Onderriggenootskap maak ‘n impak

Drs Nicola Plastow, Berna Gerber, Elize Archer en Prof Susan van Schalkwyk.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot akademiese uitnemendheid eindig nie met leer- en navorsingsuitsette van studente nie, maar behels ook die aanmoediging van dinamiese en deurlopende kurrikulumvernuwing en die ingebruikneming van innoverende onderrigpraktyke.

Toe die US se Sentrum vir Onderwys en Leer (SOL) ’n voorstel aanvaar het om ’n onderriggenootskapprogram uit te rol, was dit met die uitdruklike bedoeling om die statuur van onderwys en leer te verhoog en die groei van vakkundige geleerdheid in daardie veld te ondersteun.

“Die genootskapprogram bied op twee vlakke ondersteuningsgeleenthede,” sê prof Susan van Schalkwyk, direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO) van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). “Ten eerste bied dit aan individue die unieke geleentheid om hul kundigheid en begrip van onderwys en leer te verhoog. Dít bevorder weer die aanvaarding van ’n vakkundige benadering tot hul onderwys, wat in die ontwikkeling van vakkundige uitsette uiting vind.

“Maar die impak van die program word ook op departementele en fakulteitsvlak gevoel, aangesien genote die finansiering dikwels sal gebruik om projekte te onderneem wat die praktyk van onderwys en leer oor verskillende modules en programme heen kan beïnvloed – en hulle doen dit op ’n vakkundige en bewysgebaseerde manier. Die genootskapsprogram dien derhalwe as katalisator om onderwys en leer as ’n veld van vakkundige strewe te vestig, terwyl dit ook tot die kennisinhoud in hierdie veld bydra.”

Sedert die aanvaarding van hierdie SOL-inisiatief is verskeie genootskappe aan individue van die FGGW toegeken. Hieronder verduidelik party van hulle hul belangstellingsveld en die bydrae wat die genootskap tot die onderwysomgewing gelewer het:

*Dr Elize Archer – SGBO (2017-ontvanger)

Hoekom het jy hierdie studieveld gekies? Dit was die afgelope 10 jaar ’n belangstellingsveld. Ek stel veral in kurrikulumontwikkeling belang, asook hoe om pasiëntgesentreerdheid daarby te inkorporeer.

Hoe gebruik jy jou genootskap? My genootskap strek oor drie jaar. Ek is voornemens om kurrikulumintervensies rakende pasiëntgesentreerde kommunikasievaardighede in werking te stel en navorsing oor die effek en proses te doen. Vanjaar het ons navorsing gedoen oor die beste maniere om pasiëntgesentreerdheid aan voorgraadse studente te onderrig. In 2018 gaan ek nuwe onderrigsessies implementeer wat op empatie gefokus is. Ek is opgewonde om uit te vind hoe kliniese empatie ten beste aan studente onderrig kan word. Daar word voorts van my verwag om artikels te publiseer oor die werk wat gedoen word en dit by konferensies aan te bied.

Wat hoop jy om met jou bydraes te bereik? Ek wil graag hê gesondheidsberoepslui moet die pasiënt eerder as die siekte sien. ’n Ernstige uitdaging vir mediese studente in die kliniese areas is dat hul interaksie met pasiënte dikwels baie taakgeoriënteerd is en pasiënte gevolglik voel hulle is nie voldoende versorg nie. Tegelyk voel dokters en studente gefrustreerd omdat hulle nie na pasiënte kan omsien op die manier wat hulle sou wou nie. Met my huidige kurrikulumintervensie wil ek hê studente moet besef dat pasiëntgesentreerdheid nie bykomende werk vir ’n gesondheidsorgpraktisyn hoef te beteken nie. Dit begin met die vorming van ’n band met pasiënte en om hulle te laat voel hulle word gehoor. Dit bejoort ’n bestaanswyse te wees en hoef nie lank te neem nie. Net ’n paar vaardighede is aanvanklik nodig.

In die toekoms sal ek graag ook by ander programme in die Fakulteit betrokke wou raak.

*Dr Berna Gerber – Afdeling Spraak-, Taal- en Gehoorterapie (2015-ontvanger)

Wat is die fokus van jou genootskap? Die breë onderwerp is “Menslike en Geesteswetenskappe in Gesondheidsberoepe-onderwys”. My projek fokus spesifiek op die gebruik van konsepte en idees in die veld van onderwysfilosofie oor klinikus-pasiëntinteraksie.

Hoekom het jy hierdie onderwerp gekies? Dis ’n direkte toepassing van sommige van die aanbevelings van my PhD-proefskrif in filosofie, met die titel “Identity and discourse: A critical philosophical investigation of the influence of the intellectual self-image of the medical profession on communicatively effective care to patients”.

