Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

IMMUNOLOGIE-LEGENDE TREE AF

Sue Segar

Laat ʼn nalatenskap van sorg agter

Al het prof Monika Esser, Hoof van die Immunologie-eenheid van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) by die Tygerberg-hospitaal en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch, in Julie 2019 afgetree, is sy nie voornemens om dinge rustiger te vat nie.

Esser, ʼn pediatriese rumatologie- en immunologiespesialis, laat ʼn nalatenskap van sorg agter. Een van haar talle prestasies was dat sy die FGGW se eerste pediatriese rumatoloog opgelei het – dr Deepthi Raju Abraham (Dee), wat in 2018 gegradueer het.

Haar aftrede beteken dalk sy het meer tyd tot haar beskikking, maar Esser sê sy gaan haar met mediese verpligtinge besig hou, met inbegrip van navorsing, vryskutwerk en die ondersteuning van verskeie organisasies sonder winsbejag.

Sy sal in ʼn ere-hoedanigheid in die Pediatriese Rumatologie- en Immunologieklinieke van die Departement Pediatrie en Kindersorg bly werk totdat dié departement genoeg klinici in daardie velde opgelei het.

Esser het die gesamentlike pos van Hoof van die Immunologie-eenheid in die NHLS by Tygerberg en die FGGW in Maart 2005 begin beklee.

“Ek is eintlik ʼn pediatriese rumatoloog, maar is gevra om oor te neem as die wetenskaphoof van die Immunologie-eenheid, wat deel uitmaak van die Departement Mediese Mikrobiologie van die Departement Patologie by die hospitaal.

“Dit het my omtrent drie jaar geneem om die pos as ʼn klinikus-wetenskaplike te herdefinieer – ʼn uitdaging binne die NHLS-struktuur.”

Immuuntekortkliniek

Esser se posisie tussen die laboratorium en die kliniek het haar en haar kollegas in staat gestel om translasionele navorsing te ontwikkel, met inbegrip van werk met babas wat aan MIV blootgestel is, maar nie besmet is nie. Dié vinnig groeiende en spesiale risiko- pediatriese populasie is voorheen nie erken nie. Hierdie navorsing het internasionaal uitgebrei.

Nog ʼn hoogtepunt van haar jare in hierdie pos was om die Immuuntekortkliniek, wat sy begin het, verder uit te brei deur navorsing te fasiliteer wat immuuntekorte met genetika verbind. Hiervoor is die Primêre Immuuntekortsiektes- Genetiese Netwerk (PIDDGEN) in 2013 tot stand gebring.

“Dit is ʼn baie opwindende deel van my meer onlangse werk wat ek ondersteun om genetiese redes vir die meer algemene en skaarser immuuntekorte te vind,” het sy gesê.

Opvolger

Oor haar werk saam met Abraham het Esser gesê pediatriese rumatologie is ʼn relatief nuwe subspesialiteit. “Ek was een van die eerstes in Suid-Afrika wat in 2009 gesertifiseer is.

“Pediatriese rumatologie-klagtes is redelik algemeen, maar kry nie genoeg erkenning nie. Dit het duidelik geword dit is ʼn spesialiteit wat ontwikkel moes word. Kinders het gereeld ná jare van lyding of reeds misvorm weens hul toestand by die kliniek opgedaag.”

Terwyl sy die Pediatriese Rumatologiediens bestuur het, het sy die behoefte raakgesien om ʼn opvolger te begin oplei.

“Dee Abraham is sedert 2012 deur Pediatrie aan my gesekondeer. Sy het belangstelling in rumatologie getoon, maar het toe self ʼn outo-immuunsiekte ontwikel, naamlik Sistemiese Lupus Eritematose (SLE). Dit het enige idees oor verdere spesialisasie op ys geplaas.

“Ek het teen daardie tyd ʼn geakkrediteerde opleidingsprogram ontwikkel. Met vier jaar oor voor my aftrede, het ek voorgestel sy doen haar opleiding deeltyds by my.

“Ons het die Fakulteit, Gesondheidsberoeperaad, College of Medicine en die Artritis-stigting van Suid-Afrika genader om die groen lig te kry om Abraham oor vier jaar pleks van twee jaar heeltyds op te lei. Haar opleiding het vier jaar gelede begin en sy werk steeds as deeltydse senior lektor/mediese onderwyser vir die Fakulteit.

Sy het wonderlik gevaar en is ʼn groot bate vir die kliniek! Sy is ʼn gereelde spreker op ope dae vir SLE en artritis en beeld die behoeftes van kinders met outo-immuunsiektes met mededoë aan die publiek uit danksy haar eie gesondheidsterugslae, asook haar ervaring as ma wat dol is oor haar twee kinders. Abraham sal die kliniek oorneem noudat ek afgetree het en ek sal haar help totdat sy nog ʼn genoot begin oplei.”

Abraham sal ook die volle Pediatriese Kliniese Rumatologiediens (insluitend klinieke, sale en verwysings) oorneem, asook by kliniese immunologie betrokke wees.

Nog toekomsplanne

As ʼn stigterslid (2008) en vorige voorsitter van die Raad van die Afrika-vereniging vir Immuuntekorte (ASID), sal Esser haar werk vir die vereniging in ʼn ere-hoedanigheid voortsit, asook vir die Internasionale en Suid-Afrikaanse Pasiëntorganisasie vir Immuuntekorte.

Sy sal ook haar werk vir die Nasionale Register van Immuuntekorte, wat sy die afgelope 15 jaar bestuur het, voortsit.

Een van die organisasies sonder winsbejag wat sy ondersteun en vir wie sy sal aanhou werk, is Hope Cape Town – ʼn MIV-uitreikprojek waarvan sy die raadsvoorsitter is.

“Wat navorsing betref, het my vorige werkblootstelling my die voorreg gebied om die verband tussen die laboratorium- en kliniese toepassings van immunologie te bekyk. Ek hoop om met die translasie van verdere navorsingsprojekte te help om sorg in die kliniek te verbeter,” het sy gesê.

“Ek gaan derhalwe beslis nog nie ophou werk nie!”

Haar aftrede beteken sy sal meer tyd hê vir pret soos stap, bergfietsry, kajak-roei en om die natuur saam met haar man, drie dogters en twee kleinkinders te verken.

 

‘Kinders het gereeld ná jare van lyding of reeds misvorm weens hul toestand by die kliniek opgedaag.’ – Prof Monika Esser

 

Foto-erkenning: Stefan Els