Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

TUBERKULOSE NOG ’N SLAG VIR WILDEHONDE

Engela Duvenage

Studies toon vier uit elke vyf in KNP is besmet

Vier uit elke vyf wildehonde in die Kruger Nasionale Park (KNP) is besmet met bakterieë wat beestuberkulose (bTB) by huis- en wilde diere veroorsaak. Dít volgens studies van die Nasionale Navorsingstigting se Suid-Afrikaanse Navorsingleerstoel in Diere-TB aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Dit beteken nie dat diere wat met die Mycobacterium bovis-bakterie besmet is, uiteindelik bTB sal ontwikkel en sterf nie,” sê prof Michelle Miller, leerstoel-voorsitter, wat in die Skukuza-ruskamp in die KNP gesetel is. “Maar ons weet die patogeen hou nog ’n bedreiging vir ’n reeds bedreigde spesie in en bestuur is nodig.”

Die werk maak deel uit van haar navorsingstudies oor die voorkoms en bestuur van bTB onder wilde diere. Daar is tans geen beskikbare entstof nie.

Volgens Miller is die eerste gevalle van bTB onder wilde diere in die KNP bemerk in diere wat in 2015 en 2016 gesterf het. ’n Waarnemingsprogram is begin en ’n meestersgraad-student, Roxanne Higgett, is gevra om ’n bloedgebaseerde toets te ontwikkel om besmetting in vrylopende wildehonde na te spoor. Higgett het ’n kommersieel beskikbare toets vir huishonde, in wese ’n interferon-gammavrystellingsessai, suksesvol aangepas.

“Soortgelyke essais word gebruik om mense, vee en wilde diere soos buffels en witrenosters te toets,” het sy in ’n artikel in die Journal for Wildlife Diseases geskryf, waarin die nuus oor haar toets vir wilde honde, die eerste van sy soort, aangekondig is.

Die toets is daarna beproef en bloedmonsters van 77 wildehonde is ontleed. Volgens ’n artikel in die joernaal Emerging Infectious Diseases het 82% positief getoets. Diere in 20 van die 21 troppe was besmet.

Hierdie diere het nog almal gesond gelyk. Volgens Miller sukkel diere met bTB met lugweginfeksies, het min energie en stamina en word uiteindelik baie swak en maer.

“By wildehonde sal dit beteken hulle kan eenvoudig nie by hul trop hou nie en kan makliker teikens vir ander diere word,” verduidelik sy.


Beestuberkulose is blykbaar in die 1950’s en 1960’s in die KNP ingevoer nadat buffels kontak met besmette vee aan die suidelike grens van dié beskermde gebied gehad het. Sedertdien het dit geleidelik na ander diere soos leeus, bokke en witrenosters versprei. Dit word ook in vlakvarke, ’n algemene prooi van wildehonde, aangetref.

 

‘By wildehonde sal dit beteken hulle kan eenvoudig nie by hul trop hou nie en kan makliker teikens vir ander diere word.’  – Prof Michelle Miller