Kwaksalwery in die spervuur by US-kongres

Die Internasionale Beraad oor Kwaksalwery en Skynwetenskap is onlangs deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie-massakommunikasie van die Departement Joernalistiek aangebied.

Die “teenmiddel” vir kwaksalwery en skynwetenskap is bewysgebaseerde gesondheidsorg gegrond op betroubare wetenskaplike navorsing, asook behoorlike wetenskapskommunikasie om tegniese wetenskaplike inligting verteerbaar vir lede van die publiek te maak.

Dít was die boodskap van dr Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), in sy openingsrede van die Internasionale Beraad oor Kwaksalwery en Skynwetenskap. Die beraad is onlangs deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie-massakommunikasie van die Departement Joernalistiek aangebied.  

“Hierdie kongres bring beroepslui op die gebied van die mediese wetenskap, die media en die reg byeen vir ʼn indiepte fokus op die gevare van kwaksalwery en om skynwetenskap wat homself as eg voordoen,  aan die kaak te stel,” het De Villiers, ’n dokter van beroep, gesê. Hy het erken dat hy oor kwaksalwery en skynwetenskap bekommerd is, omdat hierdie praktyke misleidend, uitbuitend en gevaarlik is.

“Dink net aan die veldtog teen inenting, wat wêreldwyd verwoesting saai! Siektes soos masels, wat ons gedink het is so te sê uitgewis, bons terug,” het De Villiers gesê.

“Hierdie beraad sal nie net die kollig plaas op die bedreiging wat skynwetenskap vir die welsyn van die gemeenskap inhou nie, maar ook doeltreffende instrumente bied om mense te help om aansprake oor gesondheidsorg te assesseer en gesonde keuses te maak.”

Sprekers het die belangrikheid daarvan benadruk dat professionele kommunikeerders oor die wetenskap bewus moet wees van die gevare van skynwetenskap, wat dikwels as sogenaamde “fopnuus” in die media opeindig.  Fopnuus is media-inhoud wat soos feitelike verslaggewing lyk, maar eintlik propaganda is wat ten doel het om die openbare mening te beïnvloed en deur die internet en sosiale media versterk word.

Prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, het gewaarsku dat nie alle wetenskaplike bewyse betroubaar is nie en het sommige algemene wanvoorstellings van wetenskap in die media uitgelig, asook kwessies binne die wetenskaplike proses wat bewyse kan skeeftrek.

“Die media wemel van voorbeelde van enkele studies met opwindende resultate. Maar navorsing het getoon sulke bevindings is bykans altyd verkeerd,” het Volmink gesê. Hy het verduidelik dat talle studies te klein is om betroubare bewyse te bied en dat bevindings deur toeval beïnvloed kan word. Deur voorbeelde van werklike mediese praktyke en medikasie te gebruik, het hy geïllustreer hoe bewyse wat op klein, enkele studies gebaseer is, in werklikheid tienduisende sterftes veroorsaak het, wat net aan die lig gekom het toe bewyse van meer studies gekonsolideer is.

Volmink het voorts gewaarsku oor wetenskaplike inligting wat verlore gaan omdat studies nie formeel gepubliseer word nie, asook oor vooroordeel wat navorsing binnesypel weens finansiële, ideologiese en ander redes.

In haar praatjie oor die kommunikasie van wetenskap het prof Taryn Young, Direkteur van die SBGS, ʼn beroep op navorsingsorganisasies gedoen om wetenskaplikes se vermoë te bevorder om hul navorsing aan die publiek te kommunikeer, asook om vennootskappe tussen wetenskaplikes en die media te bevorder sodat die boodskap duidelik en akkuraat oorgedra word.

ʼn Verskeidenheid van plaaslike en internasionale kundiges het die beraad bygewoon. Hulle het ʼn klomp verwante onderwerpe bespreek, met inbegrip van die kommunikasie van onsekerheid in die wetenskap, gesondheidsregulering, skynwetenskap in die media en veel meer. 

FMHS Marketing & Communication