Skip to main content
All Posts By

admin

Die verklanking van die Joodse Argief: ‘n Voortsetting van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot musiek

By NuusNo Comments

Die musiekfees onder die titel Out of the Shadows: Rediscovering Jewish Music and Theatre, waarby etlike uitvoerings tussen 10 en 17 September vanjaar in Kaapstad en Stellenbosch plaasgevind het, was volgens alle aanduidings ‘n groot sukses. Die fees was die finale in ‘n reeks wat ook in Leeds en York (VK), Wisconsin-Madison (VSA), Praag, Pilsen en Terezin (Tsjeggië) en Sydney (Australië) aangebied is. Alle uitvoerings was op die een of ander manier die resultate van die projek, wat geborg is deur beide die Britse Kunste-organisasie en die plaaslike Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Ingesluit by die projek se 25 internasionale vennote was die Kaapstadse Holocaust-sentrum, die Kaapse Filharmonie, en die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch. Die US se deelname is ‘n bevestiging van dié instansie se uitnemende internasionale posisie deur sy drama- en musiekdepartemente.

Die projek se doelwit is die herontdekking van verlore of vergete artefakte wat verband hou met musikale uitvoeringspraktyke in Joodse ghettos en konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog, wat dikwels betekenisvolle sentra van musikale aktiwiteite was. Verhoogstukke, tekste en musiekmanuskripte het aan die lig gekom, en gehore het waardevolle plaaslike eerste uitvoerings van sulke werke beleef. Stellenbosch en Kaapstad het gesamentlik 14 uitvoerings aangebied, wat 11 eerste uitvoerings in 9 verskillende lokale ingesluit het.

Beide Sydney en Stellenbosch is uitgesonder vir die aanbieding van ‘n roerende komedie, Prinz Bettliegend, ‘n rekonstruksie gebaseer op herontdekte musiekitems en Holocaust-oorlewendes se getuienis, soos saamgestel deur die projek-navorser Dr Lisa Peschel. Beide opvoerings in Stellenbosch en Kaapstad is uitverkoop. US-dramastudente (onder die direksie van Amelda Brand) het trane en applous van sowel die gehoor as die projekspan ontlok. US-personeellid Leonore Bredekamp – wat by sowel die Musiek-en die Dramadepartment betrokke is – het die produksie se musikale leiding geneem, en ook as basghitaarspeler opgetree. Die instrumentale ensemble is moontlik gemaak deur die Musiekdepartement se organiseerder van Sertifikaatprogramme, Felicia Lesch, en het US studente Throy Petersen (klavier), Kristi Boonzaaier (klarinet), Bradley Martin (viool), Esra Januarie (perkussie) en die US-alumnus Leon Oosthuizen (akkordion) ingesluit.

Dokumente uit die Musiekdepartement se eie Joodse Argief is saamgestel deur Santie de Jongh, en in die Musiekbiblioteek en die Behrens-foyer uitgestal. Hierdie uitstalling het die indrukwekkende uitstalling van die Leeds Universiteit aangevul wat die reisende uitvoerings vergesel het. Die omvangryke navorsing wat gepaard gegaan het met die projek is ook tydens ‘n colloquium in the Jannasch-saal toegelig. Besprekings wat uit die colloquium voortgevloei het is voortgesit tydens ‘n simposium by Kaplan-sentrum vir Joodse studies aan die Universiteit van Kaapstad. Personeellede van die US-Musiekdepartement was goed verteenwoordig by hierdie geleenthede, met uitvoerings van liedere en klavierwerke van Viktor Ullmann, asook ‘n seleksie van kort klavierwerke van die 12-jarige Josima Feldschuh, en kamermusiekwerke van Wilhem Grosz, Werner Baer en Walter Wurzburger. Personeellede Pieter Grobler (klavier), Minette du Toit Pearce (alt), Jolene Auret Kappis (sopraan) en Peter Martens (tjello) het kragte saamgesnoer met die voorste musici van Kaapstad. Na afloop van die openingsgeleentheid in die Shul in Kaapstad, is Rooikappie  – ‘n kinderopera van Wilhelm Grosz –  in die Hugo Lambrechts ouditorium opgevoer, en die finale uitvoering is gewy aan koormusiek van ‘n verskeidenheid Holocaust-komponiste, met die Kaapse Solistekoor, in die Erin-saal, met deelname deur US-musiekstudente, alumni en ad-hoc-personeel: Colette Brand (tjello), David Bester en Piet de Beer (viool), Visser Liebenberg (klarinet), Myles Roberts (fluit) en Roxane Steffen (kontrabas). Nie minder nie as 12 US- en Kamermusiekfees-alumni het deel gevorm van die Kaapstadse Filharmonie in ‘n historiese uitvoering van Grosz se Serenade vir groot orkes, benewens Richard Strauss se indrukwekkende toondig Also sprach Zarathustra. Die Australiese argiefnavorser Joseph Toltz het die konsert beskryf as “… die eerste uitvoering in menseheugenis van een van Grosz se vroeë orkeswerke.” Die laaste keer dat die werk gehoor is, was ‘n uitvoering deur die Weense Filharmonie onder die leiding van Felix Weingartner in die 1920s.

