Ouer mense kwesbaar vir wanvoeding

Veroudering word geassosieer met veranderinge in voedingstofvereistes en dieetgewoontes, wat die risiko van voedingstekorte in veral arm gemeenskappe en huishoudings sonder voedselsekerheid verhoog.

Wêreldwyd word 1 Oktober herdenk as die Dag vir Ouer Mense. Die doel van die dag is om die bydrae van ouer mense in hul families, gemeenskappe en die sameling te vier, en om sommige van die probleme wat hierdie kwesbare groep kwel, uit te lig.

Veroudering word geassosieer met veranderinge in voedingstofvereistes en dieetgewoontes, wat die risiko van voedingstekorte in veral arm gemeenskappe en huishoudings sonder voedselsekerheid verhoog. In armer gemeenskappe kan bejaarde mense, veral vroue, aan die risiko van ʼn onvoldoende dieet blootgestel word omdat hulle dikwels maaltye oorslaan om hul kleinkinders te voed.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se verslag oor die Maatskaplike Profiel van Ouer Mense 2011-2015, maak bejaarde mense 8,1% van die bevolking uit. Die proporsie ouer mense in die bevolking het toegeneem van 7,3% in 2001 tot 8,1% in 2016.

Die risiko van nie-oordraagbare siektes onder bejaardes, soos hoë bloeddruk, diabetes, beroertes en hartsiektes, is aan die toeneem in Suid-Afrika. Bejaardes (mense ouer as 60 jaar) is gewoonlik afhankliker van gesondheidsorgdienste as die res van die bevolking. As wanvoeding in daardie groep voorkom, sal die siekte- en sterftekoers waarskynlik styg. Energie- en proteïentekorte lei tot veranderinge in die liggaamsamestelling en -funksies, soos verswakte spierfunksie, ʼn laer beenmassa, stadiger wondheling, verminderde kognitiewe en immuunfunksie en anemie.

Daar is ʼn tekort aan nasionale data oor die voedingsinname van die bejaarde bevolking in Suid-Afrika. Bejaardes word oor die algemeen as ʼn hoërisikogroep vir voedingstekorte beskou, maar min is oor hul dieet bekend. Tans is net kleinskaalse streekstudies beskikbaar en meer navorsing oor wanvoeding by bejaardes, veral in arm gemeenskappe, is nodig.

Hoekom loop bejaardes die gevaar van swak voeding?

Chroniese siektes, medikasie, swak tandgesondheid en depressie is van die faktore wat ʼn aptytverlies en verminderde voedselinname onder bejaardes kan veroorsaak. Hulle kan ook ly aan swak absorpsie, gastro-intestinale wanabsorpsie, chroniese pyn, valstande wat swak pas en veranderinge in smaak- en reukpersepsie. Bejaarde mense het ook ʼn laer dorspersepsie en loop die gevaar van ontwatering. Voorts kan armoede, ekonomiese teëspoed, lae onderwysvlakke, ʼn lae funksionele status en die onvermoë om kos te gaan koop alles tot wanvoeding onder bejaardes bydra.

Al het maatskaplike toelaes ʼn verskil in arm huishoudings gemaak, styg kospryse voortdurend en word arm gesinne gedwing om goedkoper, minder voedsame kos met ʼn hoë stysel- en ʼn lae proteïeninhoud te koop, asook minder groente en vrugte.

Die aankoop van kos wat deur die prys eerder as die voedingswaarde bepaal word, neig om ryk aan energie en arm aan voedingswaarde te wees. Dit sluit verfynde ontbytgrane, bygevoegde vette en suikers in, wat ʼn hoër dieetenergie teen ʼn laer koste bied, maar ʼn laer inhoud van ander voedingstowwe bevat. ʼn Tipiese “laegehalte"-ete bestaan grootliks uit mieliemeel, brood of rys, en baie min diereproteïen of groente. Die ete word ook dikwels met goedkoop olie en baie sout voorberei. Dit het meegebring dat talle Suid-Afrikaners, selfs dié wat oorgewig is, groot voedingstoftekorte ervaar, met inbegrip van vitamien A, yster en ander minerale en vitamiene.

Voorts word maatskaplike toelaes vir ander items as kos gebruik. Al sou arm mense ʼn voedsame dieet kon bekostig, het hulle ander behoeftes benewens kos. In ʼn studie oor hoe toelaes deur vroulike ontvangers daarvan in die Wes-Kaap bestee word, is gevind die eerste prioriteit vir die ontvangers van kinder-, bejaarde- en gestremdheidstoelaes is kos. Onderwys was die tweede prioriteit vir ontvangers van kindertoelaes, gevolg deur klere en vervoer. Vir die ontvangers van bejaarde- en gestremdheidstoelaes was begrafnisdekking die tweede prioriteit, gevolg deur onderwys.

