Boodskap vanaf die Primarius – Werner van der Merwe

Werner van der Merwe

Beste Majuba Alumnus,

Vir die afgelope twee jaar het ek as Majuba se Huiskomitee-lid verantwoordelik vir alumni-verhoudinge, gedien. Die ervaringe en vriendskap wat ek hier by Grysduiwe beleef en gevorm het, asook die reël van alumni-geleenthede, is van onskatbare waarde. Ek het nou die voorreg om julle op datum te bring met Majuba en sy inwoners  se doen en late gedurende hierdie mallemeule van ‘n jaar. 

Die COVID-19 pandemie het ‘n vakuum in die jaar veroorsaak – ons moes sonder meeste van die staatmakers wat ‘n wonderlike jaar by Majuba kenmerk, klaarkom: Huisdans, Sauer-rugby en Hemel & Hel. Op Maandagoggend, die 16de Maart, het ek pas die eerste van die week se vyf ingenieurstoetse voltooi, net om te hoor die universiteit gaan sluit en dat toetsweek gekanselleer is. Ek is seker, talle van julle wat al ‘n toetsweek ervaar het, het ook al my wens dat ‘n meteoriet die toetslokaal tref, ‘n dag voor jy moet skryf, gehad … asof hierdie wens in ‘n kristalbal gemaak is en gerealiseer het, maar in die vorm van ‘n globale pandemie!

Nege inwoners het in Majuba tydens die taai grendeltyd agtergebly. Meer Majubane kon na die kampus terugkeer nadat die landwye grendelvlakke verminder is. Huidiglik is daar meer as 50 Majubane by die koshuis. Ons het ons eerste postiewe geval aan die begin van Oktober gehad, maar die inwoner het darem spoedig herstel. Ons het vinnig opgetree: die hele Communique gesluit en die leë beddens as ‘n versperring tussen ons en Kerkstraat gepak. Ek het hierdie geskryf tydens die 10-dag isolasie-tydperk wat ek en my seksie moes doen.

Onder omstandighede was die terugkeer na kampus gebeurtenisvol. Beaujolais en Napels se manne het Vasvra-aand by Aandklas as sport onderneem. Dis as gevolg van alle sport wat afgelas is en Aandklas wat die enigste kroeg in Stellenbosch was wat oopgebly het. Na ‘n weddingskap (en ‘n mate van omkopery) met die bestuurder, het die manne daardie aand se vasvra gewen en na Majuba teruggekeer met ‘n 2m-lange standbeeld van Captain Morgan. Kaptein is in die Felix Visagie staangemaak, so maak gerus nader kennis tydens die volgende Grysduif-aand.

Erfenisdag was ons enigste ‘in persoon’ geleentheid vir die kwartaal. Almal het ‘n braai in die quad geniet – dit was ‘n pragtige sonskyndag. Die feestelikhede het uiteindelik gelei tot ‘n poging om die Jerusalema-dans aan te pak. Besoek gerus ons Instagram-blad by @witduifmajuba om na die video te kyk.

Die universiteit gaan volgende jaar op die 15de Maart met klasse begin. Dis moontlik dat ons ‘n volle verwelkomingsprogram aan 2021 se eerstejaars kan bied, indien Suid-Afrika nie ‘n opwaartse neiging in COVID-19 gevalle toon nie. Ek is dankbaar vir ‘n sterk Huiskomitee vir eerskomende jaar wat oor die nodige ervaring beskik. Ons kan hierdie skip vaar al gaan die jaar stormagtig wees, want ons het vyf voormalige Huiskomitee-lede met ‘n kombinasie van sewe jaar se ervaring.

Alhoewel die toekoms onseker is, kan ek jou verseker dat die manne van Majuba nie gaan toelaat dat ‘n virus hulle onderkry nie. Ek wens jou goeie gesondheid en voorspoed vir 2021 toe.

Opregte Witduif-groete,

Werner van der Merwe – Majuba Primarius 2020/2021