Nuusargief

Gesprekvoering sleutel tot volhoubare oplossing

Posted by Administrator (admin) on Apr 08 2013
Nuusargief >> 2013

Die strewe na volhoubaarheid is 'n omvattende en komplekse probleem. Die oplossing is ewe kompleks – beginnende by gesprekvoering tussen verskillende belangegroepe oor dié universele kwessie. En dis presies waarvoor die Eenheid vir Omgewingsetiek van die Departement Filosofie hom beywer, sê prof. Johan Hattingh, hoof van dié eenheid en dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Wat is die doel en visie van die Eenheid vir Omgewingsetiek?

Ons is 'n navorsings- en diensleweringsinstansie wat omgewingsetiek onder akademici en in die breër samelewing bevorder. Die eenheid is 'n onderafdeling van die Sentrum vir Toegepaste Etiek van die departement Filosofie.

Ons doen navorsing oor die grondslae van omgewingsetiek en oor wat dit beteken om verantwoordelik met die omgewing en hulpbronne om te gaan. Dit sluit in om die basiese konsepte wat daarin 'n rol speel, waaronder volhoubaarheid, bewaring en ontwikkeling en die probleme wat hierdie verskillende konsepte in hul wisselwerking met mekaar gee, te help uitsorteer.

Hoe groot is die eenheid?

Klein – ek is die hoof van die eenheid en ons het nog twee medewerkers, met 'n derde een wat moontlik binnekort bykom. Ons wil nie as 'n drukgroep funksioneer nie, maar wil op navorsing en onderrig fokus. Vir navorsingsprojekte betrek ons kundiges van verskillende universiteite.

Die eenheid bied eintlik 'n forum vir gespreksgeleenthede. Die verskil wat ons maak, is om te artikuleer, te skryf, te onderrig en mense in gespreksgroepe te betrek. En om betrokke te raak by inisiatiewe, soos die waternavorsingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch, kernkrag in die verlede en tans die voortgaande gesprekke wêreldwyd oor klimaatsverandering. 'n Volgende projek waarby ek betrokke wil raak, is die hidrouliese breking vir Karoo-aardgas.

Ons raak betrokke en publiseer verslae en invloedryke wetenskaplike tydskrifartikels wat wyd aangehaal word. Daarby gee ons onderrig in omgewingsetiek in verskillende kursusse en modules – aan die US en elders.

Hoe sien u die eenheid se rol wat volhoubaarheid betref?

Die eenheid lig die etiese dimensies van volhoubaarheid uit en help om die konseptuele probleme daarrondom te identifiseer en deurdink. Een van die algemene definisies van volhoubaarheid is om 'n stelsel of diens vir altyd te laat aanhou. Hoewel dit enersyds 'n vae definisie is, is daar andersyds besigheidsmense, beleidmakers en sakelui wat almal die term volhoubaarheid gebruik en verskillende betekenisse daaraan heg.

Die term kan eintlik enigiets vir enigiemand beteken – so, al handhaaf jy daardie konsep, maak jy dalk geen verskil aan die wêreld daarbuite nie en laat jy net die status quo voortgaan.

In aansluiting by 'n Nederlandse kollega, wyle Wouter Achterberg, is een van die take wat ek opgeneem het om die kritiese snykant van die term volhoubaarheid weer te aktiveer – sodat as jy die term gebruik, dit 'n verskil maak. Jy kan dit doen deur basies 'n paar eenvoudige vrae te stel. Een daarvan is: Wat presies is so belangrik dat ons dit graag vir altyd wil behou?

'n Volgende vraag is: Waarom is daardie iets so belangrik – waarom wil ons dit bevorder? 'n Derde vraag: Ter wille van wie of wat wil ons graag volhoubaarheid bevorder? Gaan dit net oor die natuur en ekosisteem “daarbuite”? Gaan dit oor die wisselwerking tussen ekologie en samelewing? Of gaan dit oor ekonomie?

En dan die groot vraag: hóé doen ons dit? Met watter soort kennis en interaksie tussen belanghebbendes bevorder ons die voortsetting van hierdie belangrike ding wat ons wil behou? Dan is die groot vrae hoe gemeenskapsinteraksie werk – of 'n mens net kundige kennis gebruik en of jy meer inheemse kennis gebruik en hoe om dit bymekaar uit te bring?

Nog 'n groot vraag is watter kriteria en indikatore gebruik ons om te bepaal of ons nader of verder weg van volhoubaarheid beweeg? As ons op dié vrae antwoorde kry, begin daar kritiese aspekte na vore kom wat 'n mens in ag moet neem en behoort te oordink vir die bevordering van volhoubaarheid.

Uit die antwoorde op dié vrae kan jy uiteindelik ook modelle begin bou van wat volhoubaarheid inhoudelik vir sekere belanghebbendes beteken. En dan is die vraag: Hoe funksioneer daardie modelle en is dit regtig gerig op die transformasie van die samelewing en ons hulpbrongebruik en -verbruik? Of is dit maar net besig om die status quo met sy vele onvolhoubare praktyke te herhaal en voort te sit?

Is daar vordering op die pad na volhoubaarheid?

