HIV teiken ook die brein

Dr Stéfan du Plessis is die eerste mens wat ʼn PhD aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe behaal wat op fMRI fokus.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het ontdek dat die menslike immuniteitgebrekvirus (MIV) tydens die vroeë stadiums van die infeksie ʼn direkte impak op die brein het.

Dit is al lankal bekend dat mense met MIV ook negatiewe kognitiewe simptome soos depressie, vergeetagtigheid en so meer ervaar. Maar dit was onduidelik of dit deur pasiënte se liggaamlike ongesteldheid veroorsaak is en of die MI-virus ʼn direkte impak op die brein het.

“Ons navorsing toon dat MIV wel ʼn impak op die brein het en dat hierdie laegraadse kognitiewe simptome waarskynlik nie bloot funksieverlies is omdat pasiënte siek, moeg of depressief voel nie,” sê dr Stéfan du Plessis, hoofouteur van ʼn reeks artikels oor die navorsing wat in Vigs- en ander internasionale joernale gepubliseer is.

Deur funksionele magnetiese resonansbeelding (fMRI) te gebruik – ʼn tipe breinskandering wat toon hoe bloed na sekere dele van die brein vloei terwyl iemand sekere take uitvoer of sekere emosies ervaar – het Du Plessis en sy span die breinaktwiteit van mense met MIV vergelyk met mense sonder MIV, terwyl hulle sekere take uitgevoer het wat ten doel het om spesifieke areas van die brein te stimuleer. MIV-positiewe deelnemers aan die studie was liggaamlik en geestelik gesond, het nie dwelms misbruik nie en het nog nie met anti-retrovirale behandeling (ART) begin nie.

Hulle het gevind mense met MIV het verminderde bloedvloei na die striatum ervaar terwyl hulle take uitgevoer het wat hoër motorfunksies behels het. Hulle het ook min aksie en bloedvloei na die nucleus accumbens van MIV-positiewe pasiënte waargeneem terwyl hulle ʼn taak uitgevoer het wat ʼn monetêre beloning behels het. Hierdie deel van die brein is betrokke by aspekte rakende motivering, apatie en entoesiasme vir die lewe.

“Die fMRI-skanderings toon hoe die MI-virus belangrike dele van die brein raak wat by motivering betrokke is. Ons teorie is dat die invloed so groot kan wees, dat pasiënte dikwels eenvoudig nie gemotiveer genoeg is om hul medikasie te drink, of selfs uit die bed op te staan nie,” verduidelik Du Plessis. Hy het die navorsing as deel van sy PhD in Psigiatrie gedoen en is die eerste mens wat ʼn PhD aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe behaal wat op fMRI fokus.

Die navorsers het voorts die struktuur van die frontale korteks bestudeer – ʼn deel van die brein wat bekend daarvoor is dat dit in die konteks van MIV atrofeer. Hulle het ʼn konneksie ontdek tussen die vlakke van atrofie en breinfunksieverswakking – hoe dunner die frontale lob, hoe laer was die funksioneringsvlakke.

“Die studie plaas die kollig op ʼn voorheen onbekende funksionele effek wat MIV op die brein het. Ons hoop die resultate sal verdere studies stimuleer om die effek te toets van ART, of ander intervensies, wat breinfunksie kan verbeter en sodoende ook die lewe en welsyn van pasiënte met MIV,” sê Du Plessis. 

Vroeëre studies het getoon tot 50% van mense met MIV kan aan die een of ander vorm van kognitiewe skade ly, wat strek van subtiele verswakking wat net deur gesofistikeerde kognitiewe toetse bemerk kan word, tot ernstige psigose.

Voor die gebruik van ART het talle pasiënte erntige MIV-verwnte demensie ontwikkel. ART het die simptome van demensie in MIV-positiewe mense aanmerklik verbeter.

 

Wilma Stassen