Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

VIGS-STUDIE HOOGS SUKSESVOL

Kim Cloete

Voorkomingstrategie in gemeenskap kan infeksies drasties verlaag

Die HPTN 071 (PopART)-studie, die grootste MIV-voorkomingstudie tot op hede, het getoon dat ’n gemeenskapswye MIV-voorkoming- strategie nuwe infeksies aansienlik kan verminder.

Die studie het ’n miljoen mense betrek wat in 21 stedelike en buitestedelike gemeenskappe in Zambië en Suid-Afrika woon.

Die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) van die Universiteit Stellenbosch (US) was een van die sleutelvennote van dié studie, wat deur die National Institutes of Health gefinansier en deur die MIV-voorkomingstudienetwerk (HPTN) uitgevoer is.

Die studie het die uitwerking gemeet van twee MIV-kombinasievoorkomingstrategieë wat jaarlikse MIV-toetse aan mense in hul huise bied, met verwysing na plaaslike gesondheidsfasiliteite vir versorging en behandeling vir diegene wat met MIV leef.

Die bevindings toon ’n 30%-afname in nuwe MIV-infeksies met ’n voorkomingstrategie waar MIV-behandeling ooreenkomstig die betrokke land se riglyne begin is. Maar waar ’n strategie van universele MIV-behandeling van die begin van die studie af aangebied is, is dieselfde afname in nuwe MIV-infeksies nie waargeneem nie.

Wiskundige modelleringsramings en kostedoeltreffendheidsontledings het getoon die voortsetting van gemeenskapswye MIV-toetsing en die spoedige aanvang van behandeling soos toegepas tydens die HPTN 071 (PopART)-studie in Suid-Afrika en Zambië, kan tot ’n aansienlike afname in nuwe MIV-gevalle lei, kostedoeltreffend wees en help om die UNAIDS-teikens vir 2030 te haal.

Volgens ramings kan die voorkoms van MIV in die gemeenskappe waar die studie uitgevoer is, teen 2030 die helfte wees van wat dit sou gewees het as hierdie intervensie nie plaasgevind het nie. Die bevindings is tydens die tiende International AIDS Society Conference on HIV Science in Mexikostad (IAS 2019) voorgelê.

Gedurende die studie het honderde MIV-gemeenskapsorgverskaffers (CHiPS) oor ’n tydperk van vier jaar in 14 gemeenskappe in Suid-Afrika en Zambië van huis tot huis gegaan met ’n herhaalde aanbod van MIV-berading en -toetse vir lede van huishoudings. Die DTTS in Suid-Afrika en Zambart in Zambië het nou saam met plaaslike gesondheidsdienste en implementeringsvennote van Pepfar (die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting) gewerk om te sorg dat MIV-positiewe deelnemers toegang tot antiretrovirale behandeling by klinieke het.

Benewens MIV-toetse, het die CHiPS ook sifting vir tuberkulose en seksueel oordraagbare siektes en kondome aangebied. Hulle het voorts vrywillige mediese manlike besnyding aangemoedig vir mans wat negatief getoets het, asook dienste vir die voorkoming van ma-na-kind-oordrag vir verwagtende vroue wat met MIV leef.

Gemeenskapsgebaseerde veldtogte is gehou om gemeenskapslede aan te moedig om vir MIV getoets en behandel te word, terwyl gemeenskapsadviesrade ’n deurslaggewende rol gespeel het om die gemeenskap, klinieke en navorsers met mekaar in verbinding te bring.

Die intervensie is as kostedoeltreffend bewys. “Ons het gevind die PopART- tuisgebaseerde intervensiepakket kos $5,10-$6,80 in Zambië en $6,40-$8,20 in Suid-Afrika per jaar en per persoon ouer as 14 wat in die studiegemeenskappe woon,” het dr Katharina Hauck, gesondheidsekonoom van die skool van openbare gesondheid van die Imperial College in Londen, gesê. “As dit tot 2030 volgehou word, sal die koste per gestremdheids-aangepaste lewensjaar $465-$847 in Zambië en $503-$922 in Suid-Afrika wees, wat binne die perke val van wat as kostedoeltreffend beskou word.”

Primêre uitslae van die studie is op 18 Julie 2019 in The New England Journal of Medicine gepubliseer.

Die navorsingspan was onder leiding van dr Richard Hayes, professor in epidemiologie en internasionale gesondheid aan die London School of Hygiene and Tropical Medicine, en dr Sarah Fidler, kliniese professor in MIV-geneeskunde aan die Imperial College, Londen. In Suid-Afrika is die navorsingspan gelei deur proff Nulda Beyers en Peter Bock, navorsingsklinici van die DTTS van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US, en in Zambië deur dr Helen Ayles, direkteur: navorsing, Zambart.


DIENSTE WAT DEUR DIE GEMEENSKAPSORG-VERSKAFFERS (CHIPS) AANGEBIED IS

•             Huishoudinggebaseerde MIV-berading en -toetsing elke jaar vir vier jaar

•             Om diegene met MIV vir sorg na die plaaslike kliniek te verwys

•             Opvolgbesoeke aan kliënte wat met MIV leef om seker te maak hulle kry behandeling en gebruik hul ART-middels

•             Aanmoediging van vrywillige mediese manlike besnyding vir mans wat MIV-negatief getoets het

•             Bevordering van dienste vir die voorkoming van ma-na-kind-oordrag onder verwagtende vroue wat met MIV leef

•             Verwysing vir sorg in die geval van seksueel oordraagbare infeksies

•             Verskaffing van kondome in die gemeenskap

•             Sifting en verwysing vir sorg vir tuberkulose



Onderskrifte

Heel bo: Gemeenskapsorg­verskaffers (CHiPS) stap van deur tot deur in die gemeenskap.

Artikel-foto 1: ’n MIV­toets word uitgevoer in ’n gemeenskapslid se huis.  

 

Die bevindings toon ’n 30%-afname in nuwe MIV-infeksies met ’n voorkomingstrategie waar MIV-behandeling ooreenkomstig die betrokke land se riglyne begin is.

 

Foto-erkenning: Kim Cloete