Skip to main content

Ionna Matei

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

mioanna506@gmail.com

Ioanna Matei is deeltydse dosent in hobo aan die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad se Suid-Afrikaanse Musiekkollege, en die Beau Soleil Musieksentrum in Kenilworth.

Matei is in Roemenië gebore, en het op die ouderdom van veertien hobo onder die legendariese Pavel Tornea aan die Boekarest Musiekskool begin studeer. Sy matrikuleer in 1972 en verwerf ʼn Baccalaureus-diploma (met lof) met hobo as hoofvak. Hierna studeer sy hobo onder Radu Chisu (internasionaal bekroonde hobospeler) aan die Boekarest Konservatorium vir Musiek, en verwerf ʼn Meestersgraad in hobo-uitvoering (cum laude). Gedurende haar studies het Matei in verskeie kamermusiekgroepe gespeel asook in die simfonieorkes van die Boekarest Konservatorium.

Na haar studies word sy as hobo-onderwyser by die Boekarest Musiekskool aangestel, en tree ook op as permanente ekstra speler in die Romeense Radio- en Televisiesimfonieorkes. In 1980 verwerf sy die Hoër Onderwysdiploma in Hobo (met lof) en gee musiekonderrig tot 1985, waarna sy Roemenië verlaat.

Met haar koms na Suid-Afrika in 1985, vestig sy haar mettertyd as ʼn toonaangewende hobo-onderwyser in Kaapstad. Haar studente spog met talle onderskeidings in Royal Schools of Music-eksamens, eisteddfods en kompetisies, sommige speel eerste hobo in orkeste soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes, die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, die Miaggi, die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes en die universiteitsorkeste van Stellenbosch en Kaapstad. Hiernaas tree hulle ook as ad hoc-spelers op saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Close Menu