Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

OP SOEK NA FLORERENDE KINDERS

Olivia Rose-Innes

Openbare gesondheidsnavorsers bekyk gesondheid oor lewensloop heen

Navorsers van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing (ILCHR) van die Departement Globale Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe stel ’n gemeenskap in die vooruitsig waarin kinders floreer pleks van om net te oorleef.

Om te leer hoe om dit te verwesenlik, bestudeer hierdie navorsers hulpbronarm gemeenskappe uit ’n langtermyn-perspektief. “Lewensloop-gesondheids-navorsing het ten doel om te probeer verstaan en naspoor wat gedurende die hele lewensloop gebeur, nie net gedurende een of twee oomblikke nie,” sê prof Mark Tomlinson, direkteur van die ILCHR. Sy mededirekteur is dr Sarah Skeen, ’n senior navorser.

Die ILCHR is reg oor Suid-Afrika werksaam. Die navorsingspanne is in Khayelitsha in die Wes-Kaap en die OR Tambo-distrik in die Oos-Kaap gesetel. Die instituut bestuur ook projekte oor Afrika en Suid-Asië heen en werk saam met internasionale liggame soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) aan programme oor kinder- en tienergeestesgesondheid en ontwikkeling.

Vroeë gebeure, latere gevolge

Die feit dat gebeure in die vroeë kinderjare en in utero ’n langtermyn-gesondheidsimpak het, word deesdae deeglik erken: Navorsing het die kwesbaarheid van die eerste duisend lewensdae (van bevrugting tot twee jaar) blootgelê, veral met betrekking tot neuro-ontwikkeling.

Intergenerasie-faktore is ook van belang. “Ons begin besef dat die ouma se voedingstatus een voorspeller van ’n baba se groei is. En dat ’n jong vrou se gesondheid – haar voeding en of sy gereeld mediese ondersoeke ondergaan ’n sleutelfaktor vir die gesondheid van die baba is waarmee sy nog nie eens swanger is nie,” sê Tomlinson.

Dit is ook die geval met geestesgesondheid. “Navorsing het 30 jaar gelede hoofsaaklik oor nageboortelike depressie gegaan en die impak wat dit op moeder en kind het. Later het ons besef voorgeboortelike depressie is net so belangrik, indien nie meer nie,” verduidelik Tomlinson. “Chroniese depressie is ook veel erger as ’n enkele voorval.”

Geen inenting teen teëspoed

Gevolglik is wêreldwyd voorbrand gemaak vir investering in intervensies in die vroeë kinderdae. Maar niks kan ’n kind ten volle teen ontwikkelings-ontwrigting “inent” nie. “Ons het gevind dat intervensies soms net baie klein positiewe impak maak, of soms sal groot impakte taan. Soms verwelk dit en kom dan weer later te voorskyn,” sê Skeen. “Mens kan nie verwag dat net een kort program in die vroeë jare die uitkomste van mense se lewens sal verander nie, veral nie in omstandighede van uiterste armoede nie.”

Volgehoue investering is nodig – met inbegrip van, en dalk spesifiek, tydens adolessensie. “Terwyl breinontwikkeling ontsettend vinnig gedurende daardie eerste duisend dae plaasvind, gepaard met die uitskakeling van baie sinapse, weet ons nou dat die brein ook tydens adolessensie geweldig ontwikkel,” sê Tomlinson.

Huidige navorsing dui daarop dat sekere adolessentintervensies besonder suksesvol is, veral dié wat op interpersoonlike vaardighede en emosionele regulering fokus. Maar sulke bevindings was meestal uit hoë-inkomstelande afkomstig en die uitdaging is om hierdie intervensies vir lae-inkomste-omgewings aan te pas. Die ILCHR werk saam met die WGO aan riglyne vir sulke programme en verken geteikende voorkoming vir adolessente met ’n risiko vir depressie en angs, middelmisbruik, aggressie en selfbesering.

Ander belangrike ILCHR-werk wat intervensies vir jonger kinders toets, sluit in die Thula Sana-proef (“Hush Baby”) in Suid-Afrika, die Philani-proef en die Mphatlalatsane-studie in Lesotho. Almal het behels dat gemeenskapsgesondheidswerkers huisbesoeke gedurende swangerskap en die vroeë kinderdae by moeders aflê.

Die Philani-studie volg die impak van ’n tuisbesoek-program wat deur ’n bekende nie-regeringsorganisasie in Khayelitsha gedoen is. Die Mphatlalatsane-studie, wat in 2018 voltooi is, het gefokus op ’n groepsgebaseerde intervensie oor voeding, MIV-toetse en taalontwikkeling. Vir die Thula Sana-proef het die ILCHR kinders vir die eerste 18 maande gevolg, weer op 13-jarige ouderdom getoets, en later is die groep ingesluit by ’n intervensie vir adolessente. “Jy probeer vasstel wanneer intervensies die doeltreffendste is – gee ’n intervensie op ouderdom 17 ’n betekenisvolle hupstoot aan ’n intervensie wat op die eerste ses maande gegrond is?” verduidelik Tomlinson.

Uitdagings van langtermyn-navorsing

Lewensloop-studies kan duur en tydrowend wees: Thula Sana het oor 18 jaar gestrek en die Philani-studie oor agt. Die logistiek is ’n uitdaging: Dataversamelaars “verdwyn vir ’n maand lank in die landelike Oos-Kaap of Lesotho en beweeg van dorp tot dorp,” sê Tomlinson. Soms is viertrekvoertuie of selfs donkies nodig om toegang te bekom.

Die werk is ook konseptueel gesproke ’n uitdaging. Geestesgesondheid is moeilik meetbaar, net soos teenspoed, geweld en armoede. “Soms is dit moeilik om te bepaal watter faktore direkte impak dit op uitkomste het,” sê Skeen. “Ons probeer om die kinders se blootstelling aan allerhande risiko’s binne die individuele en die onmiddellike omgewing te meet.”

En daar is so baie faktore: Sommige kinders sukkel weens die “kleinste omgewingsafjak … maar as daardie selfde kind in ’n baie goeie omgewing was, sou hulle gefloreer het,” verduidelik Tomlinson.


Onderskrif: Prof Mark Tomlinson en dr Sarah Skeen

 

Foto-erkenning: Stefan Els