COVID-19: Verpleegkundiges versorg met deernis, vasbyt en moed

Dinsdag, 7 April was Wêreldgesondheidsdag. In ʼn artikel vir News24 skryf prof Portia Jordan van die Departement Verpleeg- en Verloskunde oor hoe verpleegkundiges hul taak met deernis, moed, passie en toewyding tydens die COVID-19 pandemie verrig.

  • ​Lees die vertaalde weergawe hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

COVID-19: Verpleegkundiges versorg met deernis, vasbyt en moed

Portia Jordan*

Verpleegkundiges en verloskundiges speel 'n belangrik rol in die verskaffing van gesondheidsdienste en maak in baie lande meer as 50% van die gesondheidsorg-werkerskorps uit. Hulle is dikwels die voorste linies van gesondheidswerkers en die eerste versorgingspunt in hul gemeenskappe wat hul lewe daaraan wy om vir pasiënte regdeur die verloop van die lewe te sorg. Verpleegkundiges en verloskundiges is onderwysers, kampvegters, raadgewers, kritiese denkers, probleemoplossers, innoveerders en navorsers.

Verpleegkunde is ook 'n kuns en 'n wetenskap, wat deur 'n stewige grondslag van omgee en deernis ondersteun word. Verpleegkundiges is dikwels die mense wat 24/7 langs pasiënte se beddens is, terwyl hulle lewens verander en vanaf die geboorteproses tot die herstel of dood van 'n pasiënt sorg verskaf. Verpleegkundiges en verloskundiges bly die kern van die gesondheidsorgstelsel en -werkerskorps; hulle is noodsaaklik om deurlopende pasiëntesorg te verseker en om die werksverhouding tussen multi- en interdissiplinêre spanne glad te laat verloop met die doel om geïntegreerde sorg te verskaf.

Verpleegkundiges en verloskundiges kan die maniere waar op gesondheidsaksies georganiseer word en besluitneming, beleidsformulering en navorsing geïmplementeer word, verander. Daar word na hulle as die ruggraat van primêre gesondheidsorgstelsels en gesondheidsorginrigtings verwys. Hulle is noodsaaklik om Universele Gesondheidsdekking (UGD) te bereik. Soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangedui, word daar egter wêreldwyd nege miljoen bykomende verpleegkundiges en verloskundiges benodig om UGD teen 2030 te bereik.

Die WGO het 2020 as die “Internasionale Jaar van die Verpleegkundige en Verloskundige" verklaar om die tweehonderdjarige herdenking van die geboorte van die grondlegger van die verpleegkunde, Florence Nightingale, te herdenk en om erkenning te gee aan die verpleegkunde se noodsaaklike bydrae tot wêreldgesondheid. Verder is dit ook 'n oproep vir wêreldlande om te verenig ter viering van die verpleegkundige en verloskundige-beroep se bydraes tot gesondheid en die wêreldbevolking. Vanjaar is baie betekenisvol vir die WGO binne die konteks van verpleegkundige en verloskundige-versterking vir UGD – 'n tyd om die werk wat verpleegkundiges en verloskundiges wêreldwyd doen en om die aandag te vestig op die uitdagende omstandighede wat verpleegkundiges dikwels in die gesig staar wanneer hulle voorspraak doen vir hul beroep (WGO, 2020). Dit is dus gepas dat dit ook vanjaar die fokuspunt is van vieringe om Wêreldgesondheidsdag (7 April) te gedenk.

In plek van die WGO se aankondiging, het baie verpleegkundige opleidingsinstellings en organisasies wêreldwyd begin om die beroep te vier. Die verpleegkundige wêreld het egter gou die aandag van die WGO se aankondiging van die “Internasionale Jaar van die Verpleegkundige en Verloskundige" na die COVID-19-pandemie verskuif.

