Huis Marais Kultuuraand

Hierdie is geskryf deur Drikus Conradie (Kultuur HK van Huis Marais) oor wat hulle van die kultuuraand gedink het.

“Huis Marais & Harmonie: Sondag, 24 Februarie 2013

Wat ‘n aangename geleentheid… Die dames van Harmonie het in hul massas opgedaag! Net so ook het die Huismanne in volle swang opgedaag om die talente te kom besigtig. Tot so ‘n mate dat van die djarre buite die leeskamer moes sit en maar net ‘n klein oogblink kry op die kultuur wat in die leeskamer gebeur.

Die kultuuraand is geopen deur Dirkie Myburgh wat met sy bloedrooi kitaar vir ons ‘n romantiese stukkie gesing het. Die dames se harte het gesmelt en soos dit oudergewoon die gewoonte is, kies Dirkie die liedjie so strategies sodat die hele leeskamer later saam met hom die refrein sal sing! Hartedief.

Volgende op die lys was ‘n item deur ‘n dame van Harmonie (Nelene Badenhorst) wat met egte Switserse koeiklokke (ja, jy het reg gelees) die pragtige musiekstuk “Amazing Grace” uitgevoer het. Dit was en sal heel waarskynlik die mees interessante kultuuritem wees wat enige Huisman ooit onder oë gehad het. Die populariteit en nuuskierigheid oor hierdie koeiklokke was so groot dat daar later die aand nog twee Kersliedere, nl “Joy to the World” en “Welkom, O Stille nag van vrede” gespeel het.

Naude van der Merwe het self ook ‘n stukkie legendariese “Kersfees in Kampala” vir ons gesing. Werklike nostalgie is ervaar en die dames het aan sy lippe gehang.

Nog ‘n hoogtepunt van die aand was toe een van Harmonie se seksies (Twilight Zone) ‘n Harlem Shake vir ons gegooi het!

Na daar ‘n mosie ingestel is by Huisvergadering dat Nic Loubser en JG Marais elk ‘n kultuuritem moet lewer by die kultuuraand omdat hulle te veel onderling gesels het, het net Nic tot die ‘occasion gerise’. Hy het ‘n stukkie kitaarspel en sang gelewer.

‘n Vioolduet het ook sy verskyning gemaak deur twee pragtige Harmoniete. Nicolaas van der Westhuizen het ook vir ons ‘n stukkie “Daar loop ‘n skilpad in die pad” op die klavier gespeel. Die aand is afgesluit deur ‘n kort toneelspel deur Erik van der Merwe, Ewald Schulenburg, Danie Cillie, Pieter Stofberg en Stephan Gericke.

**Oudergewoonte was Wynand Viljoen die seremoniemonster en daar was liters wyn om te sorg dat die lippe nie droog raak tydens die aand nie.”

Ons sê dankie aan die manne van Huis Marais vir ‘n baie lekker aand. Ons doen dit graag weer!

HM Kultuuraand (1)HM Kultuuraand (2)   HM Kultuuraand (3)