‘n Dokument om Suid-Afrika se beleid oor Intieme Verhoudingsgeweld in te lig

Dr Kate Joyner

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van vrouens wat doodgemaak word deur iemand met wie hulle ‘n intieme verhouding het, ten spyte van verskeie aksies soos byvoorbeeld die veldtog van Sestien Dae van Aktivisme van Geen Geweld teen Vroue en Kinders wat jaarliks van laat November tot middel Desember plaasvind. Inteendeel, vandat dit in 1998 vir die eerste maal ingestel is, word die helfte van die vrouens wat in Suid-Afrika vermoor word, 17 jaar later steeds doodgemaak deur iemand met wie hulle ʼn intieme verhouding het.

“Daar word duidelik nie genoeg oor Intieme Verhoudingsgeweld (IVG) gedoen nie,” sê dr Kate Joyner, ʼn spesialis in verpleegkunde in gevalle van geslagsgebaseerde geweld by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Om bewusmaking van die hierdie sosiale verskynsel te bewerkstellig, het Joyner en drr Kate Rees en Simone Honikman van die Universiteit van Kaapstad (UK), ʼn dokument gemik op beleidsvorming oor IVG saamgestel vir die Alan J Fisher Sentrum vir Openbare Geestesgesondheid (Centre for Public Mental Health [CPMH]).

Die CPMH is ʼn inisiatief deur navorsers aan die US en UK om belangrike kwessies in openbare geestesgesondheid in lae- en middelinkomstelande in Afrika en Asië aan te spreek. Die CPMH-beleidsvormingsdokumente bevat opsommings van navorsingsbevindings asook aanbevelings vir beleidsbepalings oor hierdie kwessies.

“Hierdie dokument, getiteld ‘A policy brief on Intimate Partner Violence (IPV) in South Africa: How to break the vicious cycle’, kan spesifiek gebruik word om beleid en standaardbedryfsprosedures te beïnvloed, sodat dit op ʼn volhoubare wyse binne die praktyk geïmplementeer kan word.

IVG is ʼn veld wat tot onlangs grootliks afgeskeep is binne die gesondheids- en maatskaplike ontwikkelingsarenas, en daarom is die nodige sorg in die kliniese praktyk meestal afwesig. “Die dokument voorsien bewyse van die nasionale omvang van dié siektelas en verskaf bewysgebaseerde aanbevelings en moontlike oplossings,” sê Joyner.

Die doel is dat senior beamptes binne die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Departement van Gesondheid leiding moet neem in die proses om die voorstelle met beleid en praktyk te integreer. “Met die intersektorale fokus sal ons verantwoordelikhede betekenisvol kan deel en meer doeltreffende uitkomste verseker,” het Joyner verduidelik. “Ons het die dokument saamgestel vir alle personeel, van nasionale, provinsiale en distriksbestuur, tot by diensverskaffers in die voorste linies regoor die land.

Joyner hoop dat openbare bewustheid oor die omvang van die probleem van IVG, sowel as die impak daarvan op gesondheid en ontwikkeling, sal verbeter.

“Hierdie dokument is ʼn gesamentlike poging van die skrywers en ons onderskeie instellings,” sê Joyner. Die navorsing is gebaseer op plaaslike en internasionale literatuur en die skrywers se empiriese navorsing in die kliniese veld.

Kliek hier om 'n kopie van die beleidsverslag af te laai (PDF-dokument)

Bemarking en Kommunikasie