Hoop vir swanger vroue en babas met TB

Dr Adrie Bekker
Swanger vroue, met en sonder MIV-infeksie, en babas met die risiko om tuberkulose (TB) op te doen kry uiteindelik die aandag wat hulle verdien.

Die International Union Against Tuberculosis and Lung Disease (IUATLD) se 46ste Wêreldkongres oor Longgesondheid is onlangs in Kaapstad gehou. Tydens die kongres is bewyse dat beter behandeling vir swanger vroue nodig is, bespreek en navorsingsbehoeftes uitgelig. Dit is ook duidelik gemaak dat die werk wat gedoen word om die gesondheidsdienste vir swanger vroue by mekaar te laat inskakel, besig is om vrugte af te werp.

"Babas onder 12 maande is die weerlooste mees weerlose teen TB. TB-infeksie onder babas kan baie vinnig in TB ontwikkel indien die babas nie die regte behandeling kry nie. Dit is noodsaaklik om meer navorsing oor babas en swanger vroue te doen as ons sterftes wil voorkom en die TB-voorkoms onder hierdie weerlose groepe wil laat afneem," het dr Adrie Bekker, ʼn neonatoloog by die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, gesê.

Bekker het ʼn beroep gedoen vir ʼn TB-register vir swanger vroue, sodat belangrike inligting oor verskillende studies en navorsing saamgevoeg kan word. Die navorsingsbewyse so ʼn wêreldwye poging kan dan gebruik word om besluitnemers in te lig oor die veilige en doeltreffende behandeling van swanger vroue. Bekker het haar pleidooi aan spesialiste van regoor die wêreld gerig.

TB onder ma's word verbind met ʼn sesvoudige toename in perinatale sterftes, en ʼn tweevoudige toename in vroeë geboortes en lae geboortegewig. TB onder swanger MIV-geïnfekteerde vroue kan ook lei tot ʼn hoër risiko van MIV-oordrag aan die baba.

Navorsing oor TB en swanger vroue en babas is tot onlangs wêreldwyd afgeskeep. Die IUATLD-vergaderings is meegedeel dat inligting oor TB tydens swangerskap nie gereeld ingesamel word nie. Daar is verder baie min inligting beskikbaar oor die risiko's verbonde daaraan om medikasie vir middelweerstandige TB by swanger vroue te gebruik. Wanneer nuwe TB-medikasie getoets word, word swanger vroue nie ingesluit nie.

Dr Lindiwe Mvusi, ʼn direkteur by die TB-kontrole en -bestuursgroep van die Departement van Gesondheid, het gesê die departement behaal wel sukses met die insluiting van TB-dienste by moeder- en kindergesondheidsprogramme. Maar sy het ook gesê daar is steeds fragmentasie, met swanger vroue wat dikwels na drie verskillende afsprake by klinieke moet gaan as hulle MIV-positief is en ook vir TB getoets moet word.

"Dit is moontlik om TB-dienste by moeder- en kindergesondheidsprogramme in te sluit. Ons begin dit regkry, maar dit verg bewusmaking en toewyding van alle rolspelers," het Mvusi aan die kongres gesê.

Intussen is die onlangse aankondiging deur die TB Alliance oor meer kindervriendelike TB-medikasie wyd verwelkom. Dit is die eerste behandeling wat voldoen aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne wat vereis dat groter dosisse van die sogenaamde eerste linie-medikasie gebruik word om kinders wat vatbaar is vir TB (90% van die siektelas onder kinders) te behandel. Dié bekostigbare medikasie kan binne sekondes in water opgelos word en het ʼn aangename smaak, wat veral belangrik is vir medikasie wat deur kinders gebruik moet word.

Die DTTS is een van verskeie instansies wat betrokke sal wees in ʼn proefneming om die moontlikheid te ondersoek om TB-behandeling vir kinders van ses maande na vier maande te verkort. Die DTTS sal saam met navorsingsinstansies in Indië, Zambië en Uganda deelneem aan program bekend as Shorter Treatment for Minimal TB in Children (Shine). Dié program van die Britse Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Kliniese proewe staan onder leiding van prof Di Gibb. Die studie sal 1 200 kinders, waarvan 250 van Kaapstad is, insluit.

Volgens die WGO kry ten minste een miljoen babas en kinders jaarliks TB en 140 000 kinders sterf elke jaar weens dié geneeslike siekte. Tot onlangs het kinders nie toegang tot kindervriendelike medikasie gehad nie. Indien die nuwe formules wêreldwyd gebruik word deur TB-beheerprogramme, is die hoop dat dit die versorging van kinders met TB beduidend sal verbeter.
Kim Cloete