Prof Peter Hesseling ontvang erkenning vir 'n leeftyd van diens

Prof Peter Hesseling (regs) ontvang 'n Lewenslange Prestasie-toekenning tydens 'n kongres van die Internasionale Vereniging van Pediatriese Onkologie.
Prof Peter Hesseling, voormalige professor van die Department Pediatrie en Kindergesondheid by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het onlangs die eerste persoon uit Afrika geword wat 'n Lewenslange Prestasie-toekenning van die Internasionale Vereniging van Pediatriese Onkologie (Society of Paediatric Oncology [SIOP]) ontvang het.
 
Hierdie toekenning erken die rol wat die FGGW gespeel het in die daarstelling van 'n nuwe basis in die veld van pediatriese onkologie in Afrika, het Hesseling gesê.
 
“Die Universiteit Stellenbosch (UU) het aan my 'n leeftyd van geleenthede gebied as 'n student, 'n dosent, 'n navorser en 'n bestuurder,” het die afgetrede veteraan van gesondheidsorg gesê. 
 
Hesseling het 'n lang en uitnemende loopbaan as pediatriese onkoloog gehad.
 
Ten spyte daarvan dat hy in 2004 afgetree het, het hy voortgegaan om die FGGW te dien op 'n ad-hoc basis.
 
“Daar bestaan geen goeie rede daarvoor om mense se passie af te skakel en om op te hou om die werk te doen wat jy geniet nie,” het hy gesê. Volgens hom behoort die voorgeskrewe aftree-ouderdom nie 'n faktor te wees nie.
 
Hy erken wel dat hy dit geniet om nie meer die stres en die verantwoordelikhede te hê wat onafwendbaar deel is van 'n senior akademiese posisie nie.
 
“Mens moet natuurlik self geleenthede skep om verdere betrokkenheid moontlik te maak,” voeg hy by.
 
In 2003 het Hesseling gereageer op 'n uitnodiging om te assisteer met die behandeling van Burkitt limfoom in 'n landelike sending-hospitaal in Kameroen. 
 
Sestien jaar later is daar 'n self-onderhoudende, volledige en ten volle befondsde kanker-program vir kinders met opgeleide plaaslike personeel en internasionale medewerkers by vier Baptiste sending-hospitale. Die vier behandelingsentrums toon werklik die vrugte van sy arbeid.
 
“Sedert my kinderjare het ek 'n belangstelling gehad in plante, diere en die behoeftes van mense.”
 
Volgens Hesseling, was een van sy vroeë rolmodelle 'n oom wat lewenslank 'n sendelingdokter was by 'n hospitaal in die Transkei.
 
Hesseling se loopbaan strek oor dekades. Dit sluit in die stigting van ʼn kinder-hematologie en -patologie-kliniek by die Tygerberg-hospitaal in 1974, sy aanstelling as voorsitter van Pediatrie en Kindergesondheid in 1987, die stigting van die Afrika-vasteland se tak van die Internasionale Vereniging van Pediatriese Onkologie 1987, en om as gasheer op te tree vir die bogenoemde vereniging in Stellenbosch in 1994. 
 
Hy meld ook die ontwikkeling van 'n lae-koste, effektiewe en veilige behandeling vir Afrika Burkitt limfoom in Malawi, Ghana en die Kameroen tussen 1996 en 2008 as 'n groot hoogtepunt.
 
Hesseling het sy PhD verwerf in 1983. Die titel daarvan was The epidemiology of Onyalai in the Kavango territory of Namibia.
 
Hierdie ondervinding het hom geleer hoe om verskillende Afrika kulture te respekteer, en hoe om kliniese navorsing in landelike dele van Afrika uit te voer, het hy gesê.
 
Buiten die SIOP Lewenslange Prestasie-toekenning in Kinderkanker in 2019, het Hesseling ook die Francie van Zijl-medalje (FGGW Akademiese Jaardag), die Frans Oettle-medalje (Suid-Afrikaanse Kankervereniging), die Paul Harris-toekenning (Rotary International), en 'n meriete-toekenning in Pediatriese Hematologie (die SA Kollege vir Geneeskunde) ontvang.
 
Hy is nou 'n lewenslange erelid van verskeie professionele verenigings. 
 
Hesseling is steeds aktief betrokke by navorsing en is die houer van 'n Nasionale Navorsingstigting-toekenning. 
 
Hierdie toekenning, asook voortdurende navorsingspublikasies, het aan hom nuwe geleenthede gebied vir internasionale wetenskaplike samewerking.
 
In reaksie op die vraag oor wat hom voortdryf, sê Hesseling: “Waarom doen ek dit? Wat is my werklike motiewe? 'n Mediese graad bied aan die houer daarvan unieke diverse loopbaangeleenthede.
 
“Jy wil dalk baie geld verdien, wetenskaplike navorsing doen, doseer, of bloot die mensdom dien. Die skrywer Robert Ardry het gesê: ‘Elke dokter vind sy plekkie in die son’.” 
 
Hy bied 'n woord van wysheid aan die volgende geslag van gesondheidsorg-baanbrekers: Wanneer studente hulle grade ontvang, behoort hulle 'n goeie basiese dokter te kan wees, maar hulle het beperkte blootstelling gehad aan die verskillende dissiplines in die veld van geneeskunde. 
 
“Ek dink dis baie waardevol om 'n paar jaar in 'n algemene hospitaal deur te bring om sodoende uit te vind wat jy die meeste van hou om te doen, voordat jy verdere studies oorweeg. Ek beveel 'n totale verandering van omgewing aan as die hospitaal waar jy jou opleiding ontvang het. 
 
“Jy sal die grootste impak op gesondheid hê as jy die gemeenskappe dien waar die behoefte die grootste is. Ek hoop julle vind almal julle plekkie in die son, en ek hoop dis in Afrika.”
Aydn Parrott