Hoofsprekers

Openingstoespraak deur Prof Arnold Schoonwinkel

TITEL VAN HOOFSPREKER SE REFERAAT:  Viering van 10 jaar se onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch: ’n Voortgesette reis

Die konferensie oor Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) herdenk in 2017 sy 10de bestaansjaar, wat die ideale geleentheid bied om die reis van vakkundigheid van onderrig en leer oor die afgelope 10 jaar te vier en dit in oënskou te neem. Daarby ingesluit is die veranderings in die wyse waarop die professionele leer van akademici, asook leer en onderrig as sodanig, beoordeel word. Die programrede se wye institusionele uitgangspunt omvat die afgelope 10 jaar en fokus op die twee vlakke van:

  • Strukturele veranderings, ingesluit organisatoriese veranderings, nuwe samewerkende modelle ter bevordering van die professionele leer van akademici, beleide, befondsingsgeleenthede en die skep van ruimtes vir medewerking, om ’n instaatstellende omgewing vir die professionalisering van akademici se rol in onderrig en leer te voorsien.
  • Groei in innoverende praktyk, vakkundige onderrig en die vakkundigheid van leer en onderrig, soos gesien uit aanbiedings by die AvOL-konferensie, publikasies in Onderrig en Leer en aansoeke by die Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig (FINLO).

Hierdie twee vlakke, te wete struktuur en praktyk, is natuurlik interafhanklik en wanneer die reis tot dusver in oënskou geneem word, is daar heelwat wat op al twee vlakke gevier kan word. Dit is egter ’n voortgesette reis hierdie, want ’n terugblik op die afgelope 10 jaar wys dat daar, afgesien van die groei in die vakkundigheid van onderrig en leer en die aansien van leer en onderrig in die algemeen, dikwels steeds ’n onsamehangendheid bestaan tussen wat op die organisatoriese vlak beplan word en wat in die praktyk plaasvind. Dit is dus ’n voortgesette reis wat dié gaping kan oorbrug deur uit 10 jaar se ervaring te put om die volgende 10 jaar te kan uitstippel.

Antoinette van der Merwe is die Senior Direkteur: Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking aan die Universiteit Stellenbosch en rapporteer aan die Viserektor: Leer en Onderrig.
Hierdie Afdeling bestaan uit:

  •  Die Sentrum vir Onderrig en Leer (verantwoordelik vir die  professionele leer van dosente),
  • Die Sentrum vir Leertegnologieë (verantwoordelik vir die bevordering van die gebruik van leertegnologieë in leer en onderrig), en
  • Die Taalsentrum (verantwoordelik vir die bevordering van individuele en institusionele meertaligheid).

Nadat sy haar BA-graad in Frans en Duits aan die Universiteit Stellenbosch behaal, studeer sy aan die Universiteit van Texas A&M in die VSA en behaal nog ’n BA-graad, asook ’n meestersgraad in Intellektuele Geskiedenis. Nadat sy in 1996 na Suid-Afrika terugkeer, behaal sy ’n PhD-graad in Wetenskap- en Tegnologiestudies aan die Universiteit Stellenbosch waar sy die afgelope twintig jaar betrokke is by en die leiding gee met strategiese inisiatiewe vir e-Leer aan die Universiteit, met inbegrip van die Telematiese Skool se ondersteuningprogram wat in 2009 geloods is. Haar hoofnavorsingsbelangstellings sluit in die vakkundigheid van opvoedkundige leierskap, virtuele leerruimtes en die effektiewe gebruik van leertegnologieë in hoër onderwys, sowel as vir steun aan skole. Sy het referate oor hierdie onderwerpe by verskeie nasionale en internasionale konferensies gelewer.

TITEL VAN HOOFSPREKER SE REFERAAT:  Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) in die globale Suide: Implikasies vir universiteitsopvoeders wat hulle praktyk navors

Opsomming
Daar is toenemende belangstelling in die dekolonisering van die kurrikulum, Suidelike teorie en kognitiewe geregtigheid, sowel in Suid-Afrika as internasionaal. In hierdie referaat verwys ek na huidige debatte oor hierdie opwindende maar kontensieuse onderwerpe, waarna ek my bespreking voortsit oor die potensiaal en uitdagings wat die bedryf van vakkundigheid van onderrig en leer onder hierdie banier bied. Selfs belangriker as die potensiaal en uitdagings is waarskynlik die vraagstuk rondom die etiese verpligtings van akademici wat hulle eie praktyk wil navors en daaroor wil publiseer. Ter afsluiting bespreek ek sekere roetes wat vir die akademieskap van onderrig en leer in die globale Suide bestaan en tans geskep word.

