Jaarlikse Fakulteit Publikasie 2020
Universiteit Stellenbosch
Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
Annual Faculty Publication 2020
Stellenbosch University
Medicine & Health Sciences
I-Faculty Publication 2020
iYunivesithi Stellenbosch
Ezonyango Nezeenzululwazi Kwezempilo
Innovering Profiel Navorsing Nuus In Prente

PROSTESE-STUDIE BEMAGTIG KINDERS

Edna Ellman

Lewensgehalte verbeter deur hoё-aktiwiteitvoete

Philip* is sonder bene in sy regtervoet gebore. Op die ouderdom van drie jaar het hy ʼn operasie ondergaan om sy been onder die knie te amputeer.
 
In September 2019, nadat hy jare lank prosteses gebruik het wat deur die staat verskaf is, was Philip (toe 16) een van agt kinders wat ʼn nuwe prostese ontvang het danksy ʼn skenking van Össur, ʼn maatskappy wat ortopediese toerusting vervaardig. Dit was deel van ʼn samewerkende studie tussen die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Departement Sportwetenskap, die Afdeling Ortopediese Chirurgie en die Instituut vir Sport- en Oefengeneeskunde (ISOG).
 
Kort- en langtermynuitwerking
 
Die doel van die studie was om die kort- en langtermynuitwerking van nuwe aktiewe prosteses op die liggaamlike aktiwiteit en welstand van kinders van ʼn middel tot lae sosio-ekonomiese status (SES) te assesseer, verduidelik prof Rob Lamberts van die Afdeling Ortopediese Chirurgie en ISOG. Gemma Haywood onderneem hierdie studie vir haar MSc-graad in sportwetenskap en Lamberts is haar hooftoesighouer. Die ontvangers, wat almal ʼn unilaterale onder-die-knieg (transtibiese) amputasie ondergaan het, is by die Wes-Kaapse Sentrum vir Ortopediese Stutte en Prosteses gewerf. Dit is ʼn regeringsinstelling wat ʼn wye verskeidenheid van individue van ortopediese stutte voorsien.
 
Die deelnemers het vyf liggaamlikeprestasie-toetse ondergaan wat balans, stappatrone, maksimum stap- of hardloopspoed en trappe klim geassesseer het. Hulle het ook ʼn vraelys voltooi om die psigososiale welsyn van elke deelnemer te assesseer, sê Haywood.
 
ISOG se dr Suzanne Ferreira, ʼn gerekende Paralimpiese afrigter en Haywood se mede-toesighouer, verduidelik dat al die deelnemers voorheen ʼn voet met ʼn soliede enkel en sagte hakskeen gebruik het, wat beperkte mobiliteit en sensoriese terugvoer bied. Liggaamlike aktiwiteit word ook bemoeilik omdat die basis redelik solied is en dit moeilik is om oor die voet te rol.
 
“Kinders is oor die algemeen hoogs aktief en daarom is ʼn prostese wat sporadiese vlae energie ondersteun die geskikste, sê Lamberts.
 
“Maar hierdie hoё-aktiwiteitvoete is dikwels baie duur en nie altyd toeganklik vir kinders van ʼn lae SES-agtergrond nie. Met die korrekte prostese sal dit moeilik wees om te onderskei tussen ʼn geamputeerde en ʼn kind sonder gestremdheid, omdat die nuutste tegnologie die prostese so goed by die gesonde been laat pas.
 
“As kinders voorts die korrekte been tydens hul grootwordjare het, sal hulle minder komplikasies soos knie- of heupprobleme hê wat dikwels later in die lewe opduik as die geskikte sorg nie toegepas is nie.”
 
Nadat bykans ʼn jaar verloop het sedert die kinders van die studie hulle nuwe bene gekry het, het die meeste van die jongeres ongelukkig reeds hulle prosteses weens natuurlike groei ontgroei. Die Wes-Kaapse Sentrum vir Ortopediese Stutte en Prosteses probeer intussen die nuwe prosteses se leeftyd verleng deur net die potjie te vervang, sê Ferreira.
 
Die geraamde waarde van die Össur-skenking vir die komponente van die studie was sowat R250 000. Die koste vir ʼn aktiewe prostetiese oplossing onder die knie wissel van R60 000 tot R120 000 per been.
 
Bevoordeel gesondheid, sosiale integrasie
 
“Gegrond op ons kliniese waarnemings weet ons dat kinders ná ʼn kort tydperk om aan die nuwe prostese gewoond te raak, ʼn beter lewensgehalte geniet omdat dit makliker is om rond te beweeg en te speel en interaksie met ander kinders in die buurt te hê. Dit lei gewoonlik tot die ontwikkeling van ʼn beter eiewaarde en selfvertroue, omdat die nuwe hoёtegnologie-voet ʼn groter prestasiebasis op alle gebiede moontlik gemaak het en die prostese die kind nie op enige manier beperk nie, sê Ferreira.
 
Gegrond op hierdie kliniese kennis, het Haywood se studie ten doel om die korttermyn- (4 weke) en langtermynuitwerking (6 maande) van die nuwe prostese te bepaal. Ongelukkig het die Covid-19-pandemie die navorsers verhinder om die sesmaande-opvolgdata in te samel. Afhangend van die verloop van die pandemie en die moontlikheid dat van die kinders moontlik hulle prostese kan ontgroei, mik hulle om die eenjaar-opvolgdata in te samel. Ferreira wys daarop dat die ervaring van liggaamlike aktiwiteit, oefening of sport as ʼn kind ʼn aansienlike impak het op mense se siening daarvan as volwassenes.
 
“Die sielkundige en holistiese ervaring van hierdie aktiwiteite as kinders sal ʼn impak op hulle lewenskeuses hê. Om te kan oefen sonder om deur jou prostetiese been beperk te word, beteken om beter sosiaal te kan integreer en ʼn gesonde lewenstyl te kan handhaaf. Dit het dus voordele uit ʼn gesondheidsperspektief en wat sosiale integrasie betref,” voeg Lambert by.
 
Philip se pa beaam dit: “Die prostese het hom verander wat betref ʼn aktiewer lewenstyl. Hy oefen en sal saans vinnig gaan hardloop. Sy selfvertroue het baie verbeter, hy is meer oop as ʼn mens as tevore en hy staan en loop anders.”
 
Lambert sê hierdie navorsing dui daarop dat die keuse van ʼn prostetiese oplossing wel aktiwiteitsvlakke beïnvloed. “As mens met geamputeerdes praat, is jy baie bewus van die impak van ʼn prostetiese oplossing op die geleefde ervaring. Die korttermyn-impak van hierdie navorsing was om waarde toe te voeg tot beskikbare kennis oor die impak van prostetiese oplossings vir kinders met amputasies van ʼn onderste ledemaat.
 
“Die uitkoms op lang termyn is dat ons hopelik waarde kan toevoeg tot die besluitnemende proses oor watter prostetiese oplossings kinders sal kies wat holisties vir hulle die geskikste sal wees.”

*nie sy regte naam nie.

 
‘Met die korrekte prostese sal dit moeilik wees om te onderskei tussen ʼn geamputeerde en ʼn kind sonder gestremdheid, omdat die nuutste tegnologie die prostese so goed by die gesonde been laat pas.’ – Prof Rob Lamberts