Voorgraadse Studies

Voorgraadse Sosiologie- en Sosiale Antropologie-modules word geneem as deel van ‘n graadprogram; elke program skryf die spesifieke modules voor wat die student wat daarby ingeskryf is, moet neem. Vir meer inligting oor hoe programme gestruktureer word en wat hulle modulevereistes is, raadpleeg die universiteit se webwerf vir voornemende studente.

InligtingModule

Voorgraadse modules

Om Sosiologie of Sosiale Antropologie as hoofvak te neem, moet ‘n student die verpligte stel dissipline-spesifieke modules volg wat in elk van die drie jare van studie beskikbaar is. Hieronder volg beskrywings van die verskillende voorgraadse modules wat in die Departement aangebied word. Vir meer tegniese aspekte, soos vakkodes en kredietwaardes, sien die Kalender Deel 4 Fakulteit Lettere & Sosiale Wetenskappe.

Vanaf die tweede jaar kan studente beide Sosiologie en Sosiale Antropologie volg as deel van die BA Sosiale Dinamika en BA Geesteswetenskappe. Dit is ‘n uitstekende kombinasie vir diegene wat nagraadse studies in die sosiale wetenskappe wil voortsit, sowel as vir ‘n toekomstige loopbaan.

Sosiologie & Sosiale Antropologie Eerstejaarmodules

Sosiologie 114 – Inleiding tot Sosiologie en Sosiale Antropologie

Sosiologie 114 is die oriëntasiemodule vir die vakgebiede van Sosiologie en Sosiale Antropologie as twee afsonderlike, maar ook komplementêre, sosiale wetenskapvakke wat deur die Departement aangebied word. Na ‘n inleiding tot die dissiplines, word studente ook bekendgestel aan navorsingsmetodologie (die gereedskapkis wat sosiale wetenskaplikes gebruik om kennis te genereer) en sosiale teorie (die kennisbasis van die dissiplines). Die inhoud van die module fokus op die konsep van sosiale stratifikasie – breedweg verstaan as die manier waarop die gemeenskap onderverdeel word in verskillende groepe – spesifiek in verhouding tot klas, ouderdom, ras en gender. Dit word verder ontgin deur middel van ‘n fokus op die temas van kultuur, sosialisering en identiteit. Die meeste van die literatuur wat in die module gebruik word is afkomstig vanuit Suid-Afrikaanse navorsing, maar dit sluit ook klassieke tekste deur deurslaggewende sosiale teoretici in. Die aanleer van akademiese vaardighede, veral in verhouding tot lees en skryf, is ‘n hoofprioriteit van hierdie module.

Koördineerder: Dr Handri Walters

Sosiologie 144 – Sosiale Kwessies in Suid-Afrika

Sosiologie 144 word in die tweede semester van die eerste jaar aangebied. Hierdie module bou voort op Sosiologie 114, en beoog veral om studente verder bekend te stel aan die dissiplines van Sosiologie en Sosiale Antropologie. Die hooftema van hierdie module is sosiale kwessies – breedweg verstaan as aangeleenthede wat slegs verduidelik kan word by wyse van faktore buite ‘n individu se persoonlike beheer en onmiddellike sosiale omgewing, en wat heelwat individue binne ‘n gemeenskap affekteer. Die sentrale oogmerk van hierdie module is ook om insig te verskaf oor hoe Suid-Afrikaners sosiale kwessies verstaan en hanteer. Dit sluit ‘n vergelykende analise in van sosiale kwessies vanuit verskillende historiese periodes, en ten opsigte van verskillende sosiale groepe volgens gender, ras/etnisiteit, sosiale klas en kultuur. Die sosiologiese fokus word gedurende die derde kwartaal aangebied, en word gevolg deur ‘n fokus op Sosiale Antropologie in die vierde kwartaal. Beide afdelings stel studente bekend aan deurslaggewende Suid-Afrikaanse sosiale kwessies wat elke jaar deur die betrokke dosente gekies word, en wat temas rondom opvoeding, gesondheid, HIV/VIGS, godsdiens of ander kwessies mag insluit. Nadat hulle hierdie module voltooi het, sal studente ‘n duideliker begrip hê van hoe beide die metodologiese en die sosiaal-teoretiese basis van die twee dissiplines op verskillende maniere begrip rondom sosiale kwessies in Suid-Afrika toelig. Studente sal derhalwe in staat wees om ‘n meer ingeligte besluit te maak rondom die keuse van óf Sosiologie óf Sosiale Antropologie as ‘n hoofvak vanaf die tweede jaar.

