Kom ons speel – ernstig! Gesamentlike leer deur praktiese speletjieontwerp
Daar is bewys dat speletjieontwerp konstruksionistiese leer bevorder en ondersteun, want om ’n abstraksie van die werklikheid te maak en sinvolle voorstellings van die wêreld te bou vereis ‘n begrip van kontekstuele reëls (Kafai, 1995, 1998; Kafai & Burke, 2015). In die snel ontwikkelende, onvoorspelbare ruimte wat generatiewe kunsmatige intelligensie (GenKI) in die hoër onderwys geskep het, voer ons aan dat deelname aan speletjieontwikkeling jou ook ’n dieper begrip van leerinhoud kan help vorm. KI-geletterdheid is deesdae noodsaaklik in ’n wêreld waar KI ál hoe meer invloed het. Daarbenewens dui onlangse studies daarop dat ‘n grondige kennis van verantwoordelike GenKI-gebruik tot beter leer kan lei (Hazari, 2024; Furze, Perkins, Roe & MacVaugh, 2024). Gevolglik kom dosente voor die uitdaging te staan om studente toe te rus met die vereiste KI-geletterdheid om op universiteit én daarna sukses te behaal (Luo, 2024).
In die eerste deel van hierdie werksessie leer ken deelnemers die kernkonsepte en -benaderings met betrekking tot speletjieontwerp. In die tweede deel word ’n speletjieontwerp-ateljeespan gesimuleer om ’n voorgestelde KI-geletterdheidspeletjie vir studente te konseptualiseer, te bou, te toets en te verfyn.
Deelnemers raak vertroud met benaderings tot speletjieontwerp deur verskillende plaaslik ontwikkelde ernstige speletjies te verken, waaronder digitale ontsnapkamers, bordspeletjies en narratiefgedrewe speletjies. Hulle ontvang ook die geleentheid om ’n KI-geletterdheidsbordspeletjie vir die US te help ontwerp. Die oogmerk van die speletjie, wat bedoel is vir aanlyn gebruik, is om studente oor verantwoordelike GenKI-gebruik in die hoër onderwys te leer. Sodoende ontwikkel deelnemers ook die nodige vaardighede om hulle eie ernstige speletjie te ontwerp.
Ter samevatting bied die werksessie deelnemers dus a) kennis van die verskillende benaderings tot speletjieontwerp, b) beter KI-geletterdheid, en c) die geleentheid om ‘n maklik toeganklike speletjie te help ontwerp met die oog daarop om studente se KI-geletterdheid te verbeter, d.w.s. om studente die belangrikste KI-konsepte, soorte KI-instrumente en die verantwoordelike gebruik daarvan te help verstaan. Sodra die finale weergawe van die speletjie vervaardig is, sal dit vrylik beskikbaar wees vir gebruik by die US.
Teikengehoor
Akademici wat klasgee