Fisiese uitdagings stuit nie fisioterapeut

Liesl James het ten spyte van ‘n linkerkantste hemiplegiese serebrale verlamming haar BSc-graad in Fisioterapie verwerf.

Liesl James het altyd daarvan gedroom om ’n fisioterapeut te word. “Ek wou fisioterapie studeer solank as wat ek kan onthou,” vertel sy.

Haar droom het egter onder ongewone omstandighede ontstaan. Liesl is met linkerkantste hemiplegiese serebrale verlamming gediagnoseer nadat haar ma opgelet het iets is nie “heeltemal reg” nie en antwoorde van spesialiste begin vra het toe sy drie maande oud was. Dit beteken Liesl het beperkte gebruik van die linkerkant van haar liggaam.

“Maar my ma het baie moeite gedoen om seker te maak ek het die regte fisio- en arbeidsterapeute om my te help,” sê sy.  

Sy onthou ’n fisioterapeut wat haar op 11-jarige ouderdom werklik gedruk het. “Dit het meegebring dat ek wou verstaan wat met my ‘fout’ is en hoe ek ander kinders met ’n soortgelyke diagnose kon help.”

Maar haar kinderdae was nooit maklik nie. “Ek is weens my manier van loop geboelie in die spesiale skool waarheen ek gegaan het, asook in hoofstroomskole. Gelukkig was my ma altyd daar om seker te maak dit kry my nie onder nie.”

Sy erken dié ervarings het hul tol geëis. Vrees was die grootste uitdaging wat sy te bowe moes kom. “Ek was bang om enigiets te doen in geval ek gespot word, of dalk misluk.”

Haar uitdagings het toegeneem toe sy nie haar fisioterapiedroom onmiddellik ná haar matriekjaar aan die Edenvale High School in Johannesburg kon verwesenlik nie. “Ek het in 2006 matriek geskryf, maar my punte was nie goed genoeg nie. Ek het ’n brugjaar geneem om my punte te verbeter, maar dit was onsuksesvol.”

Sy het toe vir die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes (SASAPD) begin werk, waar sy ’n passie ontdek het om met gestremde atlete te werk en begin spaar het om in 2008 te studeer. “Ek dink dit was eers gedurende hierdie tyd, toe ek gesien het hoe die atlete soveel hindernisse oorkom, dat ek anders oor myself begin voel het en begin dink het ek kan enigiets doen waarop ek my toespits.”

Sy het daarna ’n BA-graad in Menslike Bewegingswetenskappe en ’n honneursgraad met Sportwetenskap as spesialisgebied aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Toe sy in 2012 met ʼn aktuaris getrou het, kon Liesl nie voorsien sy maatskappy sou hom vra om na Kaapstad te verhuis nie. Dié skuif was presies wat sy nodig gehad het om haar te aan te spoor om vir haar BSc in Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch aansoek te doen – en sy is aanvaar.

Liesl is nou 29, het haar graad agter haar naam en is meer opgewonde as ooit tevore oor wat haar toekoms inhou. Sy begin volgende jaar met haar gemeenskapsjaar aan die New Somerset Hospitaal in Kaapstad, en daarna staan die wêreld vir haar oop.

“’n Fisioterapeut kan soveel vir mense doen. Dit gaan oor die band wat jy emosioneel, geestelik en liggaamlik met jou pasiënte smee. Dit verskaf my soveel vreugde om ’n pasiënt wat ’n beroerte gehad het, te help om ná maande van bedlêendheid op te staan en te loop, of om ’n pasiënt te help om uiteindelik sonder pyn te loop.”

Sy word gemotiveer deur Nike se slagspreuk “Just do it!” en glo elke mens is in staat om enigiets te doen deur harde werk en volharding – eienskappe wat sy meen deur haar ma beliggaam word en aan haar oorgedra is.

Liesl is voornemens om aan te hou om ’n verskil te maak. “Ek sou graag wou sê om een van die fisioterapeute van die Paralimpiese span te wees, is op die lys van dinge wat ek gedoen het. Maar ek is doodgelukkig om net met my droomwerk te begin!”

 

Liezel Engelbrecht