Koördineerder: Dr Handri Walters

Sosiologie & Sosiale Antropologie Tweedejaarmodules

Sosiologie 212 – Armoede, Ongelykheid en die Omgewing

Armoede en ongelykheid is dringende sosiale uitdagings in die meeste dele van die wêreld, insluitende Suid-Afrika. Die kursus sal die drie hoofkonsepte van armoede, ongelykheid en ontwikkeling ondersoek. Dit sal ‘n globaal-historiese benadering aanneem om te wys hoe hierdie konsepte heg verband hou met mekaar en deurslaggewend is vir ‘n verstaan van die hedendaagse gemeenskap. Wat is armoede en hoe manifesteer dit? Hoekom is ongelykheid besig om te verdiep? En hoe kan ons ontwikkeling herdink in ‘n tyd van ekologiese krisis? Die kursus sal hierdie en ander vrae ondersoek en terselfdertyd van die mees dringende sosiale aangeleenthede dwarsoor die aarde bekendstel, met ‘n spesifieke klem op hoe hulle binne Suid-Afrika materialiseer.

Studie-oogmerke

Teen die einde van die kursus sal studente in staat wees om: 

  • Kernkonsepte in die studie van armoede, ongelykheid en ontwikkeling te definieer
  • Daardie konsepte toe te pas ten opsigte van spesifieke gevallestudies binne Suid-Afrika
  • Deurslaggewende temas in die sosiologiese debatte rondom armoede, ongelykheid en ontwikkeling te bespreek

Dosent: Dr Ilse Eigelaar-Meets

Sosiale Antropologie 212 – Sosiaal-Antropologiese Temas

In hierdie kursus ondersoek ons algemene antropologiese vrae rakende wat menswees beteken, insluitende die uitoefening van politieke mag, die betekenisse van simbole, die struktuur en vorm van rituele, die manier waarop verwantskap gekonstrueer en ekonomiese handel georganiseer word, en die rol van populêre kultuur en emosies. Ons ondersoek hierdie vrae en onderwerpe deur die lens van die Antropologie van die Dood. Die fokus van die kursus is histories baie breed, en beweeg vanaf die eerste hominiede wat hulle dooies begrawe het, Egiptiese piramides en koninklike sterftes gedurende die Middeleeue, tot by die sentrale rol wat lyke as inligtingvermaaklike “kommoditeite” speel in hedendaagse populêre kultuur. Geografies gesproke sluit die kursus leesstof in vanuit elke wêreldkontinent, terwyl die onderwerpe wat ons sal dek wissel van dood en rouprosesse in die diereryk tot seks en vrugbaarheid, oorlog, regsmoord, die begrafnisindustrie en Suid-Afrika se verlede. Terwyl die dood al hierdie onderwerpe aanmekaar verbind, is die kursus nie morbied nie; dit stel tweedejaarstudente bekend aan die wonderlike diversiteit en rykheid van menslike kultuur.

