PERSONEELTYDSKRIF
ONDERHOUDE / 17 MAY 2019

Hoekom is HERS-SA belangrik in hoër onderwys?

Suid-Afrika se wetgewing oor geslagsgelykheid is goed, maar ons faal met die implementering daarvan. In 2018 het Statistiek Suid-Afrika bevind dat mans “meer geneig is om in betaalde werk as vroue te wees, ongeag ras”, en mans kry hoër betalende werksgeleenthede en posisies op bestuursvlak. Hoër onderwys (HO) is ʼn weerspieëling van wat in die Suid-Afrikaanse samelewing gebeur.

In 2013 was daar 72 500 vroue wat by die 26 openbare universiteite in ons land gewerk het. Dit is 53% van die werksmag by ons universiteite. Dit lyk hoog, maar 2016 HEMIS-syfers toon dat slegs 43% van vroue, beide akademiese en steundienspersoneel, in senior bestuursposisies is. Vroue-akademici maak 27,5% van die 2 218 professore in diens by ons instellings en 39,5% van die 2 131 medeprofessore by ons universiteite uit. Van die 4 890 senior dosentposte by ons instellings word 45,1% deur vroue gevul. 53,3% van die 8 498 dosentposisies en 56,6% van die 1 035 junior dosentposisies word deur vroue beklee.

As ons na die Universiteit Stellenbosch kyk, is daar steeds ongelykheid in die topstrukture, met nege vroue wat op die US se raad van 30 lede dien en 102 vroue op ʼn senaat wat uit 342 lede bestaan. Een vrou dien op die Rektor se Bestuurspan. Van die 1 337 akademiese personeel in permanente en vastetermyn-kontrakte aan die US is 697 manlik en 640 vroulik. Slegs agt van die 640 vroue is in senior bestuursposte met mans wat 28 posisies op daardie vlak beklee. Vroue maak die meerderheid (2 061) van die 3 300 steundienspersoneel in permanente en vastetermyn-posisies uit, maar slegs een vrou dien op topbestuursvlak en 14 op senior bestuursvlak. Ek is ook nie verbaas om te vind dat die meerderheid (1 230) van die vroue-personeel in vaardigheids-, akademiese en junior bestuursposisies is nie. Boonop is die rasseprofiel van vroue in senior en middelbestuursposte net so kommerwekkend.

Met min vroue op topbestuursvlak, is ons instansies steeds patriargale omgewings waar die spesifieke uitdagings wat vroue in die gesig staar en hul spesifieke behoeftes geïgnoreer word. Loopbaanvordering vir vroue word verder vertraag deur faktore soos werkskulture wat gerig is op die bevordering van mans, persepsies binne die samelewing dat mans beter leiers is en die lae aantal vroue wat aansoek doen vir senior en topbestuursposte weens ʼn werkskultuur van lang, intensiewe werksdae wat vroue se ander verantwoordelikhede kan beïnvloed. Vroue op senior en topbestuursvlak moet dikwels vyandigheid ervaar, en daar is salarisgapings tussen mans en vroue wat dieselfde werk verrig.

HERS-SA is een van die enigste organisasies in Suid-Afrika met ʼn bewese rekord in die ontwikkeling van vroue in HO op nasionale vlak en pleit vir die leierskapontwikkeling van vroue. So HERS-SA speel ʼn belangrike rol om instellings te help om geslagsgelykheid in die huidige klimaat te bereik.

Wat wil jy bereik as die nuwe voorsitter van HERS-SA?

Ek verteenwoordig een deel in die HERS-SA-masjien, wat ook ons ​​direkteur, Brightness Mangolothi, die ondervoorsitter van die raad, Shahieda Hendricks, en vyf raadslede insluit wat verbonde is aan vyf van die 26 universiteite in Suid-Afrika. Saam verteenwoordig ons ʼn diverse groep vroue met verskillende agtergronde en inkomstevlakke, asook ervarings van die HO-omgewing wat ras, gestremdhede of kulturele norme in die werkplek betref. Ek sien myself as deel van ʼn vennootskap van vroue wat werk om HERS-SA se visie te implementeer, wat bydra tot die loopbaanbevordering en leierskapsontwikkeling van vroue in die HO-sektor.

Wat was van die suksesse van HERS-SA sover?

Tot dusver het ons meer as 1 200 vroue deur die HERS-SA Akademie opgelei. Ons volgende stap is om die moontlikheid te ondersoek om mentorskapprogramme en deurlopende leergeleenthede te implementeer, beide aanlyn en by universiteite regoor Suid-Afrika, en om jong HO-personeel vroeg in hul loopbane aan die HERS-SA leierskapsontwikkelingsgeleenthede bloot te stel. Ek wil graag sien dat HERS-SA vroue se vasberadenheid versterk om hul posisie by hul instellings daadwerklik in te neem. As ons ʼn sitplek aan daardie tafel vra, skep dit die indruk dat ons in die eerste plek nooit daaraan behoort het nie.

Jy werk reeds die afgelope nege jaar as Kommunikasie- en skakelbeampte vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en vanjaar het jy vir ʼn meestersgraad in Engels ingeskryf, en jy bestuur ʼn kommunikasie-en-skakelagentskap vir die afgelope ses jaar. Hoe het jy daarin geslaag om alles te balanseer?