As ons kyk wat gebeur in onder meer die bedryfslewe, sakelewe en ontwikkelingsbeleide van state, lyk dit of ons al verder wegbeweeg van volhoubaarheid af. Ons het verder weggegly van volhoubaarheid af as wat ons in 1992 by die Aardeberaad van Rio de Janeiro was.

Wat is die oplossing?

Daar’s nie 'n eenvoudige oplossing nie. Omdat volhoubaarheid so moeilik definieerbaar is, is dit makliker om onvolhoubaarheid te identifiseer – die vernietiging van hulpbronne en habitatte – en dan te vra hoe beweeg jy weg van die omstandighede en toestande wat jy nié wil hê nie.

Een van die groot probleme met volhoubaarheid is dat dit nie regtig gemeet kan word as een of ander doel wat gestel word waarheen jy positief beweeg nie. Daarmee saam is dit ook 'n konsep wat baie moeilik in die regswêreld beslag gegee kan word. Hoe kan jy mense dwing om volhoubaar te lewe as jy nie kan sê wat dit is en wat die teikens is wat ons uiteindelik moet bereik nie?

So, dis makliker en meer prakties om te definieer wat vernietig word en om dit te probeer herstel sodat 'n positiewe etiek van volhoubaarheid kan begin ontwikkel: 'n etiek van restourasie van die ekologie om landskappe en areas in stedelike gebiede weer leefbaar te probeer maak.

Waar lê die grootste uitdaging?

Volhoubaarheid is nie 'n tegniese probleem wat jy met een stel kennis kan oplos en van die agenda afhaal nie. Soos klimaatsverandering, is dit 'n probleem wat altyd met ons sal bly. Om dit op te los gaan nie een enkele beleidsformulering of -inisiatief verg nie. Dit gaan verskillende, geïntegreerde aktiwiteite oor 'n wye reeks sektore in die samelewing vereis wat 'n mens ook nie met een poging vanuit een sentrale punt kan koördineer nie.

Ons moet dit eerder sien as 'n aanpassingsprobleem. Ons moet weer leer en sensitief raak vir hoe destruktief ons eintlik leef, en positief gesien, weer die ekologiese prosesse wat ons lewe, welsyn en sekuriteit onderhou, begin ontdek en besef ons is deel daarvan. En ons lewens begin inrig op 'n manier waardeur ons erkenning gee aan die feit dat ons deel is van hierdie groter ekologiese prosesse en evolusie oor tyd.

Deel van die probleem is dat ons losgeraak het van ons ekologiese wortels. Die mens het homself begin sien as los van die natuur en dat hy deur die wetenskap uiteindelik alles kan beheer. Deel van die oplossing is dat ons weer moet gaan kyk hoe ons rasionaliteitsmodel daar uitsien en skerp kyk na die manier hoe ons oor onsself dink. As ons heeltyd aan onsself dink as in 'n verhewe posisie buite en bo die ekologiese prosesse, gaan ons altyd in die moeilikheid bly.

Maar hierdie soort radikale denke gaan 'n tyd neem om beslag te kry – want dit stuur af op 'n totale ommeswaai van die samelewing wat moeilik eensklaps bereik kan word. Ongelukkig egter het ons nie tyd om te wag vir so 'n fundamentele rewolusie nie. So, intussen moet ons, met die einddoel van volhoubaarheid in die oog, ook 'n praktiese taal van konkrete veranderings begin ontwikkel wat besluitnemers in die politiek en ekonomie kan verstaan en mee kan werk.

Ons kan begin om so 'n praktiese taal te formuleer deur uit te spel wat die risiko’s is wat samelewings konfronteer, waar en hoe hierdie risiko’s na vore tree – van kleiner ongemaklikhede tot katastrofes wat ons nie kan omkeer nie. Dan moet ons die belanghebbendes in gesprekvoering betrek, en uiteraard met inagneming van koste, planne maak oor hoe ons die lewe wat ons graag wil leef op hierdie aarde, veilig kan maak. Sekere ongemaklikhede kan teen redelik lae koste verminder word, terwyl katastrofale gebeurtenisse van bv. die uitsterf van 'n spesie, onomkeerbaar is en baie geld gaan kos om te probeer keer dat dit gebeur.

Dit beteken ongelooflike investering in gemeenskapsprosesse en gesprekvoering tussen verskillende groepe mense oor die ekologiese probleem wat nooit losstaande van die politieke probleem is nie, die probleem van regverdigheid, verdeling van hulpbronne, en die toegang tot hulpbronne. En daar moet effektiewe toegang tot prosesse van besluitneming wees vir alle belanghebbendes, ook dié op grondvlak.

Het u hoop?

As 'n mens dink aan omgewingsetiek en die gebrek aan volhoubaarheid in die wêreld en hoe ons die een ná die ander finansiële, sosiale, politieke en ekonomiese krisis beleef, dan wil jy wanhopig raak. Maar as jy daaraan vashou dat die etiese en filosofiese perspektief tog 'n normatiewe ideaal is en dat jy probeer doen wat jy kan binne die struktuur en hulpbronne wat jy het, dan het ek hoop.

Last changed: Feb 21 2014 at 11:27 AM

Back