Dosent: Mede-Prof Ilana van Wyk

Sosiologie 222 – Sosiale Identiteit en Ongelykheid

Die insluiting van hierdie module is gemotiveer deur ‘n besorgdheid om ‘transformasie’ te bevorder deur studente aan te moedig om krities te dink oor die wêreld rondom hulle en nie eenvoudig verskille en verdelings tussen hulle as vanselfsprekend te aanvaar nie. ‘n Hoofdoelwit van hierdie module is om ras, klas, gender en geslagtelikheid, sowel as hulle interseksies, beskikbaar te stel as onderwerpe vir bespreking, en om studente aan te moedig om na te dink oor die rol wat sulke onderwerpe in hul eie lewens speel as bronne van identifikasie of disidentifikasie, of as dimensies van mag al dan nie. Die kursus betrek literatuur en navorsing wat kategorieë en binêre sisteme van ras en geslag ontwrig, en die manier bevraagteken waarop sosioloë konsepte van ras, gender en geslagtelikheid gebruik. Met behulp van ‘n verskeidenheid van sosiologiese literatuur, teoretiese tekste, empiriese navorsing en gepubliseerde studente-outobiografieë, sowel as dokumentêre en films, daag die kursus studente uit om te dink oor ras en gender as werkwoorde eerder as byvoeglike naamwoorde, en ook om maniere te analiseer waarop ras, gender en geslagtelikheid geïmpliseer kan word by magsverhoudings en geproduseer kan word deur vorme van andering. Daar word ook besin oor die rasmaking van sosiale en seksuele verhoudings en ruimtes onder apartheid sowel as in hedendaagse SA. Verder moedig ons studente aan om krities na te dink oor diskoerse en praktyke rondom ‘transformasie’ in Suid-Afrikaanse onderrig.

Dosent: Prof Dennis Francis

Sosiale Antropologie 222 – Mediese Antropologie

Hierdie module is daarop gemik om studente se begrip van antropologiese literatuur, wat betrekking het op die verskillende oortuigings en praktyke rondom heling in Suid-Afrika, te verhoog. Dit poog ook om perspektiewe te genereer rondom die kulturele aard van hierdie Suid-Afrikaanse oortuigings en praktyke deur transnasionale vergelykings te genereer. Hierdie twee doelwitte sal bereik word deur middel van ‘n kritiese, vergelykende lees van relevante, onlangse etnografieë van Westerse biomedisyne sowel as Tradisionele, Komplementêre en Alternatiewe Medisyne (TKAM) in Suid-Afrika, Indië, China, Egipte, Puerto Rico en die Verenigde Koninkryk.

Die doelwitte van die kursus is om ‘n inleiding te verskaf tot die konsep van mediese antropologie, en om die kritiese lees en analise van tekste te fasiliteer wat handel oor toonaangewende temas in mediese antropologie, soos byvoorbeeld: die oordraging van helende kennis; waarsêery en berading; die verhouding tussen voedsel en heling; onvrugbaarheid en die sosiale gevolge daarvan; en geboorteverwante oortuigings en praktyke. Daar word ook gepoog om studente se kritiese denke te bevorder deur middel van die skryf van opstelle oor intervensies wat daarop gemik is om TKAM en Westerse biomedisyne nader aan mekaar te bring.

Dosent: Dr Efua Prah

Sosiologie 242 – Sosiologie van Kommunikasie

Ons beleef tans ‘n pandemie sowel as ‘n globale ekonomiese krisis. Hierdie is ‘n buitengewoon uitdagende periode in ons geskiedenis, en ons kan in die komende maande en jare grootskaalse sosiale veranderinge verwag. Ons is ook toenemend afhanklik van afstandgebaseerde kommunikasie met behulp van ‘n verskeidenheid digitale tegnologieë en toestelle. Terwyl die pandemie ons lewens ontwrig het, gee dit ons ook ‘n geleentheid om na te dink oor ons “nuwe normaal” en om ons lewens in ‘n post-COVID-19 toekoms te (her)oorweeg. In hierdie module hoop ek om so ‘n proses te fasiliteer deur die pandemie te gebruik as ‘n konteks vir nadenke oor kommunikasie sowel as die bemiddelende rol van kommunikasietegnologieë beide in die verlede en vandag.