Brenda Leibowitz is ’n professor in opvoedkunde en die Voorsitter van Onderrig en Leer aan die Universiteit van Johannesburg (UJ). Haar sleutelrol by die UJ is die ondersteuning van akademici wat betref die vakkundigheid van onderrig en leer. Van 2003 tot 2013 is sy die Direkteur van die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is een van die stigters van die Suider-Afrikaanse vereniging vir hoëronderwysleer en -onderrig (Heltasa) en beklee die amp van Voorsitter vir die eerste vyf jaar. Sy help met die stigting van die Raad op Hoër Onderwys (CHE)/Heltasa nasionale Voortreflikheid in Onderwys-toekennings en is vir ses jaar die sameroeper van die Komitee. Sy is tans die boekresensieredakteur vir die tydskrif Critical Studies in Teaching and Learning (Cristal) en was voorheen ’n redakteur vir die International Journal for Academic Development (IJAD). Sy is ook tans die sameroeper van die nasionale loodsskema, die TAU (onderrigbevordering op universiteit) Genootskapprogram, met befondsing deur Onderwysontwikkelingskenkings van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

TITEL VAN HOOFSPREKER SE REFERAAT: ’n Terugblik, ’n toekomsblik: 10 jaar van AvOL-bevordering aan die US

Die bevordering van die akademieskap van onderrig en leer (AvOL) hou groot belofte in as ’n strategie om vernuwing aan te moedig en waarde aan onderrig te heg. Een moontlike voordeel is dat so ’n strategie tot beter onderrigpraktyk kan lei, wat studente kan baat. Namate praktisyns meer krities, doelgerig en nadenkend raak in hulle onderrig, verbeter hulle praktyk. Nóg ’n moontlike voordeel is dat dit praktisyns se loopbane kan bevorder. Indien onderrigwerk behoorlik erken word as akademieskap eerder as blote vakkundige werk, kan dit sy plek inneem naas ander vorme van akademieskap, soos ontdekking, oftewel navorsing, en tot loopbaanvordering bydra.

So, hoe het die bevordering van AvOL die afgelope dekade aan die US ontvou? Twee inisiatiewe wat AvOL aan die US ondersteun, is die FINLO-toelaagskema en die jaarlikse AvOL-konferensie. Die een help skep ’n instaatstellende omgewing vir AvOL; die ander help bou ’n praktykgemeenskap. Albei is sedert 2007 aan die gang. In dié tyd is sowat 350 toelaagaansoeke verwerk en meer as 500 aanbiedings gelewer. Hierdie referaat verken die aard van en veranderinge in die akademieskap wat oor die jare deur hierdie twee inisiatiewe na vore gekom het, die lewensvatbaarheid en produktiwiteit van projekte, sowel as wie aan hierdie inisiatiewe deelneem, en wie nié. Dít word dan gebruik om sekere uitdagings vir die volgende dekade van AvOL aan die US te stel.

Francois Cilliers is ’n medeprofessor en hoof van die Departement Gesondheidswetenskappeonderrig in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad. Sy belangstellings sluit in die leergevolge van assessering; akademiesepersoneelontwikkeling, veral ’n begrip van die impak en die onderliggende teorie daarvan, en bystand aan akademiese personeel om sinvolle opvoedkundige navorsing te onderneem. Hy is betrokke by inisiatiewe vir die kurrikulumontwikkeling en -hervorming van mediese, fisioterapie- en arbeidsterapieprogramme. Daarbenewens is hy verbonde aan die Suider-Afrikaanse Vereniging van Gesondheidsopvoedkundiges (SAAHE), die FAIMER-instituut en die FAIMER-streeksinstituut vir Afrika suid van die Sahara (SAFRI).