Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

PROF CHIKTE GRYP NUWE ROL AAN

Tyrone August

ʼn Meer gelyke samelewing was nog altyd sy visie

Die digter Robert Frost beskryf die twee paaie wat ons almal op ons lewensreis kruis onvergeetlik in “The Road Not Taken”. Emeritus-prof Usuf Chikte, wat onlangs afgetree het, sal waarskynlik geen berou hê oor die pad wat hy gekies het nie.

Dié voormalige Hoof van die Departement Globale Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) was gedurende sy lang, baie roemryke loopbaan ʼn tandarts en ʼn akademikus en het ook jare lank in verskeie professionele en onderwysliggame gedien.

Stryd om gelyke geleenthede

Al hierdie skynbaar diverse rolle is deur een oorheersende begeerte gemotiveer: om ʼn meer gelyke samelewing te bewerkstellig. “Dit was nog altyd my visie,” sê Chikte, “en ons moet dit kompromisloos nastreef.”

Hierdie uitdaging is veral in Suid-Afrika dringend: Dit is een van die ongelykste lande ter wêreld wat inkomstevlakke betref, met ʼn Gini-koëffisiënt van sowat .67 en rykdomongelykheid selfs hoër teen 0.94.

“Wie doen die voorkombare siektes op?” vra Chikte retories. “Dit is die arm mense.” Hy noem tuberkulose, diarree en ander aansteeklike siektes as voorbeelde.

Suid-Afrika vaar ook sleg wat kinder- en moedergesondheid betref. Om dit te illustreer, verwys Chikte na die verskillende ervarings van ʼn vrou met borskanker in landelike Dimbaza, buite King William’s Town, en ʼn vrou met borskanker in die ryk Kaapse buurt Constantia.

“As die vrou in Dimbaza gediagnoseer word, sal dit baie laat wees,” sê Chikte. “En as sy gediagnoseer word, sal hospitaaltoegang omslagtig wees; die behandeling, die menslike hulpbronne, die professionele sorg, haar lyding en haar lewensgehalte sal baie verskil van dié van ʼn vrou in ʼn stedelike sentrum en in ʼn middelklasomgewing.” Hy voeg by: “Jy kan dit na bykans elke ander siekte herlei.”

Hy het in 1996 as Hoof van die Departement Gemeenskapstandheelkunde by die US aangesluit en deurentyd ongelykhede in gesondheidsorg probeer aanpak. In 2000 het hy Mededekaan van die Fakulteit geword en in 2006 Uitvoerende Hoof van die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe.

Die baanbrekende Departement van Globale Gesondheid, wat onlangs tot stand gebring is, bring verskeie afdelings en sentrums byeen. “Ons probeer die globale onderlinge verband tussen siektes verstaan, werf die slimste mense om dit te onderrig en moedig jong mense aan om die aflosstok te gryp en daarmee die toekoms binne te hardloop.”

Hy is geweldig trots op sy werk. “Ons staan vir niemand terug in die aanbieding van ʼn program van wêreldgehalte en waaruit die wêreld kan leer nie.”

Chikte glo die Fakulteit het ook ʼn belangrike, meer algemene rol aan die US vervul deur aan die voorpunt te wees van die verwesenliking van demografiese veranderinge op kampus.

Maar die hef aan lê nog voor, benadruk hy. “Die Universiteit se geskiedenis spook nog by hom. Al het meer mense dalk toegang bekom, is dit nie genoeg om te praat van gelykheid van geleenthede nie.” Toegang is steeds grootliks beperk tot die stedelike bevolking (en veral Kaapstad), en diegene wat dit kan bekostig.

Daar is ook steeds beperkings op die werwing van nuwe personeellede. “’n Lang pad lê nog voor om die hindernisse tot gelyke toegang om by die US klas te gee, te verwyder. En dit het ʼn dinamika van sy eie wat betref wie opgelei word, waarvoor hulle opgelei word en wie wil aansoek doen. Daar is ʼn hele institusionele kultuur wat getakel moet word.”

Chikte het ʼn sleutelrol gespeel om te help om hierdie transformasieproses aan te help as ʼn akademikus, ʼn Senator en as ʼn lid van die Universiteitsraad. “Dit was ʼn opwindende, betekenisvolle betrokkenheid,” sê hy.

Maar hy is alte bewus van die talle oorblywende uitdagings. “Die oomblik wat jy dink jy het iets aangepak, verander die wêreld en dan moet jy weer nadink en weer organiseer om die waardes van gelykheid en egalisme volhoubaar te maak.”

Tog is hy nie ontmoedig nie en lê hy klem op die rol van onderwys in hierdie proses. “Terwyl jy by sulke kwessies betrokke is, moet jy ʼn goeie onderwyser wees of die beste onderwyser wat jy kan wees anders sal jy nie geloofwaardigheid hê nie.

“Derhalwe sluit die alledaagse probleme waarvoor ʼn onderwyser, ʼn lektor, ʼn professor aan ʼn universiteit te staan kom in die programme wat jy in plek stel, die karaktereienskappe wat jy by studente inprent, die werwing wat jy op studentevlak doen, die navorsingsagenda wat jy najaag, die publikasie en verspreiding van die resultate, die beleidskwessies waaraan jy beitel of in werking stel, en hoe jy dit in die praktyk van ʼn departement, ʼn fakulteit, die universiteit en ʼn groter onderwysstelsel vertolk.”

Opvoeding van ʼn nuwe generasie

Chikte benadruk dat ʼn goeie opvoeding van gehalte van onskatbare waarde is: “Daar moet geen kompromis wees rakende die gehalte van opvoeding wat aangebied word nie.”

Hy grond sy oortuiging op sy eie ervaring, spesifiek by die Harold Cressy Hoërskool in Kaapstad. “Van die onderwysers het ʼn groot invloed op my gehad ­ as opvoeders én wat betref die waardes wat hulle oorgedra het. En dis so belangrik. Jy kan die tegniese deel van onderwys regkry, maar deur daardie proses dra jy waardes oor: van menswaardigheid, maatskaplike geregtigheid, egalisme, gelykheid.

“En dit gaan nie net oor die onderrig of die verstaan daarvan nie; die punt is dat jy dit moet verander. En dít is dikwels moeilik.”

Chikte bring hulde aan die rol in sy lewe van Helen Kies, Maureen en Lionel Adriaan, Victor Wessels, Richard Dudley en Abe Fortuin, almal eens lede van die legendariese Teachers’ League of South Africa: “Hulle stemme oor gelykheid, nierassigheid, die stryd teen ongeregtigheid en vryheid van die inkerkering van die verstand eggo steeds oor die lengte en breedte van Suid-Afrika. Ek wil graag tot daardie eggo bydra.”

Chikte se posisie as emeritus-professor ná sy aftrede sal hom in staat stel om voort te gaan om dit te doen. “Ek het ʼn intense belangstelling in en by Stellenbosch. Daar is nog groot geleenthede in die veld van openbare gesondheid en om ʼn nuwe generasie studente te ontwikkel. Dit sal beslis voortgesit word.”

Hy voeg ferm by: “My eie onderwysers het op pad graf toe steeds onderrig.”

 

 

Die stemme van die legendariese Teachers’ League of South Africa oor gelykheid, nierassigheid, die stryd teen ongeregtigheid en vryheid van die inkerkering van die verstand eggo steeds oor die lengte en breedte van Suid-Afrika. Ek wil graag tot daardie eggo bydra.’ - Prof Usuf Chikte

 

Foto-erkenning: Damien Schumann