Hoe om jou onderrigportefeulje te ontwikkel
Hierdie praktiese voldagwerksessie sal akademici toerus om a) krities na te dink oor hulle onderrig, leer en assessering (OLA), en b) besinnende denke en skryfwerk te gebruik om ’n onderrigfilosofie en ‘n onderrigportefeulje saam te stel.
‘n Onderrigfilosofie is ‘n krities nadenkende en persoonlike verklaring oor ‘n akademikus se benadering tot alle aspekte van OLA, en die redes vir daardie benadering (die akademikus se oortuigings, waardes en doelwitte ten opsigte van OLA). Dit stel akademici in staat om ‘n diepgaande begrip van hulleself as dosente te vorm, en maak ook die kern van hulle onderrigportefeulje uit.
‘n Onderrigportefeulje kan vir bevordering of ’n toekenning gebruik word. Bowenal is dit egter ‘n besinningsinstrument vir akademici om hulle OLA te dokumenteer en hulle groei as professionele opvoeders te moniteer. Dit stel hulle in staat om gebiede vir OLA-vernuwing en verdere groei in hulle beroepsleer te identifiseer. ’n Onderrigportefeulje is dus ’n transformerende instrument.
‘n Kernelement van ‘n onderrigportefeulje is ‘n oordenking van die akademikus se betrokkenheid by die gemeenskap waarin die universiteit geleë is, wat ’n bewustheid toon van hulle én hulle studente se omstandighede. Akademici moet ook nadink oor hulle studente se behoeftes, en hoe om in daardie behoeftes te voorsien ten einde studentesukses te bevorder. Die verband tussen hierdie faktore en akademici se waardes en benadering tot OLA is die kern van hulle onderrigfilosofieë.
Deelnemers sal gedurende die werksessie hulle konsep-onderrigfilosofieë skryf en ’n raamwerk vir hulle onderrigportefeuljes opstel.
Die werksessie is beperk tot 20 deelnemers.
Teikengehoor
Akademici wat klasgee