Matiestemme

Arnu Fourie

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Sommige van die grootste lesse was hoe om teleurstelling te hanteer en nie soseer op spesifieke uitkomste te fokus nie, maar eerder elke oomblik van die reis te waardeer en te geniet.”

Die Paralimpiese medaljewenner Arnu Fourie was in matriek toe sy lewe onherroeplik verander het – toe hy sy voet en sy droom om eendag vir die Springbokke uit te draf in ’n fratsongeluk verloor het.

Ná sy voet geamputeer is, kon hy nie by die Goue Leeus-rugbyunie aansluit soos hy beplan het nie. Hy het toe in 2004 vir ’n graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) geregistreer en uiteindelik sy B.Rek- en honneursgraad behaal.

Sy eerste jaar op kampus was ’n moeilike jaar. Hy was fisiek ongemaklik en het met sy prostese gesukkel. Hy het die US se Biokinetikasentrum begin besoek met die hoop dat hulle hom sou kon help om “behoorlik” te kon loop.

“Ek wou nie hê mense moes kon sien dat ek ‘n prostese het of mank loop nie. Daar was nie in daardie stadium enige gedagte om by sport betrokke te raak nie.”

Sy atletiekloopbaan het eers twee jaar later, in 2006, begin toe hy aan sy eerste wedloop deelgeneem het. Hy het ongeveer vier sekondes ná die ander deelnemers klaargemaak.

Vir Arnu, ‘n kranige en kompeterende sportman, was dit ‘n bitter pil om te sluk. Maar hy het besef – hy moes óf opgee of voluit gaan. Hy het in 2007 vir die eerste keer met ‘n lem gehardloop en aan sy eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.

“Ek het begin glo ek kan dit doen.”

Hy het sodanig verbeter dat hy in 2008 by die SA span vir die Paralimpiese Spele in Beijing ingesluit is. Toe hy saam met die res van die Suid-Afrikaanse span by die Olimpiese stadion in Beijing instap vir die openingseremonie, het hy besef: Dit was toe nooit sy plan B nie. Dit was altyd bedoel om sy plan A te wees. Vyf jaar na sy ongeluk het hy uiteindelik geweet: Hy is waar hy moet wees. Hy het 4de gekom in die 100m en 6de in die 200m maar die resultate was nie vir hom belangrik nie. Hy was geïnspireer en vol nuwe moed.

En vier jaar later is sy droom om langs sy spanmaats te staan en die nasionale lied te sing by die Paralimpiese Spele in Londen bewaarheid toe hy en sy 4x100m-aflosmaats hul goue medaljes op die podium in die Olimpiese stadion ontvang het. Hy het ook brons gewen in die 100m (T44).

Arnu het ná die Wêreldkampioenskap in 2017 uitgetree en werk nou voltyds vir Graham Power – dieselfde werkgewer wat dit vir hom moontlik gemaak het om ongereelde ure te werk terwyl hy nog geoefen en deelgeneem het. Hy is ook ‘n ambassadeur vir Ӧssur (’n prostese-handelsmerk) en is steeds betrokke by sport deur hul klinieke en geleenthede.

“Dit was ’n ongelooflike geleentheid om sport op ’n professionele vlak te beoefen en ek is dankbaar vir al die lesse wat ek kon leer. Sommige van die grootste lesse was hoe om teleurstelling te hanteer en nie soseer op spesifieke uitkomste te fokus nie, maar eerder elke oomblik van die reis te waardeer en te geniet.”

Arnu en sy vrou Carène woon in Stellenbosch met hul drie kinders: Nua (4), Louis (21 maande) en Cara (3 maande).

- Deur Deur Pia Nänny -