Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

OM OPENBARE GESONDHEID TOEKOMSBESTAND TE MAAK

Michelle Roctchford-Galloway

Prof English inisieer gesprek oor 4de nywerheidsrevolusie

“Dis ’n oproep om openbare gesondheid toekomsbestand te maak. Om te vra wat ons as ’n openbare gesondheids- gemeenskap omtrent die vierde nywerheidsrevolusie gaan doen,” sê prof René English, Hoof van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ek is nie die kundige nie. Ek vra die vrae. Ons moet die gesprek begin,” vervolg sy.

“Hoe gaan Suid-Afrika en die wêreld oor 20 jaar daar uitsien? Hoe gaan dit ons reaksie op gesondheidstelsels, openbare, globale en planetêre gesondheidskwessies vorm? Ons moet die veranderende tye in ag neem terwyl ons navorsing doen, stelsels beplan en openbare gesondheid onderrig. Nuwe, dog haalbare oplossings word vereis wat die maatskaplike, omgewings-, digitale, biologiese, ekonomiese en ander strukturele veranderinge in ag neem.

“As ons in die openbare gesondheidsgemeenskap nie ernstig bestek opneem van waar die wêreld heen op pad is en wat ons van ander dissiplines kan leer nie, kan ons minder relevant en selfs uitgedien raak,” voeg sy by.

’n Futuristiese lens

English het die denke agter haar jongste onderneming uitgestippel, naamlik om ’n praktykgemeenskap te begin wat ondersoek instel na hoe openbare gesondheid en ander dissiplines vir nie-oordraagbare siektes en kankers kan voorberei. Sosiale impakbefondsing is hiervoor van die US bekom.

“Dit gaan oor die vestiging van ’n praktykgemeenskap wat op die versterking van openbare gesondheid fokus,” verduidelik sy. “Om ’n futuristiese lens te gebruik – terwyl plaaslike realiteite in ag geneem word.

“Die toename in nie-oordraagbare siektes is ’n ‘bose’ probleem wat ’n verdere las op reeds komplekse gesondheidstelsels sal plaas, veral in hulpbronarm gemeenskappe,” vervolg sy. “Nie-oordraagbare siektes gaan die grootste oorsaak van sterftes in ons land word. Komorbiditeit met MIV en ander aansteeklike siektes sal ’n groot faktor wees. Dit kan nie sake soos gewoonlik wees nie. Bose probleme verg veelvlakkige oplossings.

“Openbare gesondheid is van nature interdissiplinêr. Die uitdaging is kompleksiteit om alles te kombineer om probleme op te los.”

Omarming van tegnologiese era

English se passie vir openbare gesondheid het in die vroeë 2000’s begin toe sy ’n PhD gedoen en in ’n primêre gesondheidsorgfasiliteit gewerk het. Daarna het sy in openbare gesondheidsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad gespesialiseer, gevolg deur agt jaar by die Health Systems Trust.

“Ek het besef dat die gesondheidslandskap verander het, maar ook dat ons die tegnologiese era betree het. Toe ek begin het, het sekere befondsers openbare gesondheidsidees gefinansier waar mense sentraal tot die intervensie was. Ses jaar later vind jy weinig dat ’n idee sonder ingeboude tegnologie gefinansier word.

“Huidige gesprekke in openbare gesondheid fokus steeds op gesondheidstelsels – wat nodig is – maar moet meer oorweging aan breër globale kwessies skenk,” vervolg sy.

Hierdie kwessies sluit nuwe metodes in om siektes te assesseer – epigenetika, kunsmatige intelligensie, robotika, geografiese inligtingstelsels en groot data.

Die kwessies wat English hoop deur die inisiatief aangepak kan word, sluit in die tendense en impak van nie-oordraagbare siektes; wat openbare gesondheid by ander dissiplines kan leer; die ontluikende tendense in hoe gemeenskappe leer en organiseer; asook hoe tegnologie, sosiale innovasie, entrepreneurskap en ontwerpersdenke beplanners en onderwysers van openbare gesondheid kan help.

Om dit te bewerkstellig, sal sy sektore soos die regering, nywerheid, die burgerlike gemeenskap en akademici byeenbring om kennis uit te ruil en te skep, asook om die versterking van onderwys, leer en navorsing in die openbare gesondheidskurrikulum vir nie-oordraagbare siektes te ondersteun. Die aanvanklike plan behels ’n reeks seminare.

“Ek hoop om te fasiliteer, om die dissiplines en sektore byeen te bring om by mekaar te leer,” verduidelik sy. “Dit sal ’n interaktiewe proses wees, met nadenke tussen die sessies oor wat geleer is en hoe om dit na die volgende sessie oor te dra. Innoverende media sal waar moontlik hiervoor gebruik word.

“Dit gaan oor die byeenbring in ’n kamer van die bestuurders, beleidmakers, navorsers, diegene wat die sorg verskaf en selfs die pasiënte om perspektiewe te verskaf oor wat ons in die gesig staar, hoe die stelsel gereageer het en, belangrik, om die bepalende faktore buite gesondheid te verstaan.”

Dit gaan ook oor die aanwending van tegnologieë, metodes en instrumente uit ander sektore wat vir vinnige, doeltreffende oplossings gebruik kan word.

’n Nederige versoek om te leer

“Ek is ’n voorstander van robuuste navorsing,” sê English, “maar ons het ander metodes nodig om die stelsel reg te kry.”

Sy is ook gretig om studente te betrek. “Die onderrig van openbare gesondheid het oor die jare heen ’n passie geword,” sê sy. “Maar ek het aan myself oor tien jaar gedink en gewonder wat ek sal sê. Ons moet nadink oor hoe ons inhoud aanbied aan ’n generasie wat tegnologiegedrewe is.

“Die langtermynsiening is om die kurrikulum te herbedink sodat ons kan verseker dat mense die wêreld deur ’n spesifieke lens verstaan en bedink. Om ’n nuwe raamwerk te skep vir ons denke as openbare gesondheidspraktisyns in die era van die vierde nywerheidsrevolusie.

“Die inisiatief is ’n nederige versoek om by almal te leer,” sluit sy af. “Ons moet ’n gesprek begin. Ons weet nie waar dit sal eindig nie.”

 

‘As ons in die openbare gesondheids-gemeenskap nie ernstig bestek opneem van waar die wêreld heen op pad is en wat ons van ander dissiplines kan leer nie, kan ons minder relevant en selfs uitgedien raak.’   – Prof René English

 

Foto-erkenning: Wilma Stassen