Voedingsoorwegings vir ouer mense en/of hul versorgers  

Aanbevelings en gevolgtrekkings gegrond op die beskikbare literatuur:

  • Bly gehidreer deur baie skoon water te drink. Ontwatering kan onder meer moegheid, duiseligheid, konstipasie, ʼn swak gemoedstoestand en verwarring veroorsaak. ʼn Algemene riglyn is om agt glase water per dag te drink.
  • Eet ʼn verskeidenheid van gesonde kosse en vermy kos wat hoog in energie en laag in voedingswaarde is en baie suiker en vet bevat, maar min voedingstowwe. Dit sluit tjips, koekies, koeldranke en alkohol in.
  • Mik vir vyf porsies vrugte en groente per dag. Dit kan vars, gevries, geblik of gedroog wees.
  • Maer vleis, hoender en vis is wonderlike bronne van proteïen. Geblikte sardientjies, tuna en sardyne is gepak met omega 3-vette wat goed vir die hart is. Bone, eiers en neute is ook goeie proteïenaanvullers.
  • Peulvrugte en -gewasse is ryk, bekostigbare bronne van proteïen van ʼn goeie gehalte, asook van koolhidrate, dieetvesel, vitamiene, minerale en fitochemikalieë. Dit bevat min energie, vet en sout en kan dieetgehalte verbeter en beskerming teen leefstylsiektes bied.
  • Gebruik minder sout. Te veel sout in die dieet kan tot hoë bloeddruk bydra, wat beroertes of hartsiektes tot gevolg kan hê.
  • Drink drie koppies vetvrye of laevetmelk deur die dag. As jy melk-intolerant is, probeer klen hoeveelhede jogurt, karringmelk, harde kaas of laktosevrye kosse. Drink water in plaas van suikerdrankies.
  • ʼn Bejaarde wat minder as 6 300 kJ (1 500 kcal/dag) inneem, sal moontlik multivitamiene en minerale aanvullings ooreenkomstig die Aanbevole Dieettoelae-vlakke (ADT) nodig hê.
  • As swak aptyt of die beskikbaarheid van kos ʼn probleem is, kan skommels wat maaltye vervang of voedingstofdigte kosse soos verrykte of gefortifiseerde kos aanbeveel word. Alternatiewelik word multivitamien- en minerale aanvullings aanbeveel. Aanvulling met enkele voedingstowwe (met die uitsondering van kalsium) word nie aanbeveel in geval van ʼn kliniese tekort nie.
  • Chroniese siektes kan die behoefte aan aanvullings verhoog. Dit sluit diabetes, Crohn se siekte en ulseratiewe kolitis in.
  • Bejaarde mense wat sigarette rook of te veel alkohol drink, kan aanvullings nodig hê.
  • Medikasie kan die behoefte aan sommige voedingstowwe verhoog – dit moet bepaal word deur die gesondheidsberoepslui wat die middels voorskryf.
  • Kalsiumaanvulling teen ADT-vlakke (1 200 mg) is nodig by bejaarde pasiënte wat nie drie porsies suiwel per dag inneem nie. Kalsiumnitraat word beter in achloorhidriese pasiënte geabsorbeer en kan dus doeltreffender wees.  
  • Aanvulling met vitamien D-3 (400 IE tot 800 IE) plus kalsium (500 mg to 1 200 mg), kan help om die voorkoms van frakture by geïnstitusionaliseerde ouer volwassenes te verminder.
  • Gesonde postmenopousale en volwasse mans moet oor die algemeen nie ysteraanvullings gebruik nie.
  • Rokers moet aanvulling met beta-karotien vermy.  

Keuses vir ʼn beperkte begroting: hoe om beter waarde vir geld te kry

  • Gedroogde peulvrugte is nie net goeie plaasvervangers vir vleis, vis, eiers of kaas nie, maar kan gebruik word om byvoorbeeld vleis te rek.
  • Dis nie nodig om elke dag vleis te eet nie. Vleisalternatiewe, wat veel goedkoper is, kan as plaasvervangers gebruik word of om maaltye meer substansie te gee.
  • Voeg gekookte droë bone by stowevleis.
  • Meng fyngemaakte, gekookte droë bone met maalvleis of vis om vleisbrood, viskoekies of frikadelle te maak.
  • Sojabone kan geprosesseer word om getekstureerde sojaproteïen te maak wat soos vleis smaak en lyk, en dus as plaasvervanger vir vleis gebruik kan word.  
  • Getekstureerde sojaproteïenprodukte (bv. Toppers, Knorrox en Imana) kan gebruik word om maalvleis in bobotie, frikadelle en ander vleis- of hoenderdisse te rek.

ʼn Kilogram gedroogde bone lewer 33 porsies, terwyl ʼn kilogram vleis 9 porsies lewer (1 koppie rou, droë bone lewer ± 8 koppies as dit gekook word).

Verkry toegang tot die Suid-Afrikaanse kosgebaseerde dieetriglyne en -aanbevelings vir gesonde eetgewoontes en gewigsverlies by: http://www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/nicus/how-to-eat-correctly.

Vir meer inligting, kontak Nicus of ʼn dieetkundige wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is.

Irene Labuschagne