Rol van die dermkanaalmikrobioom in posttraumatiese stresversteuring

Wetenskaplikes het bewus geword van die belangrike rol wat die dermkanaalmikrobioom in die brein speel.
Die bakterieë in jou dermkanaal kan leidrade bied oor of jy posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ná ʼn traumatiese gebeurtenis sal ontwikkel. 
 
PTSV is ʼn ernstige psigiatriese versteuring wat kan ontwikkel nadat iemand ʼn lewensbedreigende trauma of ʼn baie traumatiese gebeurtenis ervaar het. Nie almal wat aan so ʼn gebeurtenis blootgestel is, sal PTSV ontwikkel nie. Etlike faktore beïnvloed mense se vatbaarheid daarvoor – insluitend lewensomstandighede, ervarings in die kinderjare en genetiese samestelling. Navorsers van die Universiteit Stellenbosch voeg nou dermkanaalbakterieë by hierdie lys. 
 
Wetenskaplikes het die afgelope jare bewus geword van die belangrike rol van mikrobes wat in die menslike spysverteringskanaal voorkom, bekend as die dermkanaalmikrobioom. Hierdie mikrobes verrig belangrike funksies, soos die metabolisering van kos en medisyne, asook om siektes te beveg. Daar word nou gemeen die dermkanaalmikrobioom beïnvloed ook die breinfunksie deur die produksie van neuroversenders/-hormone, immuunregulerende molekules en bakteriële toksiene. 
 
Stres en emosies kan die samestelling van die dermkanaalmikrobioom verander. Streshormone kan bakteriële groei beïnvloed en die integriteit van die dermkanaalvoering kompromitteer, wat kan meebring dat bakterieë en gifstowwe die bloedstroom binnedring. Dit kan inflammasie veroorsaak, wat ʼn rol in verskeie psigiatriese versteurings speel. 
 
“Ons studie het die dermkanaalmikrobioom van individue met PTSV vergelyk met individue wat ook aansienlike trauma beleef het, maar nie PTSV ontwikkel het nie. Ons het ʼn kombinasie van drie bakterieë (Actinobacteria, Lentisphaerae en Verrucomicrobia) geïdentifiseer wat anders was by mense met PTSV,” verduidelik die hoofnavorser, dr Stefanie Malan-Muller. Sy is ʼn postdoktorale genoot van die Departement Psigiatrie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. 
 
Individue met PTSV het aansienlike laer vlakke van hierdie drie bakterieë gehad vergeleke met die kontrolegroepe wat ook aan trauma blootgestel was. Individue wat trauma gedurende hul kinderjare ervaar het, het ook laer vlakke van twee van hierdie bakterieë (Actinobacteria en Verrucomicrobia) gehad. “Wat hierdie ontdekking interessant maak, is dat individue wat trauma tydens die kinderjare ervaar ʼn hoër risiko het om PTSV later in hul lewe te ontwikkel, en dat hierdie veranderinge in die dermkanaalmikrobioom moontlik vroeg in hul lewe in reaksie op kinderjare-trauma plaasgevind het,” sê Malan-Muller. Sy het tydens die studie met navorsers van die Colorado Boulder-universiteit saamgewerk. 
 
Een van die bekende funksies van hierdie bakterieë is die regulering van die immuunstelsel en navorsers het hoër vlakke van inflammasie en ʼn gewysigde immuunregulering by individue met PSTV aangeteken. “Veranderinge in immuunregulering en verhoogde inflammasie het ook ʼn impak op die brein, breinfunksionering en gedrag. Vlakke van inflammatoriese merkers wat kort ná ʼn traumatiese gebeurtenis by individue gemeet is, het die latere ontwikkeling van PSTV voorspel. 
 
“Ons hipotese is dus dat die lae vlakke van hierdie drie bakterieë die wanregulering van die immuunstelsel en hoër vlakke van inflammasie by individue met PSTV kon meebring, wat tot hul siektesimptome kon bygedra het,” verduidelik Malan-Muller.  
 
Maar navorsers kan tans nog nie sê of hierdie bakteriële tekort PTSV-vatbaarheid verhoog en of dit as gevolg van PSTV ontstaan het nie.  
 
“Dit bring ons wel ʼn stap nader daaraan om te verstaan watter faktore moontlik ʼn rol in PTSV speel. Faktore wat vatbaarheid vir en weerstand teen die ontwikkeling van PTSV beïnvloed, word nog nie ten volle verstaan nie. Die identifisering van en insig in al hierdie bydraende faktore kan in die toekoms tot beter behandelingsmetodes bydra, veral omdat die mikrobioom maklik gewysig kan word met die gebruik van prebiotika (nie-verteerbare voedselbestanddele), probiotika (lewendige, heilsame mikro-organismes) en ʼn kombinasie van pre- en probiotika, of deur dieetintervensies.” 
 
Die navorsingsgroep gaan in samewerking met die Suid-Afrikaanse Mikrobioominisiatief in Neurowetenskap (www.saneurogut.org) ʼn grootskaalse, populasiegebaseerde inisiatief van stapel stuur om die ingewikkelde verband tussen die dermkanaalmikrobioom en die brein te ontrafel. Die studie sal fokus op mense wat met enige soort psigiatriese versteuring gediagnoseer is en hulle sal met gesonde kontrolegroepe vergelyk word. Met hierdie studie sal nog skakels geïdentifseer word tussen die dermkanaalmikrobioom en versteurings wat die brein raak. 
 
 
- Verkry toegang tot die gepubliseerde manuskrip by: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/28700459
FGGW Bemarking & Kommunikasie