Erns met harsingskudding

Dr Pierre Viviers en prof Wayne Derman tydens ‘n onlangse besoek aan die gevorderde harsingskudde-fasiliteit by die Amerikaanse voetbalklub, Seattle Sea Hawks.

Harsingskuddingbeserings in sport is algemeen, en ʼn nuwe eenheid by die Universiteit Stellenbosch sal hom daarop toespits om hierdie probleem deur navorsing en behandeling die hoof te bied.

ʼn Gevorderde harsingskuddingseenheid word binnekort by die Universiteit Stellenbosch bekend gestel om harsingskudding by Maties sowel as in die groter gemeenskap na te spoor, te behandel en te bestudeer.

“Harsingskudding is ʼn algemene sportbesering, veral onder rugbyspelers, en dit is belangrik om dit behoorlik te bestuur,” sê prof Wayne Derman, direkteur van die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (ISOG) in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. “Die eerste stap is om harsingskudding te herken en dan die persoon uit aktiewe sportdeelname te haal totdat hy of sy gerehabiliteer is. Dis noodsaaklik dat ʼn speler met harsingskudding nie te vroeg weer begin speel nie.”

Harsingskudding is ʼn ligte tipe breinbesering wat algemeen voorkom in kontaksport soos rugby, boks of hokkie. Dit vind plaas wanneer ʼn stamp teen die kop of lyf die brein in die skedel laat skud, en kan kognitiewe funksies soos sig, balans en spraak aantas en ook ander fisiese en sielkundige simptome veroorsaak.

Tussen 250 en 300 gevalle van harsingskudding word jaarliks by die US se Kampusgesondheidsdienste aangemeld.

Derman en dr Pierre Viviers, direkteur van Kampusgesondheidsdienste, het onlangs in Amerika tyd deurgebring saam met die Seattle Sea Hawks, ʼn Amerikaanse voetbalklub, om meer te wete te kom oor hul gevorderde harsingskuddingsprogram sodat dié twee hierdie kennis by Maties se nuwe eenheid kan kom toepas.

Die nuwe fasiliteit sal as ʼn behandeling- sowel as ʼn navorsingsentrum dien, en sal op interdissiplinêre samewerking tussen verskillende universiteitsvennote berus om te sorg dat pasiënte fisies, verstandelik en sielkundig herstel voordat hulle weer aan sport begin deelneem.

“Die sielkundige impak van harsingskudding is ʼn belangrike aspek. Pasiënte kan ʼn verskeidenheid gemoedsabnormaliteite ondervind, soos prikkelbaarheid, angs of depressie. Daarom sal die eenheid fisiese sowel as kognitiewe en sielkundige assesserings uitvoer om toe te sien dat alle funksies ten volle herstel voordat spelers weer op die veld draf.

“Sportspelers wat te vinnig terugkeer, is vatbaar vir verdere besering. Hulle drempel vir harsingskudding is laer, wat hulle risikogevalle vir sekondêre harsingskudding maak. ʼn Onlangse studie het getoon dat hulle ook geneig is tot knie- en ander skeletspierbeserings,” waarsku Derman.

ISOG werk saam met etlike navorsingsvennote aan ʼn aantal harsingskuddingverwante projekte. In samewerking met die US se Departement Sportwetenskap ontwikkel hulle byvoorbeeld ʼn toepassing (app) wat gebruik sal word om harsingskudding te diagnoseer deur abnormale oogbeweging na te spoor, en saam met die US se Afdeling Fisioterapie verken hulle balansrehabilitasie ná harsingskudding.

“Daar is al heelwat bekend oor harsingskudding in beroepsrugby, maar daar is ʼn kennisleemte oor harsingskudding in gemeenskapsvlakrugby, en dít is wat ons graag by die US se gevorderde harsingskuddingseenheid sal wil bestudeer,” sluit Derman af.

Wilma Stassen