Aan die een kant streef die Argiefprojek daarna om die stemme te laat hoor van komponiste, dramaturge en digters wat deur die Holocaust onderdruk of verdoem is, en aan die ander kant benadruk die projek die beginsel van herinnering en herdenking, deur die rekonstruksie van ‘n vergete nalatenskap deur middel van drama en musiek. Vir hierdie doel het studente van beide instansies toegang gekry tot Joodse tekste uit die oorogsjare om te toonset, en sodoende nuwe musiek daar te stel en wêreldwyd bekend te stel aan gehore wat andersins nie van die bestaan van sulke tekste bewus sou gewees het nie.

Die vooraanstaande Suid-Afrikaanse komponis Jeanne Zaidel-Rudolph het die projek saamgevat:  “ Die simposia en konserte was verteenwoordigend van die hoogste vlak van musikale en intellektuele kwaliteit … die uitstaande hoogtepunt was die besondere vlak van die nuwe komposisies deur die studente van Stellenbosch en Kaapstad … As ‘n professor van komposisie by Wits Universiteit vir baie jare, kan ek die versekering gee dat hierdie studente hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het  – tot so ‘n mate dat die organiseerders van die Leeds Universiteit  hulle voorgeneem het om hierdie nuwe komposisies in hulle argief op te neem en in te sluit vir internasionale uitvoerings … sonder die komponiste kan daar nie musiekwetenskaplikes of uitvoerders wees nie  – hulle vorm ‘n kritieke element in ‘n volhoubare musikale ekosisteem. Julle kan baie trots wees op dit wat hulle bereik het.”

Prof Henrik Hofmeyr van die Kaapstadse Suid-Afrikaanse Musiekkollege het te kenne gegee dat hy “… hoogs beïndruk” was met die werke van Stellenbosse studente. “Die resultate spreek sekerlik van ‘n lewendige komposisieklas, en is ‘n baie positiewe refleksie van die Konservatorium en die Universiteit as geheel.”

Die studentekomposisies was elk op sy eie manier inderdaad uitstaande. Ek self was uiteraard intiem betrokke by die hele fees, maar het tog soms tydens my eie deelname aan die komposisies dieselfde waardering gehad vir die musiek asof dit ‘n kwartet van Beethoven of Beethoven was. Ek weet ook dat die uitvoerders te eniger tyd weer die werke sal speel indien hulle ‘n versoek van die aard sou kry.