In hierdie module is ons veral geïnteresseerd in die sosiale implikasies van hierdie tegnologieë, sowel as ander prosesse wat met menslike kommunikasie geassosieer word. Meer spesifiek sal ons ondersoek hoe kommunikasietegnologieë en kommunikasieverwante idees/ideologieë die gemeenskap infiltreer het en gehelp het om “gemeenskappe” (en ander groepkonstruksies) te skep gedurende die afgelope tweehonderd jaar.

In hierdie module sal jy aangemoedig word om krities na te dink oor: (1) die komplekse verhouding tussen kommunikasie (en ander) tegnologieë en sosiale verandering; en (2) die spesifieke rol wat digitale tegnologieë speel in die bemiddeling van idees rondom “ons” hede en die projeksie van sulke idees tot in die toekoms.

Dosent: Dr Lloyd Hill

Sosiale Antropologie 242 – Publieke Antropologie

“Hierdie module is gemik op die verstaan van antropologiese literatuur wat geaddresseer is aan ‘n breër publiek, en wat handel oor aangeleenthede rakende beleid, politiek en die aard van die staat in Suid-Afrika. Hierdie doel sal bereik word deur ‘n kritiese lees van relevante etnografieë vanuit post-apartheid Suid-Afrika sowel as internasionale teoretiese literatuur. 

Die doelwitte van die kursus is om ‘n inleiding te verskaf tot die konsep van publieke antropologie, en om die kritiese lees en analise van antropologiese tekste te fasiliteer wat handel oor die publieke en etiese rol van antropoloë, sowel as sake rakende beleid, politiek en die aard van die staat. Verder poog ons om studente se vaardighede te ontwikkel in terme van skryfwerk in verhouding tot die kulturele dimensies van kritiese publieke sake vir die media, en om hulle kritiese denke te bevorder deur middel van die skryf van opstelle oor debatte in verhouding tot antropoloë se publieke etiese verpligtinge.

Dosent: Dr Handri Walters

Sosiologie 252 – Industriële Sosiologie

In hierdie module word van die sentrale konsepte, debatte en temas binne die breë veld van bedryfsosiologie bekendgestel. Die module begin met ’n kort historiese en teoretiese oorsig van hoe werk oor tyd verander het en hoe dit deur verskeie teoretici geïnterpreteer word. Ons sal hierdie lesings gebruik om te ondersoek hoe COVID-19 die  werkwêreld beïnvloed het. Hierna word die impak van ekonomiese globalisasie ondersoek, voordat daar beweeg word na ’n meer in-diepte analise van die maniere waarop globale magte die wêreld van werk herstruktureer en transformeer het. Vervolgens kyk ons hoe die mag van vakbonde deur hierdie kragte beïnvloed word en hoe bestuur se benadering tot arbeidsverhoudinge hierdeur geaffekteer word. Ons sal ook ’n lesing aanbied om te ondersoek hoe COVID-19 die vakbonde beïnvloed  het en wat die toekoms vir vakbonde inhou na COVID-19. Ten slotte kyk ons hoe hierdie tendense genderverhoudings en indiensneming, sowel as probleme rondom werkloosheid en ongelykheid, beïnvloed.

Dosent: Mr Jantjie Xaba

Sosiale Antropologie 252 – Suid-Afrikaanse Antropologie

n Oorsig van etnografiese werk in Suid-Afrika, met spesifieke aandag gegee aan die veranderende teoretiese en kontekstuele dimensies. In hierdie module poog ons om die sosiale en kulturele dimensies van die gemeenskap van suidelike Afrika te verstaan. Hierdie doelwit sal bereik word deur ‘n studie van etnografiese sowel as teoretiese werk wat oor verskillende tye in die streek gedoen is.

