Skip to main content

Erik Dippenaar

By September 7, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

Erik Dippenaar

erikdip@gmail.com

Erik Dippenaar het die graad BMus (cum laude) in 2003 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. In 2007 is ’n MMus (cum laude) deur die Royal College of Music (RCM) in Londen aan hom toegeken. Daarna het hy die Kunstenaarsdiploma in Uitvoeringskuns aan die RCM onder Jane Chapman (klavesimbel) en Geoffrey Govier (fortepiano) in 2008 behaal.

As student in Suid-Afrika het Erik as orrelis die meeste van die belangrikste nasionale musiekkompetisies gewen, waaronder die ABSA- Nasionale Jeugmusiekkompetisie (2000), die UNISA- Nasionale Orrelkompetisie (2001), die Mabel Quick-beurskompetisie (2001), die ATKV se Musiq-kompetisie (2002), die orrelkategorie van die Distell-musiekkompetisie (2002) en die UNISA- Oorsese Musiekbeurskompetisie (2003).

Erik het van 2005 tot 2011 in Londen gewoon waar hy in verskeie voorste vroeëmusiekfeeste gespeel het, soos die Greenwich Early Music Festival, die London Handel Festival, die Brighton Early Music Festival en die Trigonale Festival der Alten Musik. Hy werk hoofsaaklik as kamermusikus en het gereeld saam met Florilegium, The London Handel Players, l’Avventura London, Amaranthos en Spirituoso opgetree.  Deur sy werk saam met Florilegium kon hy optree saam met sangers soos dame Emma Kirkby, Robin Blaze, Johanette Zomer en Gillian Keith. Hy het ook gereeld vir die English Touring Opera, die Little Baroque Company en Ensemble Serse gewerk.

Onder sy gereelde solo-uitvoerings was ’n konsert vir die British Harpsichord Society, en hy het gereeld in BBC Radio 3 se uitsendings gespeel. In 2010 het hy sy Concertgebouw-debuut gemaak. Hy is twee keer as die wenner van die RCM Early Music Competition aangewys en in 2008 is die begeleiersprys by die 7de Handel Singing Competition aan hom toegeken. Erik was ook lid van die kamermusiekgroep Musici Infaticabili, wat in 2008 die Broadwood Early Keyboard Ensemble Competition by die Fenton House- historiese instrumentversameling gewen het.

Gedurende 2008 en 2009 het Erik die posisie van Mills/Williams Junior Fellow aan die RCM beklee. Hy was een van die gereelde begeleiers vir die London Handel Singing Competition en was ’n klavesimbeldosent aan die Centre for Young Musicians, London.

Erik is tans die Artistieke Direkteur van die Kaapse barokorkes Camerata Tinta Barocca en ’n lid van die periode-ensemble die Cape Consort, sowel as ‘n deeltydse dosent in musiekgeskiedenis en historiese uitvoeringspraktyk aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is ingeskryf by die UK vir ’n PhD in musiek wat fokus op die rol wat historiese huishoudelike klawerbordinstrumente in die koloniseringsproses in Suider-Afrika gespeel het. ’n Navorsingsgenootskap is onlangs deur die Universiteit van Kaapstad aan hom toegeken.

Close Menu