Die Musiekdepartement van die Universiteit van Stellenbosch het in sy geskiedenis ‘n lang ry van internasionaal gesiene komponiste opgelewer. Die eerstes daarvan dateer uit die eerste dekades van die 20ste eeu, en sluit in mense soos F.W. Jannasch, ‘n stigterslid van die instansie, verder Arnold van Wyk en Hubert du Plessis. Belangrike komponiste sedertdien sluit in Roelof Temmingh, Hans Roosenschoon (tans Komposisie-professor of Composition), Bongani Ndodana-Breen, Hans Huyssen en Hendrik Hofmeyr. Meer onlangs het die departement ook ‘n waardevolle verbintenis met Trevor Jones gehad, ‘n Suid-Afrikaans gebore internasionale filmkomponis uit Hollywood. Stellenbosch studente wat bydraes tot die Joodse Argief gemaak het sluit in Kelsey Muller, Jesse Dreyer, Carlie Schoonees, Natalie Frenz en Leonore Bredekamp, met an die spits van die nuwe geslag komponiste Arthur Feder en Antoni Schonken. Hiermee in gedagte kan die Musiekdepartement, wat goed toegerus is om hierdie nalatenskap voort te sit, nie anders nie as om ongerus te wees oor die bedreiging van toenemende finansiële beperkings.

Toe Sir Winston Churchill geadviseer is om addisionele fondse uit die begroting van Kuns en Kultuur te verkry, het hy geweier, en met ‘n wedervraag geantwoord: “Waarvoor veg ons dan?” Miskien was die Leeds Universiteit se projek Verklanking van die Joodse Argief ‘n tydige aansporing vir ‘n volgende golf in die geskiedenis van die Universiteit se indrukwekkende komposisie-bydrae. Om die minste te sê. Het dit ‘n internasionaal-erkende verhoog gebied wat die betekenisvolle potensiaal waaroor ons beskik ten toon te stel.

Op Saterdag 30 September het die Universiteit van Stellenbosch se simfonieorkes hulde gebring aan prof Hans Roosenschoon, wat aan die einde van hierdie jaar aftree, met ‘n uitvoering van sy Vier gebede (2004). Soos die geval is met die studentekomponiste van die Joodse Argief, berus hierdie werk ook op ‘n teks van diepgaande betekenis.

In reaksie op ‘n versoek om kommentaar op die Joodse Argiefprojek, het Roosenschoon geskryf: “Laat ons gewetens en on wese in die wêreld nooit weer stilgemaak word deur onmenslike uitwissing nie. Laat ons luister na andere …….”

Vir meer inligting oor die Joodse Argiefprojek, en die projek se navorsinspan en video-opnames, raadpleeg asseblief die webwerf www.ptja.leeds.ac.uk.

Peter Martens

10 Oktober 2017

 

By NuusNo Comments

Die Musiekdepartement, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Kantoor vir Transformasie, die Departement Visuele Kunste en die Vroueforum, het ‘n konsert ter viering van Vrouedag in Augustus in die Endlersaal in Stellenbosch aangebied. Die US Jazzorkes het die verhoog aan die brand gespeel onder die leiding van Felicia Lesch saam met die jazz-legende Gloria Bosman en die jazz-sanger en digter, Mihi-Tuwi Matshingana. 

Die aand is spesifiek opgedra aan Charlotte Mannya Maxeke – die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou wat tersiêre onderrig ondergaan het en in 1901 in die VSA gegradueer het. Haar mantra, “As jy jouself ophef, bring jy iemand saam met jou”, is ‘n leuse wat die kunstenaars Felicia Lesch, Bosman en Matshingana heelhartig omhels.

Lesch is passievol oor musiek as ‘n werktuig vir sosiale verandering en het die US Jazzorkes as een van die ensembles van die Sertifikaatprogram gestig. Die Sertifikaatprogram dien as ‘n voorgraadse voorbereidingsprogram van die US Musiekdepartement en is geskep om studente te bemagtig met die vaardighede om ‘n BMus of Diploma program op tersiêre vlak te onderneem. 

Matshingana het haar BCom-graad by die US in 2014 voltooi, terwyl sy ook die Musiekdepartement se Sertifikaatprogram studeer het. Sy het tydens die konsert aan dié program hulde gebring. Sy is tans ‘n derdejaarstudent in Jazz-studies by Wits Universiteit in Johannesburg. 