Die fokus van hierdie kursus is op sosiaal-antropologiese benaderings wat help om sosiale verhoudings, groepsinteraksies en die skep van kulturele betekenisse in suidelike Afrika te verstaan. Die geskiedenis van hierdie streek is grotendeels gevorm deur groepsinteraksie wat dikwels gewelddadig was en wat gelei het tot die stratifikasie van die gemeenskap. Die historiese fases van kolonialisme, segregasie, apartheid en post-apartheid, sowel as die reaksies hierop, het ook heelwat van die verhoudings en sosiale kontekste gevorm waarbinne mense vandag nog in suidelike Afrika aangetref word. In hierdie module sal ons kyk na die maniere waarop sosiale antropoloë op verskillende tye hulle studies in suidelike Afrika uitgevoer het, en hoe hierdie studies insig verskaf het oor die sosiale, politieke en kulturele dimensies van gemeenskappe op die subkontinent.

Dosent: Dr Shaheed Tayob

Sosiologie & Sosiale Antropologie Derdejaarmodules

Sosiologie 314 – Sosiologiese Teorie

By wyse van ‘n inleiding tot sosiologiese teorie, is die module georganiseer rondom denkers en tekste eerder as probleme en vraagstukke. Daar word van jou verwag om krities om te gaan met belangrike teoretiese raamwerke wat poog om sin te maak van sosiale prosesse oor verskeie eeue en plekke heen. Die bestudering van sosiologiese teorie behels beide die objek van sosiologiese denke (die gemeenskap, sosiale prosesse, verandering, mag) sowel as die lens, of die manier waarop analiseonderneem word. 

In die eerste helfte word studente bekendgestel aan ‘n paar vroeë sosiologiese denkers soos Ibn Khaldun (14de eeu), voordat 19de-eeuse teoretici soos Emile Durkheim, Adam Smith, Karl Marx, Max Weber en Friedrich Nietzsche, wat invloedryke intellektuele rolle gespeel het ten opsigte van die institusionalisering van hedendaagse sosiologie, bestudeer word. Tekste word binne hulle historiese perspektief geplaas. Die tweede helfte van die module fokus op moderne en hedendaagse sosiale teorie, en wissel van teorieë van moderniteit deur laat moderniteit tot postmoderniteit en postkoloniale teorie. Studente kan verwag om enige van die volgende te lees, afhangende van die jaar: Pierre Bourdieu, Sigmund Freud, Michel Foucault, Simone de Beauvoir, Frantz Fanon, Amilcar Cabral, Aimé Césaire, Bernard Magubane, Samir Amin, Archie Mafeje, Peter Ekeh of Ifi Amadiume of Vivek Chibber. Hierdie teoretici en hulle teorieë word vir bestudering gekies op grond van die insigte wat hulle verskaf rondom individualiteit, kultuur en die moderne samelewing, sowel as die kritiek op hierdie konsepte en fenomene, soos kapitalisme, kolonialisme en aangeleenthede rakende gender, wat hulle lewer.

Die doel van beide afdelings van hierdie module is die ontwikkeling van studente se leesvaardigheid en hulle vermoeë om tekste deur toonaangewende teoretici (eerder as opsommings en sekondêre refleksies oor hierdie teorieë) te ontsyfer, en die verbetering van hulle vermoë om teorie met die hedendaagse lewe in gesprek te bring. Die module word aangebied vanuit die oortuiging dat die bestudering van sosiologiese teorie lig kan werp op belangrike hedendaagse vraagstukke, en dat sulke kennis ‘n verskil kan maak vir diegene wat teorie bestudeer en vir die gemeenskappe waarin die bestudering en toepassing van sosiale teorie ernstig opgeneem word.