In Desember 2019 het 'n nuut-geïdentifiseerde coronavirus, bekend as COVID-19, in Wuhan, China begin kop uitsteek en mense siek gemaak. Veelvoudige klusters van COVID-19 is sedertdien wêreldwyd, insluitende Afrika, aangemeld. Die VSA se departement van gesondheid en menslike dienste het die virus tot 'n landswye gesondheidskrisis verklaar nadat die WGO 'n openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang op 30 Januarie 2020 verklaar het. Suid-Afrika beleef tans 'n algehele inperking in 'n poging om die “kurwe te laat afplat" en om die verspreiding van die virus te verminder. China het op 21 Januarie 2020 vir die eerste keer bekendgemaak dat gesondheidsorgwerkers ook aangesteek het en die aantal gevalle het sedertdien in verskeie lande regoor die wêreld skerp toegeneem.

Die media vestig daagliks die aandag op die toestande wat verpleegkundiges en ander gesondheidsorgwerkers in die gesig staar en watse uitwerking personeeltekorte en beperkte hulpmiddele op die gesondheidsorgstelsel se vermoë om lewens te red, kan hê. Elke verpleegkundige wat met hierdie pasiënte werk, plaas hul eie gesondheid op die spel. Baie verpleegkundiges, soos in verskeie lande gesien, doen die virus op ondanks hul pogings om hulself te beskerm. Daar is by baie gesondheidsorginrigtings beperkte toegang tot persoonlike beskermende toerusting, toetsing bly onvoldoende en die moontlikheid van tekorte in maskers, ventilators en hospitaalbeddens het talle gesondheidswerkers, insluitende verpleegkundiges, moedeloos, uitgebrand en emosioneel en moreel angstig gelaat en laat hulle geïsoleerd en hulpeloos voel.

Dit is egter gedurende hierdie tydperk van die pandemie dat verpleegkundiges by alle gesondheidsorginrigtings veerkragtigheid, omgee, passie en toewyding getoon het. Die verpleegkundige se belofte om tot diens van die mensdom te wees, het in so baie gevalle die orde van die dag geword. Om die edele tradisie van die verpleegkundige beroep met 'n gewete, waardigheid en respek te beoefen en om die algehele gesondheid van pasiënte aan hul sorg toe te vertrou, het hul eerste oorweging geword en het vir so baie verpleegkundiges intenser geword in hierdie kwetsbare en onsekere tyd in ons gesondheidsorglandskap.

Verpleegkundiges gaan voort om sorg met deernis te bied in hierdie pandemie, te midde van hul eie vrese en vermoëns om die implikasies van COVID-19 te hanteer. In hierdie tyd van sosiale afstandskepping en te midde van siekte en die pandemie, verskaf verpleegkundiges steeds die menslike konneksie wat pasiënte nodig het om te herstel. Die lesse van Florence Nightingale wat gedurende die Krimoorlog toegepas is, word vandag nog gebruik, nog meer so gedurende die COVID-19-pandemie. Dit behels die toepassing van die basie praktyke van handewas en handhigiëne, die gestanddoening aan netheidstandaarde, die aanteken en interpretasie van inligting en om daaruit te leer, asook gesondheidsneigings, om net 'n paar te noem. Florence het in 1870 gesê dit gaan vir die wêreld 150 jaar neem om die tipe verpleegkunde wat sy in die vooruitsig gestel het, te sien realiseer. Miskien is dit nou met die sameloop van hierdie twee gebeure ook tyd om die kritieke en noodsaaklike rol van die verpleegkundige en die verpleegkundige beroep te beklemtoon

Namate ons ons pad deur die COVID-19-pandemie vind, glo ek word die WGO se mandaat om 2020 as die “Internasionale Jaar van die Verpleegkundige" te verklaar, al hoe meer diepgaande. Verpleegkundiges regoor die wêreld moet inderdaad vereer en gewaardeer word en dankbaarheid moet aan hulle getoon word vir die werk wat hulle doen. Hul deernis, vasbyt, moedigheid, eerbare eienskappe en diepe sin van toewyding om diegene wat aan hul sorg toevertrou is, te versorg en om bo hul eie omstandighede, weerloosheid, vrees en onsekerhede uit te styg, verdien om deur die WGO se afkondiging en selfs verder erken en gevier te word. Verpleegkundiges is per slot van rekening 'n lewensnoodsaaklike skakel in die gesondheidsberoep en om die verskaffing van gesondheidsorg te lewer.

*Prof Portia Jordan is die Uitvoerende Hoof van die Departement Verpleeg- en Verloskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Portia Jordan