Vier formidabele eerstejaarstudente

Sechaba Maleka, Siyamthanda Mtyeku, David Obagbuwa en Elliot Nogo​.

Hierdie jaar het die FGGW vier uitsonderlike studente verwelkom onder die 2020 inname van mediese studente. Hulle is David Obagbuwa, wat 15 jaar oud is, en in Maart 16 jaar oud word; Siyamthanda Mtyeku, wat sewe onderskeidings behaal het, alhoewel hy in 'n hut in 'n informele nedersetting saam met vier ander mense woon; Elliot Nogo, wat as 'n verpleër in die platteland van die Oos-Kaap gewerk het; en Sechaba Maleka, wat alreeds 'n PhD in Kerngeneeskunde (Radiobiologie) het.

Al vier die studente het van 'n jong ouderdom daarvan gedroom om geneeskunde te bestudeer, en elkeen van hulle het gesê dat toelating tot die Universiteit Stellenbosch 'n droom was wat bewaarheid is.

Toe hy gevra is hoe dit was om op 15 geneeskunde te studeer, het David gesê dit was "wonderlik", en dat hy mik om op ouderdom 21 sy graad te behaal. “Ek hoop dit gaan 'n rekord wees. Ek sal gelukkig voel om die houer daarvan te wees!”

David, wat afkomstig is van Lagos, Nigerië, het na Suid-Afrika getrek saam met sy gesin toe hy 11 jaar oud was. Hy was 'n leerder by die Kharwastan Sekondêre Skool en het in graad 9 ingegaan toe hy net 11 jaar oud was.

“Daar was 'n misverstand omtrent die graad waarin ek moes wees. My ouers het geweet dat ek reeds een jaar van hoërskoolopleiding voltooi het, so hulle het my in die tweede jaar van die hoërskool ingeskryf, maar ek moes eintlik in Graad 8 gewees het. Ek het die werk nie moeilik gevind nie en die skool het my toegelaat om te bly waar ek was. Die onderwysers was uitstekend – vriendelik, interaktief en hulpvaardig.”

Hy sê dat hy heeltemal gewoond is daaraan om "vriende te wees met mense wat drie of vier jaar ouer as ek is” – en dat hy heeltemal welkom voel op Stellenbosch. Sy gesin, wat steeds in Durban is, mis hom baie, en bel hom elke dag, het hy bygevoeg.

“Ek het al my kragte ingespan vir die matriek-eksamens, omdat ek na Stellenbosch wou kom, aangesien hulle 'n ongelooflike geskiedenis van mediese opleiding het.”

Toe hy oor sy langtermyn-planne gevra is, het David gesê hy hoop om 'n chirurg te word. “Ek besluit nog tussen hartchirurgie en neurochirurgie.

“My familie herinner my gereeld daaraan dat ek altyd mense wou help. Op die lang termyn wil ek dit op 'n groter skaal doen. Ek wil lewens red, mense gelukkig maak, en hulle laat glimlag. Hierdie is een manier waarop ek dit kan doen – en dit sal my ook gelukkig maak.”

David sê sy rolmodel, toe hy jonger was, was die beroemde Amerikaanse neurochirurg, Ben Carson. “Ek het 'n fliek oor hom gesien en sy boeke gelees. Hy het uit 'n arm agtergrond gekom en sy pad boontoe gewerk. Dit het my geïnspireer. ”

Siyamthanda, wat 'n 85-persent gemiddelde punt vir Matriek behaal het, en die top matriekleerling by Sinenjongo Hoërskool was, het gesê hy was verheug om in sy eerste jaar van geneeskunde by Stellenbosch te wees. “Dit het nog nie ingesink nie,” het hy gesê. “Dit is 'n ongelooflike en onbeskryflike gevoel om te weet dat ek hier uitgekom het. Dis die begin van 'n hele nuwe reis.”

