Tema & Program

a) Tema

Ter wille van geïntegreerde studentesukses: die verkenning van OLA-konseptualiserings en -praktyke aan die US

Geïntegreerde studentesukses verwys na die vermoë van studente wat vir ʼn graad ingeskryf is, om die leeruitkomste op die vereiste vlak en binne die vereiste tyd te bereik. Dit sluit ook studente se vermoë in om hulle grade aan te wend om tot nasionale en persoonlike ontwikkeling by te dra. In die meeste lande bring studentesukses ook strukturele maatskaplike ongelykhede na die oppervlak. Hoewel dit nie direk deur universiteite aangepak kan word nie, vereis hierdie ongelykhede van instellings om veelledige intervensies ter ondersteuning van onderrig, leer en assessering (OLA) te ontwikkel. Hierdie intervensies (soos robuuste professionele leergeleenthede vir universiteitsdosente, voortgesette akademiese en programhernuwing, gestruktureerde akademiese raadgewing, en sterk psigososiale en finansiële steun) verseker dat gelykwaardigheid van uitkomste moontlik is en dat alle studente die buigsame steun ontvang wat hulle nodig het om sukses met hulle studies en daarna te behaal. Wanneer ons praat van ʼn transformerende studente-ervaring met betrekking tot geïntegreerde studentesukses, verwys ons ook na die koppelvlak tussen studente se akademiese sukses en hulle gevoel en begrip van sukses op ander gebiede van die studentelewe en hulle persoonlike lewe, leierskap, sport, die politiek, die kunste, gemeenskappe en so meer.

By hierdie AvOL-konferensie (Akademieskap van Onderrig en Leer) wil ons verken hoe ons geïntegreerde studentesukses met betrekking tot ons praktyk as universiteitsdosente in ʼn leergerigte OLA-omgewing verstaan. Die onderstaande is sommige van die vrae wat ons graag wil aanpak:

  • Watter benaderings gebruik ons om te verstaan wat bepaal of ons studente leer of nie leer nie?
  • Hoe identifiseer ons uiteenlopende studentebehoeftes en reageer daarop?
  • Hoe verstaan ons ons rolle en verantwoordelikhede binne ʼn veelledige benadering tot intervensie?
  • Met watter hulpbronne, strategieë en benaderings het ons al op module- en/of programvlak geëksperimenteer?
  • Watter interdissiplinêre medewerkings oor fakulteite en dienste heen is moontlik en haalbaar? Wat werk en wat werk nie?
  • Hoe ervaar jy studente se eie sin van hulle ‘sukses’ en leer en watter soort OLA-benaderings word hierdeur moontlik gemaak?

ʼn Hoofredepaneel bestaande uit studente word ingesluit en gekeurde studenteverteenwoordigers sal ook genooi word om die hele konferensie by te woon en insette te lewer. Van praktiese klaskamervoorbeelde tot vakkundige navorsing tot voorgenome OLA-idees en -projekte – ons sien daarna uit om ons begrip en praktyk van geïntegreerde studentesukses uit te brei, en om te leer en te deel.


b) Program

Die konferensie bestaan uit drie dae, met dag een gewy aan werkswinkels en die volgende twee dae aan aanbiedinge. Die werkswinkel inligting en konferensie program is nog in wording, maar sal hier beskikbaar gestel word sodra gereed.