Toekomstige Maties verken die FGGW

Die groep van 47 matrikulante wat deel was van die Visit@Tygerberg-program is hier tesien saam met die FGGW Dekaan, prof Jimmy Volmink, en twee Visedekane, prof Julia Blits en dr Therese Fish.
ʼn Groep van 47 matrikulante van reg oor Suid-Afrika het die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) onlangs as deel van die jaarlikse Visit@Tygerberg besoek. 
 
“Die Visit@Tygerberg-program het die afgelope 12 jaar ʼn belangrike rol gespeel in die werwing en registrasie van swart studente wat gekies is om aan die FGGW te studeer. In 2016 het 58 studente aan die program deelgeneem, waarvan 48 (83%) geregistreer het om in 2017 aan die Fakulteit te studeer. Hulle het in daardie jaar 7,2% van alle nuwe eerstejaar-registrasies van hierdie demografiese groep aan die US uitgemaak,” het me Farah Fredericks, Adjunkregistrateur van die FGGW, gesê. 
 
“Hierdie program het ten doel om nuut gekeurde studente aan die Tygerberg-kampus, sy personeel, geriewe en kurrikulum bekend te stel, asook om deelnemers in staat te stel om ʼn ingeligte besluit oor die US as hul toekomstige akademiese tuiste te neem,” sê Fredericks. 
 
Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het aan die leerders gesê die Fakulteit streef die opleiding van afgeronde praktisyns na, wat nie net oor die wetenskaplike en tegniese vermoëns beskik wat hul beroep vereis nie, maar ook onderrig is in vaardighede soos kritiese denke en etiek, wat van hulle beter praktisyns sal maak. 
 
“Ons wil gesondheidsdeskundiges lewer wat ons opleiding sal gebruik om van die samelewing ʼn beter plek te maak en instrumente van verandering in die samelewing sal wees,” het Volmink gesê. 
 
Die leerders het gedurende hul besoek van drie dae die Tygerberg-kampus en die Landelike Kliniese Skool in Worcester besoek en die studenteraad en die koshuis se huiskomitees ontmoet. Verskeie personeellede het hulle meer vertel oor die akademiese programme en ondersteuningstrukture wat deur die FGGW aangebied word. Voorts het die Tygerberg-gospelkoor vir hulle gesing en het hulle van Kaapstad se besienswaardighede en trekpleisters besigtig.

 

FGGW Bemarking & Kommunikasie