Die Suid-Afrikaanse skrywer en joernalis Zubeida Jaffer se derde boek, Beauty of the heart – wat hulde bring aan Maxeke en ook vars informasie oor haar lewe aan die lig bring – is by die geleentheid verkoop. Juweliere wat deel was van die juweliersuitstalling van Kutlwano Cele, ‘n student van die Departement Visuele Kunste, is ook daar verkoop.

Die Studenteraad en baie studente van ander departemente en fakulteite het die konsert ondersteun. 

“Vir sommige was dit hul eerste “Endler ervaring”, wat dit ‘n besonderse vreugdevolle gebeurtenis gemaak het,” sê Monica du Toit van die Kantoor vir Transformasie.

Spesiale gaste van binne die fakulteit, Vroueforum, Geslagsgelykheidseenheid, US Museum, US Kantoor vir Transformasie asook gemeenskapsvennote van die Musiekdepartement se eie Sertifikaatprogram, het ook die Vrouedag-vieringskonsert bygewoon. 

Samewerking met die Kaapstad Animasieskool

By NuusNo Comments

Antoni Schonken en Arthur Feder lewer in samewerking met die Kaapstad Animasieskool klankbane aan die finalejaarprojekte. Daarmee saam bestuur Aret Lambrechts van die Musiektegnologie Departement die klank-effekte, terwyl ons studente (Carlie Schoonees, Jesse Dreyer, Kristi Boonzaaier) die klankbane opneem.

In onlangse filmfeeste het hul werk die volgende toekennings gewen:
New York Internasionale Film- en Televisiefees 2017:
Ben & Jerry (komponis: Arthur Feder) – Wêreld Goue Medalje
Hewn (komponis: Antoni Schonken, Carlie Schoonees, Jesse Dreyer) – Wêreld Goue Medalje
Khaya (komponis: Antoni Schonken) – Wêreld Goue Medalje
Nova (komponis: Arthur Feder) – Silwermedalje
So you want to be a goblin? (komponis: Kristi Boonzaaier) – Finalis Sertifikaat
Kaapstad Internasionale Animasiefees 2017:
Hewn – Beste Regie, Beste Kunsontwep, Beste Storie
Ben & Jerry – Beste Karakter-animasie, Beste Beligting, Beste Spanproduksie
Sedert 2015 het die getal toekennings tot 25 gegroei. Dit sluit in erkennings by die Annecy Fees, asook toekennings vir die beste klankontwerp, beste klankbaan, beste kort animasie en die beste animasie studentefilm.

Veels geluk aan almal!

Universiteit Stellenbosch Kamerkoor keer terug vanaf Hongkong

By Nuus, Uncategorized @afNo Comments

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor het pas van ‘n uiters suksesvolle toer in Hongkong teruggekeer. Die koor is as gaskunstenaars na die 2017 Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees genooi, wat vanaf 17 tot 22 Julie 2017 plaasgevind het. ‘n Uitnodiging van hierdie aard kan as ‘n groot en besonderse eer beskou word.

Die Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees is een van die belangrikste koorfeeste ter wêreld en lok 200 deelnemende kore van regoor die wêreld.

Die jong ensemble, wat onder leiding van Martin Berger staan, het ontwikkel tot een van Suid-Afrika se voorste kamerkore—internasionaal gerespekteer en plaaslik relevant. Met ‘n diversiteit in repertoire, verteenwoordig die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor die verskeidenheid koormusiekstyle wat in die land te vinde is.

Die koor het op die 18de Julie by die openingseremonie opgetree, die 19de Julie ‘n volle aandkonsert aangebied en op die 19de Julie by die Twintigste-Herdenking-Vieringskonsert van die vestiging van die Hongkong Spesiale Administratiewe Streek gesing. Alle optredes is met oorweldigende entoesiasme van die gehoor ontvang.

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor is vereer met die teenwoordigheid en ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Konsul-generaal tot Hongkong, Mnr Madoda Ntshinga, by beide die openingseremonie en die volle aandkonsert. Hy het die koor geprys dat hulle “…die  Suid-Afrikaanse vlag hoog hou soos ware ambassadeurs van ons land.”