Dosent: Dr Claire Lester

Sosiale Antropologie 314 – Die Lees en Handeling van Etnografie

Hierdie module is ‘n inleiding tot die lees en handeling van etnografie. In antropologie verwys etnografie beide na dit wat ons doen (die doen van etnografiese veldwerk) en dit wat ons skryf (etnografieë) nadat ons uit “die veld” terugkeer. Die doelwit is om te verstaan hoe etnografiese navorsing onderneem, geanaliseer en opgeskryf word. Deur middel van lesings en ander kursusmateriaal sal jy leer oor die verskillende benaderings tot etnografie wat oor tyd ontwikkel het, sowel as sommige van die belangrikste debatte en verskille wat binne antropologie na vore gekom het rondom etnografiese praktyk.

 Teen die einde van hierdie module behoort studente te verstaan wat etnografie is en wat die plek daarvan binne antropologie is. Studente moet ook die essensiële konneksie tussen teorie, etnografie en praxis binne antropologie verstaan, en vertroud wees met sommige van die belangrikste tendense, teoretiese benaderings en voorstellingstrategieë rondom etnografie oor die afgelope 100 jaar. Ten slotte moet studente in staat wees om toonaangewende debatte en verskille rondom die praktyk van etnografiese skryfwerk te identifiseer, en reeds hul eie etnografiese veldwerk gedoen en ‘n etnografiese voorstelling van hulle navorsing geproduseer het.

Dosent: Dr Handri Walters

Sosiologie 324 – Politieke Sosiologie

Politieke sosiologie behels die sosiologiese ontleding van politieke verskynsels wat wissel van die staat en die burgerlike samelewing tot die gesin, en ondersoek onderwerpe soos die bronne van sosiale mag, burgerskap, sosiale bewegings en politieke konflik. Dit is nogal ‘n breë veld, en in hierdie module kyk ons na vier breë temas. Die eerste afdeling fokus op teoretiese verduidelikings van die aard en verspreiding van mag binne die samelewing; die tweede op die regulering van mag in verhouding tot die staat, regering en die burgerlike samelewing; die derde op die stryd teen staatsmag, sosiale bewegings, politieke protes en die kernoorsake van geweld; en die vierde afdeling op mag buite die reëls, soos terrorisme en oorlog, en die effek hiervan op die samelewing, spesifiek op vroue. In hierdie module pas ons teorie toe op die praktyk, en gebruik ons alledaagse voorbeelde om die onderwerpe onder bespreking ‘n konteks te gee. 

Die doelwit van hierdie module is om studente bloot te stel aan verskillende teorieë rondom die verstaan van magsverhoudings in die samelewing op ‘n plaaslike sowel as ‘n globale vlak; om hulle in staat te stel om te onderskei tussen die eienskappe van die verskillende regeringsisteme, en om die regulering van mag, sowel as die rol van die burgerlike samelewing en landsburgers om politieke en sosiale verandering tot stand te bring deur druk op die staat te plaas, te beoordeel; om die rol en invloed te evalueer wat sosiale bewegings speel om sosiale en politieke verandering tot stand te bring; en om die oorsake van protes en politieke geweld te verstaan. Laastens beoog die kursus om die onderliggende oorsake van terrorisme, gewapende konflik en oorlog, en die gevolge wat hierdie verskynsels vir die gemeenskap en spesifiek vir vrou inhou, te evalueer.

Dosent: Prof Lindy Heinecken

Sosiale Antropologie 324 – Kultuur, Mag, Identiteit

Kursusraamwerk: Sosiale Antropologie 324

Kultuur, Mag, Identiteit

2022

Doelwit van die module:

Hierdie module is ‘n inleiding tot kontemporêre teorie en etnografiese skryfwerk rakende die bestudering van kultuur, mag en identiteit. Deur middel van lesings en kursusmateriaal sal jy leer hoe idees rondom kultuur dikwels verband hou met kolonialisme. Jy sal ook leer hoe om die skryf van kultuur as ‘n vorm van voorstelling te identifiseer, en om aan diskoers en mag te dink in terme van antropologiese kennisproduksie. Hierdie kursus betrek teoretiese werke rondom mag en kultuur, en rondom die manier waarop die etnografie van andersins onbemagtigde mense belangrike insigte kan bied oor hoe ons die wêreld konstrueer en teoretiseer. Daar sal van studente verwag word om krities om te gaan met die kursusmateriaal ten einde hulle eie unieke argumente en analise van die kontemporêre wêreld te formuleer. Kritiese denke, analise en redenasie is vaardighede wat gedurende hierdie kursus beklemtoon en ingeskerp sal word. Die doelwitte van die kursus is om studente bekend te stel aan ‘n reeks antropologiese konsepte en debatte; om kontemporêre teorieë van kultuur, mag en identiteit te ondersoek; om studente se akademiese lees-, analitiese en skryfvaardighede te verbeter; en om hulle vermoë te verbeter om oortuigende argumente te ontwikkel deur middel van skryf en debat.

Dosent: Dr Shaheed Tayob

Sosiologie 344(12) – Sosiologie van Werk en Werkgewing (gewoonlik kies studente tussen hierdie module en 354)

Die sentrale tema van hierdie module is die transformasie van werk en werkgewing gedurende die afgelope paar dekades, die groei van “atipiese” of “buigsame” of “nie-standaard” werk en werkgewing, en die sogenaamde “feminisering” van werk. Ekonomiese herstrukturering en die transformasie van werk lei dikwels tot ‘n bose kringloop van armoede en ekonomiese onsekerheid vir heelwat werkers in hoë- sowel as lae-inkomste lande. Terwyl veranderinge ten opsigte van die aard van werk en werkgewing deur globale ekonomiese veranderinge gestuur word, moet ons erken dat ideologie, wetgewing en die manier waarop die samelewing georganiseer is ook ‘n impak het ten opsigte van die vorming van hierdie veranderinge. In die Suid-Afrikaanse geval het die oorgang na politieke demokrasie saamgeval met die vinnige aansluiting van Suid-Afrika by die globale mark. Dit het beteken dat die totstandkoming van ‘n nuwe regulatoriese regime op die gebied van arbeidsverhoudings saamgeval het met die formele aanname van ‘n beleid van handelsliberalisering. Die eksternalisering van werk en werkneming skep belangrike vrae rakende sosiale beskerming en die mate waartoe kwesbare werkers, wat onveilig voel, deur middel van arbeidswetgewing in staat is om toegang te verkry tot sosiale beskerming. Die module sal ook belangrike konsepte, teoretiese perspektiewe en argumente ondersoek wat ons kan help om die transformasie van werk te verstaan.

Dosent: Dr Khayaat Fakier

Sosiale Antropologie 344 – Teorieë en Debatte in Sosiale Antropologie

In hierdie kursus betrag ons die breë historiese ontwikkeling van ‘n aantal antropologiese denkskole, die kontroversies wat hulle geïnspireer het en hoe hierdie ontwikkelinge hulle merk gelaat het op baie spesifieke gesprekke rondom sosiale struktuur, kulturele verandering en die posisie van die individu (sowel as liggame) vis-à-vis die samelewing. Ons beweeg vanaf die eerste veldwerkers en antropoloë, wat in koloniale kontekste werksaam was, tot by die antropologieë van ‘n postkoloniale tydvak wat toenemend oorkoepelende teorieë ondermyn in hulle insluiting van feministiese, literêre en fenomenologiese analises.

