Éva Tamássy: ‘n Huldiging

By January 22, 2019Nuus

Die onlangse afsterwe van die fluitis Éva Tamássy op 30 November 2018 is deur alle musiekliefhebbers betreur. ‘n Roudiens het op 12 Desember 2018 in die Dove’s Chapel, Hoofweg, Somerset-Wes, plaasgevind, waartydens oudstudent-fluitiste Gabriele von Dürckheim en Liesl Stoltz, met die ghitaarspeler Michael Hoole, musiek van CPE Bach en Jules Massenet uitgevoer het.

Éva Tamássy was sedert 1960 ‘n bekende figuur in veral Wes-Kaapse musiekkringe. As begaafde fluitis het sy ‘n leeue-aandeel gehad in die bekendstelling van fluitmusiek, en het gereeld in verskillende ensembles opgetree. Tamássy is in 1936 gebore in Budapest, Hongarye, en het daar onderrig ontvang aan die Ferenc Erkel Konservatorium en die Franz Liszt Musiek-akademie. Later het sy ook spesialiste-opleiding van die Franse fluitis Jean-Pierre Rampal ontvang.

Met die politieke onstuimigheid in Hongarye in 1956 het sy en haar familie hulle in Johannesburg gevestig, waar sy gereeld opgetree het in konserte en radio-uitsendings, sowel as solis en as kamermusikus en concerto-solis. Sy het die Voordraerslisensiaat (UNISA) in 1965 met onderskeiding verwerf. As uitvloeisel van haar optredes het sy ook gereeld opnames vir die SAUK-radio gemaak.

Sedert haar aanvaarding van die pos as dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (1960) het sy veral bekendheid verwerf vir haar kamermusiek-uitvoerings van Barokmusiek saam met kunstenaars soos Shirley Gie (orrel), Dalena Roux (tjello) en Boudewijn Scholten (klawesimbel). Sy was gereeld deel van ensembles soos Musica Antiqua, Serenade Ensemble, Pro Arte blaasensemble, die Tamássy-Fortescue Duo, Concerts 4 x 2, en die Tamássy Fluitkwartet. In die vroeë negentigerjare het sy ‘n 13-delige uitsendingsreeks From Shepherd to Symphony saamgestel en aangebied. Daar was ook programme oor die fluitvirtuoos en opvoedkundige Marcel Moyse, en oor Theobald Boehm, ‘n bekende komponis en vernuwer van die moderne dwarsfluit. Benewens onderrig het sy ook meesterklasse aangebied – in Stellenbosch, Kaapstad en Pécs (Hongarye).

Tydens haar professionele loopbaan het sy nooit teruggedeins vir die uitdagings van eietydse musiek nie, soos haar uitvoering van werke soos Berio se Sequenza getuig. Etlike plaaslike komponiste het werke vir haar geskryf, insluitende Arnold van Wyk se enigste fluitkomposisie, Poerpasledam (‘n volksetimologiese verwringing die Franse term Pour passer le temps). Vir die eerste uitvoering van die werk in 1981 is sy begelei deur die komponis self. Ander komponiste wat bygedra het tot haar repertorium is Paul Loeb van Zuilenburg, Hubert du Plessis en J Roelof Temmingh.

Fluitkomposisies wat Temmingh vir haar geskryf het, sluit in sy Façade (1971 / 1973), en Nude (1973) – beide vir fluit en klavier, ‘n Sonatine vir fluit en ghitaar (1977), Moedverloor op A mol vir 12 fluite (met 24 spelers tydens die eerste uitvoering in 1974), ‘n Fluitkwartet (1975), Psalm 42 vir vyf fluite en fagot (1976), ‘n kwartet vir fluit, hobo, klarinet en fagot, en ‘n Fluit-concerto (met Tamássy as solis saam met die USSO in 1989).

Tamássy het gereelde Europese besoeke onderneem, ten einde op hoogte te bly van die nuutste onderrigmetodes, en voorbereidings te tref vir besoeke deur haar studente aan Europese musiekskole. Saam met pianis Virginia Fortescue het die duo tussen 1990 en 1996 uitvoerings in Wenen, Budapest, asook Skotland en Frankryk gegee, en ‘n radio-optrede in Budapest. Sy was ook aktief as redigeerder van musiek en het self verwerkings van Hongaarse volksmusiek gemaak.

Na haar uitdienstrede in 1998, en tot kort voor haar dood het sy nog selfs gereeld gespeel, en ‘n handvol studente tuis onderrig. Sy word met deernis en waardering onthou deur haar familie en vriende, en in besonder geëer deur die groot getal fluitiste wat deur haar oor ‘n lang tydperk onderrig is gedurende ‘n loopbaan wat oor byna sestig jaar gestrek het.

Haar oudstudente het onderneem om haar nagedagtenis in 2019 op verskeie maniere te herdenk, soos ‘n konsert toegespits op die fluit, deur Gabriele von Dürckheim. En Tamássy se waardevolle bladmusiekversameling sal nou ‘n permanente tuiste vind in die Johnman Musieksentrum in Hertestraat. Oudstudente Marietjie Pauw, Mariëtte Schumann en Linda de Villiers het ‘n begin gemaak met ‘Die Tamássy-uur’, met ‘n uitnodiging aan fluitspelers om deel te hê aan gereelde bladleessessies, en toegang te kry tot die Tamássy-versameling.

Prof Izak Grové en Marietjie Pauw

Leave a Reply