Wat word van jou as ’n onderwysgenoot verwag? My genootskap het aan die begin van 2015 ʼn aanvang geneem en eindig in Maart 2019. Dit behels die ontwikkeling van onderwysgeleenthede vir gesondheidsberoepe-studente en -graduandi; die bou van kapasiteit, persoonlik sowel as binne en buite die FGGW; die bou en versterking van professionele netwerke en vennootskappe; en die kommunikasie van my navorsing, soos om aanbiedings oor die werk by konferensies en vir joernale te doen.

Wat dink jy was die grootste impak van jou bydrae tot op hede? Die geleentheid om my idees met ʼn breë gehoor van gesondheidsberoepslui te deel. Hierdie individue is gewoonlik baie besig, met min tyd of geleentheid om na te dink oor die idees wat ek met hulle gedeel het. Hul positiewe reaksie was baie bemoedigend en bevestigend van die behoefte aan die onderwysgeleenthede wat ek voorstel.

*Prof Dana Niehaus – Departement Psigiatrie (2011-ontvanger)

Wat was die fokus van jou genootskap? Ek en prof Liezl Koen het begin met navorsing oor die herkenning van affek (om gesigsuitdrukkings korrek te lees) en die invloed daarvan op finalejaar- mediese studente se akademiese resultate. Daar was ʼn paar interessante bevindings, byvoorbeeld dat studente wat geluk makliker herken beter in verloskunde en ginekologie vaar. Ons het ook navorsing gedoen oor die regverdigheid van mondelingse versus geskrewe eksamens in psigiatrie en het geen belangrike verskil in die akademiese prestasie bevind nie. Ons het danksy die genootskap drie jaar se finansiering ontvang, wat ons in staat gestel het om tot onlangs data te versamel. Ons kan dit nou gebruik om verdere navorsing te doen.

Wat dink jy was die grootste impak van die genootskap? Die feit dat dit ʼn hupstoot aan talle ander navorsingsprojekte en data-insameling gegee het. Nou, meer as ses jaar later, het ons ʼn MMed-student wat navorsing oor die verwantskap tussen persoonlikheidsprofiele en voorgraadse mediese studente se akademiese prestasie doen danksy die data wat ons met behulp van die genootskap kon insamel.

Wat dink jy was jou navorsing se waardevolste bydrae tot die onderwys- en leerveld? Ons kurrikulum het meer portefeulje-gedrewe geraak. Ons fokus nou ook daarop om studente reeds in die fondasiefase in die herkenning van affek te onderrig. Nie-verbale kommunikasie maak sowat 90% van die boodskap uit, dus is dit van deurslaggewende belang dat studente geleer word om sensitief vir hierdie tekens te wees. Navorsing het getoon dit bring beter pasiëntuitkomste mee, met ʼn kleiner risiko en groter nakoming.

*Dr Nicola Plastow – Afdeling Arbeidsterapie (2015-ontvanger)

Wat is die fokus van jou genootskap? Die vernuwing van die voorgraadse arbeidsterapie-kurrikulum. Dit is ’n koöperatiewe projek waarby die hele akademiese span betrek word.

Watter navorsing doen jy? Hoe ons graduandi-eienskappe vaslê sodat studente agente vir verandering in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel word. Die graduandi-eienskappe waarop ons gefokus het om in die Fakulteit te ontwikkel, is ʼn aanpassing van die Canadian Medical Education Directions for Specialists (CanMEDS)-vaardighede. Ons het gekies om dié eienskappe in ons kurrikulum vas te lê omdat ons glo die ontwikkeling van die regte vaardighede moet ’n integrerende deel van onderwys en leer wees en moenie bloot aan die bestaande kurrikulum “vasgebout” word nie.

Wat is die belang van die genootskap-toekenning? Ons kurrikulumontwikkelingsproses sou nie daarsonder moontlik gewees het nie. Hierdie toekenning het my ‘n geleentheid gebied om ons kurrikulumvernuwing in groter diepte te ondersoek en hierdie bevindings plaaslik en internasionaal te deel.

Wat dink jy was die grootste impak van jou bydrae tot op hede? Ons moet graduandi ontwikkel om doeltreffende agente van verandering in komplekse omgewings te word as ons wil hê onderwys moet ’n maatskaplike impak hê. Ons voorsien dat ons hersiene kurrikulum ons studente beter in staat sal stel om ’n unieke bydrae te lewer tot die lewe van die mense wat ons dien, asook tot gesondheidsorg van gehalte waarna ons in hierdie land streef. Ons navorsing gaan steeds voort, aangesien die finale jaar van die hersiene kurrikulum in 2018 gelewer sal word.

·       Bykomende verwysing: Sentrum vir Onderwys en Leer https://www.sun.ac.za/english/learning-teaching/ctl/t-l-awards-and-grants/teaching-fellowships

Liezel Engelbrecht