Op tipe 2-diabetes se spoor

Vir haar PhD, het dr Zelda Vergotine gefokus op die nasporing van gene wat verbind word met insulienweerstandigheid, die voorloper van diabetes.

Diabetes is tans naas hartsiektes en MIV/vigs die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika. Die veelvuldige faktore wat dit veroorsaak is kompleks en om dit te bestry moet navorsers die wisselwerking tussen veelvuldige gene in kombinasie met omgewingsfaktore beter verstaan.

Vir haar PhD, wat aan die Afdeling Chemiese Patologie van die Fakulteit Geneeskundeen Gesondheidswetenskappe behaal is, het dr Zelda Vergotine gefokus op die nasporing van gene wat verbind word met insulienweerstandigheid, die voorloper van diabetes.

“Ek het op insulienweerstandigheid gefokus, want dít is waar ons hoop om die ontwikkeling van diabetes te onderbreek terwyl dit nog omkeerbaar is,” sê Vergotine.

Sy het ’n populasie van gemengde afkoms in Belville-Suid, Kaapstad, vir haar studie gekies. In ooreenstemming met wêreldwye tendense het die voorkoms van tipe 2-diabetes onder Suid- Afrikaners van gemengde afkoms oor die laaste twee dekades van 10,8% tot ’n skrikwekkende 26,4% toegeneem – naas Suid-Afrika se Indiërbevolkingsgroep die hoogste in die land.

“Daar is baie literatuur oor die genetiese faktore wat tot insulienweerstandigheid bydra, maar data oor die spesifieke kandidaatgene wat Suid-Afrikaners vatbaar daarvoor maak, is nog nie bestudeer nie,” sê Vergotine.

Sy verduidelik dat al is dié gene dalk reeds in ander bevolkingsgroepe geïdentifiseer, kan geen-tot-geen- en geentot- omgewing-interaksies en sommige verwante risikofaktore die vatbaarheid vir metaboliese versteurings in verskillende bevolkingsgroepe beïnvloed.

In die studie is twee kandidaatgeenvariante ondersoek wat voorheen met insulien-weerstandigheid en diabetes onder Europese Kaukasiërs geassosieer is, naamlik PPARG (peroksisoom-proliferatorgeaktiveerde reseptor-gamma) en IRS 1 (insulienreseptorsubstraat).

PPARG is betrokke by nukleêre transkripsie, wat die aktiwiteite en metabolisme binne die sel beheer. IRS 1 is betrokke by hoe insulien aan die insulien-reseptorproteïen bind, wat die opeenvolging van sellulêre prosesse veroorsaak wat die gebruik en stoor van glukose bevorder.

Die navorsing het onthul dat ’n genetiese variant van PPARG , die Pro-12-alleel, sterk met insulienweerstandigheid geassosieer word: As dit met die bykomende ongunstige IRS 1-variant (Gly972Arg) interreageer het, het dit die risiko van diabetes aansienlik verhoog.

“Wat die studie laat uitstaan, is dat ons ’n geen-geen-interaksie gevind het met dié twee gene wat in hierdie proses saamwerk. Die genetiese voorspelling van siektes verbeter aansienlik as genetiese variante met sterk uitwerkings geïdentifiseer word, óf op hul eie óf saam met ander variante,” verduidelik Vergotine.

“Deur genetiese vatbaarheid vir insulienweerstandigheid gekombineer metonderliggende risikofaktore te identifiseer, kan ons hoërisiko-pasiënte aanmoedig om van primêre leefstylvoorkomingsprogramme gebruik te maak,” sê Vergotine.

“In die lig van die verband tussen oorgewig en ’n verhoogde risiko vir die ontwikkeling van insulienweerstandigheid en diabetes, dink ek die styging in die oorgewigkoers is die belangrikste kwessie in hierdie spesifieke populasie. Dit is ook ’n landwye bron van kommer.”

Op grond van ’n 2014-verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie waarin bevind word dat 2 uit elke 5 Suid-Afrikaanse sterftes deur nie-oordraagbare siektes veroorsaak word, het die Departement van Gesondheid die Strategiese Plan vir die Voorkoming en Beheer van Nie-oordraagbare Siektes ontwikkel. Tipe 2-diabetes is as die belangrikste nie-oordraagbare siekte uitgesonder en daarword voorkeur verleen aan die verkleining van die rol van vier sleutel-risikofaktore – ’n gebrekaan liggaamlike aktiwiteit, dieet en die gebruik van tabak en alkohol – in die aandrywing vanhierdie gesondheidskrisis.

Olivia Rose-Innes