Stellenbosch studente maak skoonskip by ATKV

By NuusNo Comments

Tydens ’n glansgeleentheid in Parow op Saterdagaand, 29 Julie, is virtuoso pianis, Sulayman Human, aangewys as die algehele wenner van die nasionale  instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq.

ATKV-Muziq, Suid-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisie, wat onder andere internasionale pianiste Ben Schoeman en Megan-Geoffrey Prins as  algehele wenners opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassiekemusiek in Suid-Afrika. Dit is ‘n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar.  ’n Totale prysgeld van R180 000 word uitgeloof.

Sulayman Human (24), is ’n meestersgraad student aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sulayman het die algehele eersteprys van R65 000 ontvang, asook die prys vir die Beste Vertolking van ’n Barok of Klassieke werk tydens die Finale Ronde. Laasgenoemde prys, ter waarde van R8500, is aan hom toegeken vir sy vertolking van Mozart se Sonate nr. 10 in C majeur, K330; III. Allegretto.

Cameron William (saksofoon) het die tweede plek verower en R32 000 ontvang.  Die derde prys (ter waarde van R16 000) is verower deur Jeffrey Armstrong (viool).

’n Bonusprys van R8 500 is ook aan Cameron Williams toegeken vir die Beste Vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse Werk tydens die Tweede Ronde van hierdie kompetisie. Williams het die prys ontvang vir sy vertolking van A. Stephenson se Inleiding en Allegro.

Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding. Uit hierdie groep deelnemers is die beste tien musici gekies wat aan die tweede en derde (finale) rondes in Parow die afgelope paar dae deelgeneem het.  Na afloop van die tweede ronde is die top vyf kandidate aangewys as finaliste.  Naas Sulayman Human, Cameron Williams en Jeffrey Armstrong was Brian Bae (klavier) en Jonathan Mayer (viool) ook finaliste.

Elke finalis het R10 000 ontvang.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.

Veelbekroonde Pianis terug uit VSA vir gratis opvoering

By NuusNo Comments

Veelbekroonde Suid-Afrikaanse pianis, Megan-Geoffrey Prins, bied  Vrydag, 28 Julie 2017 om 20:00 ‘n gratis uitvoering in die Endlersaal by die Universiteit van Stellenbosch (SU) Musiek Departement aan.

Prins is tans besig om sy Doktorale studies in Musiekkuns aan die Cleveland Institute of Music in die VSA te voltooi.  Hy het sy Meestersgraad by die instituut behaal onder die befaamde pianis, Antonio Pompa-Baldi.  Verlede jaar het Prins die ATKV Muziq Instrumentale Klasiekemusiekkompetisie gewen.  In 2015 is hy bekroon as die wenner van die Vyfde UNISA Nasionale Klavierkompetisie en het ook die eerste Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfeeskompetisie gewen.

Gedurende sy Meestersgraad en tot dusver vir sy Doktoraal, het Prins staat gemaak op die Oppenheimer Gedenktrust, die Nasionale Kunsteraad, privaat borge en aanlynfondsinsameling om sy studiefooie en onkoste te dek.  Hy hoop om voor sy terugkeer na Cleveland aan die einde van Augustus 2017 voldoende befondsing vir hierdie laaste been van sy formele studies te bekom.

“Ek is geroer deur die oorweldigende ondersteuning, beide finansieel en emosioneel, wat ek tot dusver in die verloop van my studies ervaar het” sê Prins.  “Ek is verheug dat die SU Musiek Departement hierdie gratis konsert aanbied.  Dit is ‘n geleentheid vir my om almal te bedank wie my tot dusver ondersteun het en dit gee my die geleentheid om my gaste in te lig oor die vordering van my fondsinsamelingproses.”

Prins sal in die eerste helfte van die opvoering werke van  Joseph Haydn, Frédéric Chopin en die Suid-Afrikaanse komponis, Graham Newcarter, speel.  Hy sal dan die program in die tweede helfte afsluit met ‘n seleksie uit Sergei Lyapunov se 12 Etudes d`Exécution Transcendante.