Ek is nie seker of ʼn mens ooit tot ʼn punt kom waar jy alles perfek kan balanseer nie. Dis iets waarmee ek sukkel. Wat ek wel weet, is dat ek lief is vir die werk wat ek by die US doen, by Wrap It Up PR & Communications, en die navorsing wat ek tans vir my meestersgraad doen. Ek dink as jy lief is vir wat jy doen, sien jy dit nie as werk nie. Dit word deel van wie jy is. Maar dit het ook sy negatiewe aspekte. Dikwels moet my man, Eldridge, my herinner om my rekenaar af te skakel en my lessenaar te verlaat lank nadat die werksdag voltooi is.

Meeste dae is my doel om die belangrike balle op ʼn gegewe dag in die lug te hou. Ek glo ook dat stadiger werk en om niks te doen belangrik is om balans te handhaaf en jou geestesgesondheid te beskerm. Ons leef in ʼn wêreld waar die grense tussen werk en rus nie meer duidelik is nie omdat ons voortdurend gekonnekteer is.

In 2017 het ek ernstige uitbranding ervaar en aan depressie gely – ʼn groot wekroep. Ek het onsuksesvol probeer om al die balle in die lug te hou. Ek het dus verlof geneem om te heroorweeg wat in ʼn agt uur lange werksdag realisties moontlik is. Sedertdien het ek meer gereeld nee gesê, ek hou by my perke, en as ander mense nie by spertye hou nie, laat ek dit nie die rede wees waarom ek laat in die nag nog besig is om my spertye te haal nie. Om vir myself te sorg en dinge stadiger te vat het vir my ʼn “revolusionêre daad” geword wat op sy beurt my loopbaan en my persoonlike lewe gebaat het, eerder as om soos ʼn hamster in ʼn wieletjie te hardloop. Ironies genoeg lewer jy beter gehalte werk wanneer jy balans ervaar.

Jy is baie passievol oor die bemagtiging van vroue op alle terreine van die lewe. Wat is die dryfveer agter hierdie passie?

As jy iemand anders bemagtig, moet jy nie huiwer om hulle ook ʼn hupstoot te gee nie. Ek het in Idasvallei grootgeword, wat ʼn gemeenskap is met ʼn mengsel van werkers- en middelklasfamilies. In so ʼn omgewing kan jy nie onbewus wees van werkloosheid, armoede en die gebrek aan toegang tot goeie gehalte onderwys vir sommige Suid-Afrikaners nie. In ons land word dit veral ʼn morele plig om ander te bemagtig as jy reeds die leer kon klim. Ek is waar ek vandag is omdat ek bemagtig is deur vroue en manlike leiers. Die vroue en mans wat ʼn impak op my lewe gehad het, maak ʼn uiteenlopende groep uit, van my oumas (nie een van hulle het skool voltooi nie), akademici en steundienspersoneel by verskeie instansies in Suid-Afrika, sakemanne en -vroue, sowel as my ouers en Eldridge. So ek kan nie anders as om passievol te wees oor bemagtiging in die algemeen en spesifiek die bemagtiging van vroue nie.

Wat sal jou boodskap van aanmoediging wees om jong vroue te bemagtig?

Soek mentorskap van vroue- en manlike leiers wat jy bewonder, selfs al is hulle duisende kilometers voor jou op hul loopbaanpaaie en maak seker dat hulle jou sal aanspoor. Steek jou hand op en raak betrokke by projekte of inisiatiewe wat vaardighede vereis wat jou huidige vaardigheidsvlak ver oorskry. Jy mag langs die pad misluk en uit jou diepte voel, maar jy sal leer, nuwe vaardighede aanleer en meer selfvertroue in jou vermoëns ontwikkel. Die belangrikste – en dalk ʼn bietjie van ʼn cliché – is om jouself te wees, selfs al beteken dit dat jy nie inpas by die “norme” wat die samelewing stel nie.

WAT IS HERS-SA?

HERS-SA is in 2000 gestig deur vroue-akademici wat vroulike akademiese en steundienspersoneel geleenthede wou bied om hul leierskap en bestuursvaardighede te ontwikkel om vinniger na middel-, senior- en topbestuursposte te beweeg. Negentien jaar later word senior en bestuursposte by ons openbare instellings steeds deur mans, veral wit mans, beklee en slegs drie van die 26 HO-instellings word deur swart vroue gelei.

SHARE VIA
MEER ARTIKELS
GALERY / 22 November 2019
INTREEREDES

Vyf nuwe professors het in die laaste kwartaal van 2019 hul intreeredes gelewer. Hier is ʼn paar foto’s van die geleenthede.

lees meer
GALERY
Intreeredes November 2019
GALERY / 07 October 2019
INTREEREDES

Hierdie professore van die Universiteit Stellenbosch het in September hul intreeredes gelewer.

lees meer
GALERY
Intreeredes September 2019
GALERY / 30 August 2019
INTREEREDES

Vyf professore van die Universiteit Stellenbosch het oor die afgelope twee maande hul inteeredes gelewer.

lees meer
GALERY
Intreeredes Augustus 2019