Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2019
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2019
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2019
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

DIE OË AS VENSTERS VAN DIE HART

Engela Duvenage

Verandering in dimensies van retinale are dui op hartaanval, beroerte

Prof Hans Strijdom se fassinasie met alles wat met die hart en sy are te make het, is meer as suiwer fisiologies of meganies van aard.

Hy weet dat selfs die geringste verandering in die binnevoering van bloedvate ’n aanduiding kan wees van dreigende hartprobleme of ’n beroerte – die dubbele vloek van die moderne era.

“Dis belangrik om veranderinge in die binnevoering van bloedvate, wat ’n aanduiding van moontlike vaskulêre endoteliele disfunksie kan wees, so gou moontlik te bespeur,” verduidelik hy die motivering vir die EndoAfrica-studie wat hy sedert 2015 in die Afdeling Mediese Fisiologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe lei.

Hierdie multiterrein-, multinasionale onderneming betrek medewerkers van die Walter Sisulu- en Noordwes-Universiteite, asook kollegas in België en Australië.

Dit is die eerste studie wat die moontlike uitwerking ondersoek van die MI-virus en antiretrovirale terapie (ART) op die kardiovaskulêre gesondheid van mense in Afrika suid van die Sahara wat met MIV leef. Die uitwerking van lugbesoedeling op die streek se mense word ook bekyk.

“Tradisioneel is rook, hipertensie en diabetes groot kardiovaskulêre risikofaktore. Ontluikende faktore soos MIV en lugbesoedeling tree ook vinnig op die voorgrond as onderliggende oorsake van hartsiektes,” merk Strijdom op.

“Suider-Afrika is die episentrum van MIV-infeksies in die wêreld, maar ons weet baie min oor hoe die virus en die behandeling daarvan die streek se inwoners raak. Hierdie inligting kan ons plaaslike gesondheidsorgstelsel help om riglyne te ontwikkel vir die bestuur van die kardiovaskulêre gesondheid van pasiënte wat met MIV leef.”

Nie-indringende instrumente

Sel- en diergebaseerde eksperimentele modelle word gebruik, terwyl menslike studies ook deel van die EndoAfrica-pakket is. Die gesondheidstatus van ’n groep deelnemers in Kaapstad en Worcester word met ’n verskeidenheid van nie-indringende tegnieke gevolg.

Nadat hy jare lank met vaskulêre siektes en endoteliele navorsing gemoeid was, weet Strijdom presies hoe moeilik en eties gelaai sulke studies kan wees. Monsters moet óf nadoods bekom word, óf navorsers moet tevrede wees met die resultate van bloedserumtoetse of selkulture wat in laboratoriums gekweek is.

Dis hoekom hy baie tevrede is met die nie-indringende instrumente tot die beskikking van sy EndoAfrica-span. Ultraklanktoerusting help hulle om die groot are in die liggaam te visualiseer, soos dié in die nek.

Strijdom se laboratorium is een van slegs ’n paar in die land met die kundigheid om retinale mikro-bloedvatnavorsing te doen. Dit word met ’n digitale retina-kamera gedoen. Dit stel die navorsingspan in staat om die grootte, vorm en binnevoering van piepklein bloedvate met ’n deursnit van net 0,15 millimeter noukeurig te ondersoek.

Die interpretasie van die foto’s word vergemaklik deur sagteware wat met kunsmatige intelligensie verryk is. Dit is ontwikkel deur ’n vennootinstituut van EndoAfrica, die Vlaamse Instituut vir Tegnologiese Navorsing in België.

Volgens Strijdom kan die spesifieke deursnit van retinale slagare en are ’n aanduiding van hipertensie of arterosklerose wees. ’n Vernouing van die slagare en ’n verbreding van die are kan praktisyns waarsku dat iemand ’n hartaanval of ’n beroerte kan kry.

Oor die waarde van sodanige inligting, raak Strijdom amper filosofies: “Die oë is immers die vensters van die hart.”


WAT DOEN LUGBESOEDELING AAN KAPENAARS?

’n PhD-student, Frans Everson, het in 2019 die eerste resultate van die EndoAfrica-lugbesoedelingstudie in die International Journal of  Environmental Research and Public Health gepubliseer. Dit verskaf die eerste Suid-Afrikaanse data oor toenemende kommer wêreldwyd oor die impak van lugbesoedeling op mense se gesondheid.

Everson se studiedeelnemers het in die Kaapse metropool gewoon en het vir ’n week lank rugsakke met klein lugmonsterversamelaars rondgedra. Die stand van hul gesondheid is omvattend geassesseer met die reeks tegnieke en nie-indringende instrumente wat vir die EndoAfrica-groep beskikbaar is.

Everson en sy medewerkers het ’n verband gevind tussen die hoeveelheid stikstofdioksied wat deelnemers by die huis en die werk ingeasem het en hul kanse om hoër bloeddruk te ontwikkel. Hierdie vlakke het die afmetings van hul are beïnvloed en verhoog hul risiko om arterosklerose te ontwikkel, wanneer plaak soos cholesterol aan die wande van hul are opbou.

Everson sê die bevindings is stof tot nadenke. “Al het Kaapstad veel laer vlakke van lugbesoedeling vergeleke met ander groot wêreldstede, is dit steeds genoeg om die risiko vir hartsiekte te verhoog van vroue wat in die Moederstad woon.”

Stikstofdioksied is een van vele skadelike stowwe wat in die lug vrygelaat word wanneer fossielbrandstowwe soos petrol, diesel en steenkool verbrand word.


Onderskrif: Frans Everson, prof Hans Strijdom en dr Ingrid Webster.

 

Foto-erkenning: Damien Schumann