US chirurg spaar kankerpasiënte van toekomstige frakture

Dr Karin Baatjes

Lewensreddende middels wat vir die behandeling van borskanker gebruik word, kan ʼn klein persentasie vroue kwesbaar vir frakture maak. Dit is hoekom dr Karin Baatjes, ʼn spesialis-chirurg by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), begin het om hierdie vroue te identifiseer en hul behandeling aan te pas om die nadelige newe-effekte van hul behandeling te voorkom.

Baatjes behandel gereeld borskankerpasiënte by die Tygerberg-hospitaal. As deel van haar PhD bestudeer sy ʼn groep na-menopousale vroue met borskanker wat spesifieke medikasie bekend as aromatase-inhibitors ontvang, om sodoende diegene met ʼn hoë risiko vir die ontwikkeling van osteoporose te identifiseer. 

Aromatase-inhibitors word gebruik om estrogeen-sensitiewe borskanker te behandel en verhinder die liggaam om estrogeen te produseer, wat verhoed dat kankerselle groei. Ongelukkig het dié middel ʼn newe-effek wat die beendigtheid van ʼn klein getal vroue kan verlaag. Lae beendigtheid, bekend as osteoporose, verhoog die risiko vir beenfrakture. Daar is tans ʼn tekort aan data oor beendigtheid en die voorkoms van frakture in na-menopousale borskankerpasiënte in Suid-Afrika.

“Die langtermyn-oorlewing van borskankerpasiënte is dikwels goed, maar ons wil nie hê hulle moet verlammende newe-effekte ervaar wat hul lewensgehalte verlaag nie,” sê Baatjes. “Ons wil die lengte en gehalte van hierdie vroue se lewe optimaliseer.”

Vroue ouer as 50 het ʼn verhoogde risiko om osteoporose te ontwikkel. Ander faktore wat bydra tot die risiko om die siekte te ontwikkel is ʼn kalsium- en vitamien D-tekort, ʼn lae liggaamsmassa, rook en ʼn familiegeskiedenis van osteoporose.

Benewens die identifikasie van borskankerpasiënte se kliniese osteoporose-risiko, word genetiese toetse as deel van die studie gedoen om die genetiese invloed op die prosessering van medikasie te evalueer, wat beengesondheid kan beïnvloed.

“Borskankerpasiënte wat aromatase-inhibitors gebruik en bykomende risikofaktore het, loop ʼn wesenlike risiko om later osteoporose te ontwikkel en frakture te ervaar. Die ideaal sou wees om die hoërisikopasiënte met die aanvang van die terapie te identifiseer en óf die middel te verander óf ʼn intervensie toe te pas om ʼn afname in beendighteid te voorkom,” sê Baatjes. Met die inligting wat sy uit haar navorsing bekom, gaan sy riglyne ontwikkel om behandeling vir elke borskankerpasiënt ooreenkomstig hul unieke mediese profiel pas te maak.

“Mense vra my hoekom ʼn chirurg kankermiddels bestudeer. In ʼn omgewing met beperkte hulpbronne soos ons s’n, het ons minder onkoloë en skryf chirurge dikwels die medikasie voor en monitor pasiënte se vordering. Ons moenie net die siekte verstaan nie, maar ook die uitwerking van die behandeling op ons pasiënte,” verduidelik Baatjes.

Haar navorsing is in die World Journal of Surgery en Anti-Cancer Agents in Medicinal Chemistry gepubliseer.

Wilma Stassen