Dosent: Dr Ilana van Wyk

Sosiologie 354(12) – Gemeenskapsontwikkeling (diensleweringsleer-module)

Die doelwit van hierdie module is om studente toe te rus met die essensiële kennis, insigte, vaardighede en houding in die konteks van deelnemende, mensgesentreerde en volhoubare mikro-ontwikkeling in Suid-Afrika. Die teoretiese fokus gee sterk steun aan werk wat in “landelike sosiologie” en die “sosiologie van ontwikkeling”, sowel as in die interdissiplinêre veld van “gemeenskapsontwikkeling”, gedoen is. Hierdie werk hang nou saam met die idees van sosiale teoretici wat oor gemeenskap, sosiale samehorigheid en ontwikkeling of sosiale verandering geskryf het. Die metodologiese benadering en toepassings fokus sterk op kwalitatiewe- en aksiegebaseerde navorsing. Die leerproses word gestuur deur ‘n diensleweringsleer-benadering wat beoog om sosiale- en gemeenskaps-ontwikkelingsteorie, sowel as “gemeenskapsgebaseerde” navorsingsmetodologie, met praktiese ervaring te amalgemeer. Kortom, diensleweringsleer beoog om studente die geleentheid te gee om abstrakte akademiese konsepte en beginsels toe te pas op ‘n werklike situasie terwyl hulle nuwe vaardighede aanleer en nuwe waardes en houdings ontwikkel, en om terselfdertyd ‘n diens te verskaf aan ‘n groep mense op die basis van die idee van ‘n wederkerige leerervaring vir beide studente en die betrokke gemeenskapslede waarmee hulle kontak het.

Dosent: Mnr Jacob du Plessis

Sosiale Antropologie 354 – Die Antropologie van Ontwikkeling

Die kursus beoog om ‘n kritiese, antropologies ingeligte begrip te ontwikkel vir die maniere waarop die idees en praktyke van ‘ontwikkeling’ die lewens van mense in die Globale Suide gevorm het, en steeds vorm. Die doelwitte van die kursus is om ‘n etnografies ingeligte begrip te skep van die globale diskoerse van ontwikkeling en die kritiek hierop sedert die Tweede Wêreldoorlog, met die klem op meer onlangse kritiek; en om krities om te gaan met etnografiese studies wat vrae stel rondom die aannames wat konvensionele benaderings tot ontwikkeling, bestuur en bevolkingskategorieë in ontwikkelingsnaratiewe as vanselfsprekend aanvaar. Ons poog om ‘n kritiese analise te ontwikkel van die maniere waarop eksperts en ekspert-kennis gebruik word om die ‘probleem van ontwikkeling’ te regverdig, en hoe ‘teikenbevolkings’ op hulle beurt reageer op hierdie intervensies. Die doel is ook om die antropologiese literatuur toeganklik te maak ten einde die alledaagse praktyke en gevolge van ‘ontwikkeling’-projekte te verstaan soos wat hulle in ‘n verskeidenheid lokaliteite ontvou.

Dosent: Prof Steven Robins

Sosiologie 364(12) – Sosiale Navorsing (verpligte module)

Welkom by die Sosiale Navorsingsmodule. Ons beleef tans ‘n pandemie sowel as ‘n globale ekonomiese krisis. Hierdie is ‘n buitengewoon uitdagende periode in ons geskiedenis, en ons kan in die komende maande en jare grootskaalse sosiale veranderinge verwag. Die pandemie gee ons ook ‘n unieke konteks om te leer omtrent kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsmetodes. Ons word – op ‘n daaglikse basis – gekonfronteer deur opgedateerde nasionale en globale statistiek rondom COVID-19 infeksies en ander inligting omtrent die pandemie. Hierdie inligting skakel in by plaaslike, nasionale en globale debatte oor hoe die gesondheids-, ekonomiese en politieke implikasies van die pandemie bestuur behoort te word.

Die eerste afdeling van die module sal dus die pandemie gebruik as ‘n konteks om fundamentele vrae rakende sosiale navorsing te ondersoek. Die module is in twee verdeel. Die eerste gedeelte fokus op teoretiese aangeleenthede in sosiale navorsing en kwalitatiewe navorsing, en die tweede op kwantitatiewe, gemengde navorsing en diskoers-analise.

Dosent: Dr Lloyd Hill en Dr Ilse Eigelaar-Meets

Get in Touch

If you would like to contact us, please fill in the form provided and we'll get right back to you!