Siyamthanda se ouers woon in Oos-Londen. Sy pa is 'n pensioenaris en sy ma is die broodwinner. Hy het by sy oorlede broer se weduwee in Joe Slovo Park informele nedersetting buite Milnerton gewoon in 'n hut wat naby 'n drinkplek geleë is.

Daar was verskeie finansiële uitdagings – party dae was 'n maaltyd van die skool se voedingskema die enigste kos van die dag.

Siyamthanda sê hy wou altyd 'n dokter wees, en het reeds van 'n jong ouderdom, belangstelling daarin getoon om mense te help. “In graad drie, toe my onderwyseres gevra het wat ek eendag wou word, het ek gesê ek wou 'n dokter word. Ek het nog altyd daarby gehou!

“Ek is ook deur my ma geïnspireer, wat as 'n verpleegster in Oos-Londen gewerk het vir byna  20 jaar. Ek het grootgeword in 'n hospitaal-omgewing. My ma het my as jong kind geleer watter medisynes vir watter siektes geneem moes word. Ons het as kinders nooit na die dokter toe gegaan nie.”

Toe hy gevra is hoe hy dit reggekry het om ten spyte van sy moeilike omstandighede so goed te doen, het hy die volgende te sê gehad: “Ek het dit op die ouderwetse manier gedoen – deur middel van harde werk. Ek het myself gedruk. Ek het studiemetodes uitgewerk. Ek het ook my skoolhoof gevra om my toe te laat om na ure by die skool te bly sodat ek 'n stil plek kon hê om in te studeer. Ek het op my eie gestudeer, asook met my tydgenote in 'n studiegroep saamgewerk. Dit het my ook baie gehelp om ander te onderrig.”

Siyamthanda se kort-termyn doelwitte vir die toekoms sluit in om akademies goed te vaar en om betrokke te raak by studente-aangeleenthede.

Op die lang termyn hoop hy om sy graad te kry en om dan te spesialiseer in neurologie, en dan om voort te gaan om chirurgie te doen.

“Ek sou ook graag betrokke wou raak by mediese navorsing, asook die ontwikkeling van entstowwe. Ek wil graag 'n hoë-profiel herkenbare dokter wees wat 'n bydrae lewer tot wêreldwye geneeskunde.” 

Elliot Nogo, (28), het gewerk by die afgeleë plattelandse Zithulele-hospitaal in die Oos-Kaap as 'n professionele verpleër voordat hy aanvaar is deur die FGGW.

Hy het grootgeword in die dorpie van Ncwanguba in die platteland van die Oos-Kaap. Nadat hy klaargemaak het met skool, het hy die Umthombo Youth Development-beurs ontvang om verpleegkunde te gaan studeer. Hy het 'n Baccalaureus-graad in Verpleegkunde voltooi by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Hy het gewerk as 'n verpleër by die Barkley-Oos-hospitaal en het toe na die Zithulele-hospitaal geskuif in 2018.

Sy kliniese bestuurder by die Zithulele-hospitaal, dr Benjamin Gaunt, het Elliot beskryf as 'n hardwerkende jong man met deursettingsvermoë, wat vakansiewerk by die hospitaal gedoen het tydens sy verplegingsopleiding, en wat altyd 'n dokter wou word.

“Ek wou huil toe ek hoor dat ek aanvaar is,” het hy gesê. “Ek het baie hieroor gebid. Ek is besonder opgewonde.”

Oor sy toekomstige doelwitte, het hy gesê dat hy beplan om neurochirurgie te bestudeer: “Ek sou baie graag my vaardighede na Zithulele wou terugneem.

“Die brein is die interessantste orgaan in die liggaam. As die brein nie daar is nie, werk niks anders nie. Ek het baie breinverwante gevalle gesien tydens my tyd by die hospitaal – soos byvoorbeeld aanvalle en traumatiese breinbeserings. Ons het nie veel neurochirurge in die Oos-Kaap nie. Dit was moeilik om aan gesinne die nuus oor te dra dat ons niks kon doen om hulle geliefdes te help nie.”

