeenskap te skep. As ’n student in hierdie Fakulteit het ek ook die behoefte ingesien vir ’n verbintenis deur die Fakulteit om ’n weersin uit te spreek teen alle vorms van diskriminasie, wat steeds soveel individue raak.

Die Handvestaakspan het grotendeels uit akademiese en ondersteuningspersoneel van die Fakulteit bestaan, asook studente, waarvan die meeste nagraads was. Gedurende ons besprekings het dit duidelik geword dat diskriminasie steeds in veelvuldige vorms voorkom en (tot my verbasing) nie net tussen studente of tussen personeellede en studente nie, maar selfs tussen personeellede. Daar was bewyse van ’n atmosfeer wat verdraagsaam eerder as verwelkomend was. Dit is hoekom dit so belangrik was om hierdie Handves te ontwikkel, wat spreek tot die soort instelling waarin almal kan voel hulle behoort.

Nadat die aanvanklike konsep voltooi is, het ons etlike inligtingsessies gehou om ruimtes vir personeellede en studente te skep om die Handves vrylik te bestudeer en terugvoering te gee oor wat dit vir hulle beteken. ’n Kwessie wat herhaaldelik ná die studente-inligtingsessies geopper is, is die onregverdige behandeling van studente gedurende kliniese rotasies. Taal is steeds ’n reuse-hindernis vir sommige studente, wat uitgesluit voel omdat hulle nie die taal kan verstaan wat sommige konsultante tydens rotasies praat nie.

Dit was baie interessant om tydens hierdie gesprekke die gebrekkige bewustheid van die vooroordeel en diskriminasie wat steeds op die kampus bestaan, waar te neem. Dit geld vir studente én personeel. En die vraag is altyd gevra of ons “werklik ’n transformasiehandves nodig het”? Die antwoord is: Vir die oomblik… ja. Hierdie Fakulteit het sonder twyfel groot vordering met die koestering van transformasie gemaak, maar daar is steeds werk. Want transformasie is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dit was egter bevredigend om te sien dat besprekings van hierdie Handves en die inligtingsessies onderwerpe geïnspireer het wat gewoonlik nie deel van gesprekke tussen personeellede en studente sou wees nie. Daar was ’n groot diversiteit in die taakspan, al was daar duidelik meer vroue as mans.

Dit was werklik ’n eer om deel te wees van hierdie span van buitengewone individue, wat tyd in hul besige programme afgestaan het om dinkskrums te hou oor wat nou as die Fakulteitshandves bekend is. Dit bied slegs een van die weë waardeur hierdie Fakulteit ’n omgewing probeer bied wat verwelkomend is vir almal wat daarin studeer en werk. Maar dit is steeds ons as individue se verantwoordelikheid om hierdie Handves gestand te doen en daarvan die lewende dokument te maak wat in die vooruitsig gestel is.

 

‘Dit help ons met ons strewe om ’n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, gesprek bevorder en tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid verbind is.’ – Prof Wim de Villiers

 

Foto-erkenning: Wilma Stassen