Konsepnota

Klik hier om die SoTL konsepnota in isiXhosa te besigtig

1.  AGTERGROND/INLEIDING

Die impak van die pandemie die afgelope twee jaar bied ons ’n geleentheid om te besin oor hoe ons onderrig, leer en assessering (OLA) in die hoër onderwys kan vooruitneem. Ons het nou ’n geleentheid om skeppend en vernuwend oor OLA te dink. Wat assessering betref, moet ons nuut dink oor hoe ons studente se vermoëns assesseer sodat hulle volwaardige burgers sal word wat hulle plek in die samelewing kan vol staan. Daarbenewens moet ons bepaal of ons assesseringspraktyke met die beginsels en bepalings van die US Assesseringsbeleid (2021)[1] strook.

Die nuwe US Assesseringsbeleid (2021) erken assessering as ’n integrale deel van leer en onderrig. Die beleid beklemtoon ’n gebalanseerde benadering tot assesseringspraktyke wat ’n ondersoekende gees by studente ontwikkel as lewenslange leerders wat hulle eie én ander se prestasie kan beoordeel. Een manier om hierdie einddoel te bereik is deur studente toe te rus en in staat te stel om self- en portuurassessering van hulle eie en ander se werk te onderneem deur die beginsels van behoorlike en billike assessering te volg. So ’n benadering sal studenteleer bevorder deur studente hulle eie leer te help moniteer en nagaan, en oor hulle leerervarings te laat besin, in plaas daarvan om bloot op punte te konsentreer. In pas met die verskuiwing in die hoër onderwys na leergesentreerde onderrig (Barr & Tagg, 1995)[2] deur formatiewe assessering, en die potensiaal daarvan om assesseringspraktyke te transformeer (Torrance, 2012),[3] kom die voortgesette klem op summatiewe assesseringspraktyke al hoe meer onder skoot (Boud, 2000;[4] Knight, 2002;[5] Schuwirth & Van der Vleuten, 2011;[6] Harrison et al., 2017[7]). Summatiewe assessering maak deel uit van die meeste hoëronderwysinstellings se assesseringskultuur, wat verband hou met diepgewortelde oortuigings oor wat belangrik is in assessering. As ’n kultuur eers in hierdie summatiewe assesseringsparadigma vasval (Harrison et al., 2017), is dit moeilik om te verander, selfs al word bewyse van die teendeel voorgelê.

Die verskuiwing na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) in 2020 en aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) in 2021 was ’n katalisator vir verandering by sommige dosente, wat begin gebruik maak het van assesseringspraktyke wat meer op ‘assessering vir leer’ konsentreer. Ongelukkig is dít nie vir almal die geval nie, en is daar ’n sterk oproep aan die US om terug te keer na tradisionele assessering onder toesig, met kommer oor akademiese integriteit as onderliggende dryfveer. Dít wys moontlik op die dominante summatiewe assesseringskultuur aan die US.

Daarom moet ons voortdurend ons assesseringspraktyke ondersoek om te sorg dat dit ’n transformerende studente-ervaring ondersteun. Die jaarlikse US Akademieskap van Onderrig en Leer- (AvOL-)konferensie bied ’n platform waar ons kan voortbou op die konferensietema van 2021, “Jou/ons assessering tel”, en kan gesprek voer oor “Assessering tel: Assesseringskultuur en -praktyke in heroënskou vir ʼn transformerende studente-ervaring”.

2.  BEWEEGREDE

Die konferensie bied ’n ruimte waar akademici in ’n oop, ondersteunende en intellektueel stimulerende atmosfeer kan besin en gesels oor alle aspekte van OLA aan die US. Dit voorsien ’n platform waar akademici:

    • goeie praktyke, navorsingsbevindinge en innoverende idees oor OLA kan uitruil;
    • OLA-metodes, -tendense en -doelwitte in die huidige konteks kan oordink en bespreek; en
    • OLA-prestasies kan vier.

3.  KONFERENSIEDATUMS

Konferensiedatums: 24 – 26 Oktober 2022

Registrasie open Sperdatum vir opsommings Registrasie sluit
13 April 2022 31 Julie 2022 21 Oktober 2022 om 15:00

4.  KONFERENSIETEMA

“Assessering tel: Assesseringskultuur en -praktyke in heroënskou vir ʼn transformerende studente-ervaring”

5.  KONFERENSIEAANBOD (hibridies)

 

Maandag
24 Oktober 2022 (kontakwerkwinkels by die Devon Valley Hotel)
Dinsdag
25 Oktober 2022
(aanlyn op MS Teams)
Woensdag
26 Oktober 2022
(aanlyn op MS Teams)
Voorkonferensiewerkwinkels

Opening

Hoofpaneel

Konferensieaanbiedings

Hoofspreker

Konferensieaanbiedings

Slotpaneel

Aankondiging van pryswenners

Aanbiedingstrome:

  • Navorsing
  • Innovasie
  • Oordenking
  • PRONTAK-plakkate

6.  HOOFPANEEL EN -SPREKER

  • Hoofpaneel: ’n Paneel van drie nasionale vakkundiges (sal bevestig word)
  • Hoofspreker: Prof Paul Ashwin, professor in die Hoër Onderwys en departementshoof en adjunkdirekteur van die Sentrum vir Globale Hoër Onderwys, Universiteit van Lancaster

7.  REGISTRASIE

Konferensieregistrasie geskied via ConfTool by www.conftool.pro/sotl2022.

8.  SLOT

Ons sien uit na die 15de aflewering van die US AvOL-konferensie, waar personeellede weer die geleentheid sal hê om navorsingsbevindinge, innoverende idees en oordenkings oor onderrig, leer en assessering deur middel van aanbiedings uit te ruil. Sodoende leer ons almal saam hoe om onderrig, leer en assessering aan die US in die era ná Covid-19 te optimaliseer.

 

Saamgestel deur:
Anthea H M Jacobs, 2022 US AvOL Konferensie Sameroeper

 

Voetnote:

[1] Universiteit Stellenbosch (US). (2021). Assesseringsbeleid.
[2] Barr, R.B. & Tagg, J. (1995). From teaching to learning – A new paradigm for undergraduate education. Change, 27(6): 12-25.
[3] Torrance, H. (2012). Formative assessment at the crossroads: conformative, deformative and transformative assessment. Oxford Review of Education, 38(3): 323-342.
[4] Boud, D. (2000). Sustainable assessment: Rethinking assessment for the learning society. Studies in Continuing Education, 22(2): 151-167.
[5] Knight, P.T. (2002). Summative assessment in higher education: practices in disarray. Studies in Higher Education, 27(3): 275-286.
[6] Schuwirth, L.W.T. & Van der Vleuten, C.P.M. (2011). Programmatic assessment: from assessment of learning to assessment for learning. Medical Teacher, 33(6): 478-485.
[7] Harrison, C.J., Könings, K.D., Schuwirth, L.W.T., Wass, V. & Van der Vleuten, C.P.M. (2017). Changing the culture of assessment: the dominance of the summative assessment paradigm. BMC Medical Education, 17(73): 1-14.