Endler Konsertreeks

Stellenbosch Universiteit spog met een van die beste musiekdepartemente in Suid-Afrika.  Ons wêreldklas fasiliteite sluit die gesogte Endlersaal in, met akoestiek wat spesiaal ontwerp is vir ‘n optimale konsertervaring.

Die Departement Musiek is al sedert sy ontstaan in 1905 (aanvanklik as Konservatorium) bekend vir die goeie gehalte klassieke musiekkonserte waaraan die Stellenbosse gemeenskap gewoond geraak het. Hierdie konsertaanbod het gegroei tot ‘n omvattende konsertreeks wat ‘n verskeidenheid van musiekgenres akkommodeer, insluitende jazz, koor- en operamusiek. Benewens die hoë professionele aansien wat die Endler Konsertreeks geniet, bied dit blootstelling vir universiteitstudente van reg oor die land, maar veral van die Universiteit Stellenbosch. Hierdie omvattende konsertreeks word in ses onderafdelings bemark om ’n diverse en geïntegreerde gehoor te lok, en ten doel stel om die omliggende gemeenskap te verenig, op te hef en te inspireer.

Die Endler Konsertreeks dien ook as deel van die Departement se akademiese aanbod, en funksioneer as ‘n belangrike spreekbuis vir kreatiewe werk van dosente en studente, terwyl besoekende kunstenaars die musieklewe verder verbreed met insette op nasionale asook internasionale vlak. Hierdie forum bied ‘n verrykende diens aan die gemeenskap van Stellenbosch maar ook die breë Suid-Afrikaanse musieklewe. .

Die Endler Konsertreeks kan hierdie doel bereik deur:

1) Die vestiging van ‘n handelsmerk vir ‘n unieke KONSERTREEKS wat gebruik maak van ‘n wye spektrum musici. Hierdie diversiteit het nie net ten doel om vermaak aan ’n diverse groep konsertgangers te verskaf nie, maar om ook as ’n platform vir die uiteenlopende akademiese belange van die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement te dien.

2) Om GELEENTHEDE VIR JONG MUSICI te skep sodat hulle openbare blootstelling kan geniet, en samewerkingsgeleenthede tussen mede-studente asook professionele musici in hul veld kan ontgin.

3) Om verdere samewerking met die Universiteit Stellenbosch, Departement Musiek aan te moedig deur aan professionele Suid-Afrikaanse en Internasionele musici ’n PLATVORM vir optrede te verskaf.

Die Konsertreeks bied tussen 40 en 50 konserte wat jaarliks tussen Februarie en November plaasvind. Hierdie konserte word in ses sub-kategorieë onderverdeel:

Prestige-reeks: bied uitvoerings deur ’n kombinasie van internasionaal erkende Suid-Afrikaanse kunstenaars, oorsese kunstenaars, of ‘n kombinasie van van beide groepe in solo- of kamermusiekkonserte.

Koorreeks: bied uitvoerings deur verskeie bekroonde kore wat aan die Universiteit Stellenbosch verbind is, naamlik die Stellenbosch Universiteitskoor, en Departementele kore soos die SU Kamerkoor, en Schola Cantorum.

Solouitvoerings- en Kamermusiek-reeks: bied kamermusiek uitvoerings deur ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse en oorsese kunstenaars, of samewerking van beide kombinasies.

Rising Stars: bied uitvoerings deur jong en opkomende Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Jazz @ the Endler: bied uitvoerings deur die Departementele jazz ensemble, beter bekend as die Universiteit Stellenbosch Jazz Band, sowel as deur kleiner plaaslike ensembles.

Vroeë Musiek-reeks: beoog om ’n spilpunt te word vir aktiwiteite wat betrekking het tot Vroeë Musiek en histories ingelidgde uitvoeringspraktyk (HIPP) in Suid-Afrika.

Orkes-reeks: bied vertonings deur die Departementele simfonieorkes, bekend as die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes, asook die ander Departementele ensembles: die Universiteit van Stellenbosch Simfoniese Hout- en Koperblaasensemble, sowel as die US Camerata. Die reeks bied ook uitvoerings deur besoekende oorsese orkeste.

hyperlink

facebook