Vir meer inligting, besoek Megan-Geoffrey se webtuiste by www.megangeoffreyprins.com

Peter Martens

By Uncategorized @afNo Comments

martensp@sun.ac.za 

Peter Martens verwerf ’n meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad en ’n doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in sy vormingsjare onder Dalena Roux se leiding studeer het alvorens hy onder Heidi Litschauer aan die Mozarteum in Salzburg studeer het. In 1993 keer Peter terug na Suid-Afrika en beklee posisies as leiertjellis vir die New Arts Philharmonic Pretoria en die Kaapstad Filharmoniese Orkes, voor hy by die Universiteit Stellenbosch aangestel word waar hy tans die direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is. Hy is lid van die Amici Strykkwartet, geniet kamermusiek saam met onder meer Leon Bosch (kontrabas), David Juritz (viool), Benjamin Schmid (viool) en Leslie Howard (klavier), en het al saam met die Brodsky Strykkwartet in Londen opgetree. Concerto-optredes het gelei tot samewerking met ’n verskeidenheid knap dirigente soos Victor Yampolsky, Bernard Gueller, Douglas Boyd, Wolfram Christ, Nicholas Cleobury en Jonas Alber. Hy het deelgeneem aan feeste in Rusland, Holland, Oostenryk, Zimbabwe, Mosambiek en Portugal en het ook al in die Verenigde Koninkryk en Verenigde State van Amerika opgetree. Baie Suid-Afrikaanse komponiste het werke vir hom gekomponeer, waarvan die belangrikste die Tjellokonsert deur Allan Stephenson, wat hy vir Meridian Records saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes opgeneem het. Hy het die Bach Tjello-suites en Beethoven Tjellosonates vir TwoPianists Records opgeneem. Peter het onlangs ’n baroktjello bekom vir sy optrede saam met L’Orfeo Baroque ter viering van dr. Barry Smith se 50 jaar van musiekmaak in Kaapstad.

Hy is getroud met die violis, Suzanne Martens, en hulle het twee dogters.

Babette Roosenschoon

By Uncategorized @afNo Comments

Babette Roosenschoon (MMus, LLB) is ‘n tjellis wat plesier put uit ‘n loopbaan as uitvoerder, onderwyser en dosent. Babette beskik oor ‘n MMus-graad in uitvoering wat sy aan die Universiteit van Stellenbosch, onder leidiing van Dalena Roux verwerf het. Haar vroeë vorming as tjellis het ook gebaat by tjellis Human Coetzee aan die NWU-Konservatorium in Potchefstroom. Haar studies is verder voortgesit aan die Mozarteum in Salzburg (Oostenryk), onder die leiding van Heidi Litschauer, en sy het ook nagraadse opleiding aan die Universiteit  van Noord-Texas van wyle Eugene Osadchy en Barok-tjelloklasse van Allen Whear ontvang.

Babette het op 24-jarige ouderdom ‘n tjello-pos aan die Kaapstadse Filharmonie bekom, wat sy vir 8 jaar beklee het, en tot belangrike hoogtepunte gelei het, soos optredes saam met talle internasionale kunstenaars, waar onder kunstenaars soos Joshua Bell, Andrea Bocelli, Mischa Maisky en Sarah Chang.

In 2017 het Babette as deeltydse dosent aangesluit by die Musiekdepartment aan die Universteit van Stellenbosch. Haar benadering tot tjello-onderrig  behels ‘n unieke onderrigfilosofie, met klem op die ontwikkeling van ‘n musiekbewustheid en tegniese kundigheid, beginsels wat haar – danksy haar onlangse verwerwing van die LLB-graad – in staat stel om  ook die musiekindustrie beter te verstaan.

As kamermusikus is Babette lid van Juliet Strykkwartet en ad hoc-lid van die Camerata Tinta Barocca, en tjellis in die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

As lid van die onlangs gestigte Suid-Afrikaanse Strykerstigting  onderneem sy om die saak van samewerking tussen strykers en die ontwikkeling van strykersvaardighede in Suid-Afrika te bevorder.

Close Menu