“Ek wil uiteindelik huis toe gaan en aan daardie mense die regte behandeling gee, in die taal (Xhosa) wat hulle die beste verstaan.”

Elliot het bygevoeg dat hy eerstehands die desperate behoefte aan dokters in landelike gebiede ervaar het.

“In Barkley-Oos was daar partykeer sneeu en geen netwerk nie – en ook geen dokters nie.

“Ek kan die behoefte sien aan dokters wat self uit die landelike gebiede afkomstig is… hulle praat dieselfde taal, maar hulle verstaan ook die mense wat hulle behandel op 'n dieper vlak – watter woorde om te gebruik om 'n siekte te beskryf, watter algemene opvattings mense in die gemeenskap oor sekere siektes mag hê, en onder watter omstandighede hulle behandeling sal ondergaan.

“Dit is my droom om die landelike gemeenskappe, wat my tuiste was, beter te bedien.”

Sechaba Maleka, 30, het reeds 'n PhD in Kerngeneeskunde (Radiobiologie) wat hy deur die Universiteit Stellenbosch voltooi het.

Hy sê om 'n eerstejaar mediese student by Stellenbosch te wees is "iets wat ek die afgelope tien jaar wou gedoen het. Ek voel nou dat ek dit bereik het.”

Sechaba, wat in Sharpeville grootgeword het, en grootgemaak is deur sy ouma, het 'n voorliefde vir geneeskunde ontwikkel toe hy na sy ouma omgesien het.

Na die dood van sy ouma, het hy getrek en by sy ouers gaan woon en die Retief Hoërskool in Harrismith in die Vrystaat bygewoon. Hy het toe 'n beurs ontvang om geneeskunde by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Sy matriekpunte was egter effens te laag om vir die mediese kursus aanvaar te word, toe het hy in plaas daarvan begin met 'n BSc.

“Elke jaar, sedert ek my BSc gekry, het ek aansoek gedoen vir medies. Ek het nooit die hoop laat vaar dat ek sou inkom nie!”

Toe hy gevra is hoekom hy geneeskunde as 'n loopbaan wou volg, het hy die volgende te sê gehad: “Die eerste rede is persoonlik: ek het lede van my familie verloor aan skielike en kort siektes. Ek het hulle sien doodgaan na een of twee dae. Ek het ook mense sien ly as gevolg van mediese nalatigheid.

“Ek voel dat verskeie mediese professionele personeel hulle passie vir geneeskunde verloor het en dat dit vir hulle oor geld gaan. Ek het baie mense al hoor sê dat hulle dokters wou word, omdat dit goed betaal, en nie omdat hulle 'n werklike roeping voel tot die beroep nie.

“My tweede rede is dat ek, noudat ek my PhD voltooi het, besef dat ons in Suid-Afrika 'n tekort het aan kliniese wetenskaplikes, soos die ontslape professor Bongani Mayosi. Ons het mense nodig wat werklik vaardig is in die kliniek, maar wanneer hulle 'n probleem sien, hulle kan terugkom na die laboratorium en daaroor skryf. Ons, as die kontinent van Afrika kan, en moet, ons eie oplossings vind vir die probleme van Afrika.”

Sechaba se lang-termyn doelwitte sluit in om 'n kliniese wetenskaplike te word wat "deel van Afrika-oplossings" is om die huidige mediese- en gesondheidsprobleme op te los wat bestaan op die kontinent van Afrika.

“Dit is nodig dat ons moet kyk na gesondheidsprobleme in die konteks van sosio-ekonomiese probleme waardeur ons omring word.”

Hy het gesê dat dit 'n lang-termyn doelwit is, buiten om 'n mediese dokter te word, om betrokke te bly by navorsing, opleiding en beleidmaking in die veld van gesondheidskwessies.

Sue Segar